Mediese trust geskep vir uitvoerende kunstenaars

(Argieffoto: Unsplash/Gabriel Gurrola)

Anet Pienaar-Vosloo en Dewald van Breda het van hulle beste foto’s geskenk vir ʼn geldinsamelingsveldtog ten bate van uitvoerende kunstenaars wat geen inkomste het nie en dringend mediese hulp nodig het weens die Covid-19-pandemie.

Pienaar-Vosloo se gesogte foto’s van Frankryk en Van Breda se pragtige natuurfoto’s is beskikbaar vir aankope. Die kunstenaars het elkeen ʼn handjievol foto’s geskenk om verkoop te word ten bate van die Teatron-trust.

Die Teatron-trust is geskep deur Pieter de Vos en Jan Groenewald van Foxwood House in Johannesburg en vorm deel van ’n nie-winsgewende mediese trust onder voorsitterskap van dr. Susan Vosloo.

Die trust is geoormerk om uitvoerende kunstenaars wat mediese probleme van enige aard ervaar by te staan. Volgens De Vos was dit vir hom en Groenewald belangrik om hierdie trust te stig vir kunstenaars wat meestal van die hand na die mond leef en wat nou weens die pandemie finansieel swaar kry.

“’n Onlangse voorbeeld van ʼn uitvoerende kunstenaar wat ongelukkig in ʼn krisis gedompel is weens ʼn mediese toestand, is dié van Elize Cawood,” sê De Vos. Cawood het in Julie verlede jaar haar stryd teen kanker verloor. Sy was 68.

Een van Anet Pienaar-Vosloo se foto’s van Frankryk uit die Teatron-trust se katalogus.

Kort voor die inperking verlede jaar het ʼn groep Afrikaanse kunstenaars beplan om ʼn konsert ten bate van Cawood se mediese uitgawes op die planke te bring. Dié konsert het nie voortgegaan nie, maar kaartjiehouers wou nie terugbetalings aanvaar nie en die geld is vir Cawood se mediese uitgawes aangewend.

Verskeie ander inisiatiewe is ook van stapel gestuur om Cawood se familie finansieel by te staan.

De Vos sê meer as wat die Teatron-trust ʼn trust is vir kunstenaars om vir mediese behandeling te kan betaal, is dit ook ʼn bewusmakingsveldtog vir kunstenaars in finansiële nood.

“Kunstenaars se inkomste is uit die staanspoor nie besonder groot nie en hulle het dikwels nie die vermoë om ʼn neseier uit hulle wisselvallige beroep aanmekaar te sit nie.

“Ek werk dag in en uit saam met uitvoerende kunstenaars en dit is sedert Maart verlede jaar onstellend om te sien hoe die mat onder kunstenaars se voete uitgepluk is. Dit is nie asof hulle iets daaraan kan doen nie en hulle staan werklik magteloos,” sê De Vos.

De Vos sê die Teatron-fonds stel nie enige vereistes aan belanghebbendes nie en sal vertrouelinge in die vermaakbedryf, soos Sandra Prinsloo, help om begunstigdes te identifiseer aangesien daar nie ʼn gilde beskikbaar is nie.

“Die trust sal beskikbaar wees vir enige mediese toestand, van ʼn dringende tandartsafspraak tot ʼn ernstige siekte. Die doel van die trust is om kunstenaars in enige soort mediese krisis by te staan.”

Een van Dewald van Breda se natuurfoto’s in die Teatron-katalogus.

Hy sê hulle is dankbaar dat Vosloo haar trust oopgestel het om die Teatron-trust daarvan deel te kan maak.

“Sy is ʼn chirurg van topgehalte en ʼn knap vrou. Ons het volle vertroue in haar aangesien haar integriteit van hoogstaande gehalte is. Ons is dankbaar dat sy daartoe ingestem het dat die Teatron-trust se geld in haar bestaande trust gedompel word.”

Pienaar-Vosloo en Van Breda se foto’s word deur ʼn bekende drukker in Johannesburg gedruk. De Vos benadruk ook die gehalte van die fotografie.

“Anet het ʼn ongelooflike goeie oog vir fotografie en haar passie vir Frankryk is duidelik sigbaar in die wonderlike wêreldfoto’s wat sy neem. Dewald is ʼn verskriklike aangename mens en het dadelik ingestem om dieselfde hoeveelheid foto’s as Anet aan ons te skenk.”

Die katalogus en pryse vir die foto’s is beskikbaar op aanvraag per e-pos by [email protected] of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.