McGregor skud vere reg vir gedigtefees

McGregor skud vere reg vir vanjaar se gedigtefees. (Foto: Dani`s Photos)

McGregor naby Robertson in die Wes-Kaap is besig om vere reg te skud vir sy jaarlikse gedigtefees wat sedert 2013 aangebied word. Vanjaar se feestema is “Tuin van beminde” en dit vind van 19 tot 21 November plaas.

Gedigte in McGregor is ʼn hoogtepunt op dié provinsie se feeskalender met digters en poësieliefhebbers wat van heinde en ver hierheen reis vir ʼn naweek gevul met dig- en woordkuns.

Jane de Sousa, Gedigte in McGregor se feesbestuurder, sê hulle is opgewonde oor die nuwe formaat waarin die fees vanjaar aangebied word en hoop dat dit verder tot die intieme gevoel van die fees sal bydra.

“Omdat ons weens afsonderingsregulasies met minder lokale moet werk, het ons besluit om meer as een kunstenaar per aanbieding te gebruik. Op hierdie manier kan soveel moontlik digters steeds deel van die program wees.”

De Sousa sê die fees het oor die jare baie vriendskappe gevorm en daar is ʼn gevoel van samehorigheid in die unieke manier waarop die fees elke jaar aangebied word.

Meer as 80 digters en skrywers neem aan vanjaar se program deel en feesgangers kan uitsien na aanbiedings soos ʼn verskeidenheid van boekbekendstellings, waaronder Poetry in McGregor se 2020-bundel, oopmikrofoonsessies en Ons Klyntji se meertalige vertoning deur ʼn dinamiese span kreatiewe skrywers.

Gedigte in McGregor is ʼn hoogtepunt op Wes-Kaap se feeskalender. (Foto: Dani`s Photos)

Lara Kirsten, Kobus Moolman, Malika Ndlovu, Danie Marais, Churchil Naudé, Diana Ferrus, Susan Woodward, Ilze Olckers, Justin Fox, Patricia Schonstein, Dimakatso Sedite, Lynthia Julius, Nondwe Mpuma en Jacques Coetzee is van die opwindende digters op hierdie jaar se program.

Billy Kennedy, die eienaar van Temenos Retreat en stigter van die fees, sê hy word dikwels geïnspireer deur die entoesiasme en ondersteuning van almal wat hierby betrokke is.

“Dit voel of ons elke jaar familie terugverwelkom. Die sukses van die fees lê my na aan die hart, maar wat my nog meer aanspoor, is die gevoel van samesyn wat dit bied,” sê hy.

Volgens Kennedy is die digters – oud en jonk, bekend en nuut – almal ongelooflik talentvol en passievol oor hul werk. “Dit is ʼn naweek van sielskos en saamwees – daarom het ons op ‘Tuin van die Beminde’ vir die tema besluit.”

Ashley Dowds, een van die digters op vanjaar se program, is al vir baie jare betrokke by die McGregor-gedigtefees. Dowds sê dat dit deur en deur die moeite werd is om hierdie wonderlike naweek by te woon.

“Om na ʼn plek te reis waar poësie vir ʼn paar dae hoogty vier, het die potensiaal om mense se lewens aan te raak. Dit bied stof tot nadenke wat mense saam met hulle huis toe neem.”

Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Sien die volle program by www.poetryinmcgregor.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.