Meer as 1 miljoen maaltye help Wes-Kaapse plaaskinders

The Pepples Kitchen het al meer as 1 miljoen maaltye aan minderbevoorregtes verskaf (Foto: The Pebbles Project)

The Pebbles Kitchen, ’n afdeling van die Pebbles Project wat werk om die lewens van kinders in Wes-Kaapse plaasgemeenskappe te verbeter, het vandeesweek die mylpaal van een miljoen bediende etes deur sy noodvoedingskema bereik, en dít tydens die agt maande van afsondering.

Net meer as 91 ton groente, baie tonne ander bestanddele en heel belangrikste, ’n toegewyde en begeesterde span wat verligting aan duisende families bring, is ingespan om dié teiken te bereik.

Die organisasie het sedert April sy maaltye viervoudig vermeerder namate werkloosheid gestyg het en honger tydens die grendeltyd toegeneem het, sê Dominic Johnson-Allen, konsultant vir The Pebbles Kitchen op die Klein Joostenberg- plaas naby Stellenbosch.

The Pebbles Kitchen help plaasgemeenskappe in die Wes-Kaap met maaltye (Foto: The Pebbles Project)

“Voor die grendeltyd het ons reeds daagliks 1 300 maaltye aan minderbevoorregte kinders in die opvoedkundige sentrums binne die landbougemeenskappe van die Wes-Kaap voorsien, maar die behoefte het aansienlik gestyg as gevolg van die grendeltyd. Ons is in die hart van besige boerderye geleë waar baie van die werkers wat nie permanent in diens is nie onmiddellik hul werk verloor het en so ook hul weeklikse lone.

“Ons kon eenvoudig nie die nood van dié wat desperaat is vir kos ignoreer nie, en het daarom ons verspreidingspunte uitgebrei. Ons het ook nieregeringsorganisasies begin ondersteun wat gesukkel het om kos te voorsien aan diegene wat absoluut geen inkomste en geen kos het nie. So is ons kombuis in ’n maaltydvoorsiener vir duisende mense verander.”

The Pebbles Project wat in 2004 gestig is, verskaf ondersteuning en ander dienste in opvoedkunde, gesondheidsorg, voeding, gemeenskapsdienste en maatskaplike dienste aan ongeveer 1 400 kinders in die omgewing van Stellenbosch, Somerset-Wes, Wellington, Citrusdal en die Hemel-en-Aarde-vallei naby Hermanus. Aangesien die landboubedryf een van dié is wat die hardste getref is deur die grendeltyd, het die span sy uitreikaksie en steun verskerp.

“Die grendeltyd was vir ons opwindend, uitdagend, pret, hartroerend en uitputtend. Ek is mal daaroor om met my span te werk en inspirerende mense te ontmoet, almal met ’n gemeenskaplike doelwit,” sê Johnson-Allen.

Kospakkies word gepak om versprei te word (Foto: The Pebbles Project)

Vir hom is die een ding wat uitstaan oor hierdie projek mense se vrygewigheid met hulle geld, tyd en kos.

“Dis ongelooflik. Ons volgende uitdaging is om maniere te vind om hierdie vrygewigheid vas te vang om volhoubare oplossings vir die toekoms te skep.”

Hoewel die ekonomie stadig besig is om terug te keer na ’n sekere vlak van produktiwiteit onder vlak 1 van afsondering, sê Johnson-Allen dat die behoefte steeds baie groter is as wat enigiemand verwag het.

“As gevolg hiervan gaan ons voort om maaltye vir meer mense as net ons Pebbles Project-kinders en -families te voorsien, en ons is op soek na nuwe langtermyn kliënte, veral vanuit die opvoedkundige sektor.

“Met ’n spyskaart wat begin by slegs R5 per maaltyd wil ons graag soveel honger magies as moontlik voorsien van gesonde, tuisgekookte kos.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.