Meer as 2 000 komberse om koue hok te slaan

Foto: Megan Markham/Unsplash.com

Solidariteit Helpende Hand se tak in Pretoria-Noord het hande met ʼn groot groep barmhartige motorfietsryers gevat om seker te maak dat behoeftige mense nie dié komende winter koud gaan slaap nie.

Corrie van der Merwe, Helpende Hand se takvoorsitter van Pretoria-Noord, sê tussen 400 en 500 motorfietsryers van die Bomb Shelter Bikers gaan op Sondag 3 Mei by The Willow Tree in Pretoria-Noord byeenkom om komberse aan dié organisasie te oorhandig as deel van die tak se winterprojek. Die doelwit vir 2020 is om 2 000 komberse in te samel.

“Die projek word net voor die winter onderneem sodat die komberse so na as moontlik aan die koue maande met uitreikprojekte uitgedeel kan word. Dit is wonderlik om te sien dat soveel motorfietsryers hulle harte vir minderbevoorregte mense oopmaak,” het Van der Merwe gesê.

Dit is die sewende jaar wat dié betrokke motorfietsryerklub, wat hulself as ʼn hospitaal vir sondaars beskryf, hulle kombers-projek aanbied. In 2018 het die motorfietsryers reeds meer as ʼn 1 500 weduwees en weeskinders met ʼn kombers in die winter gehelp en sedertdien het die projek van krag tot krag gegaan.

Vanjaar wil die klub selfs nog groter gaan en het daarom hande met Helpende Hand se tak in die hoofstad gevat om selfs nog meer mense met dié projek te bereik.

Die publiek kan die Sondagoggend saam met Helpende Hand en die Bomb Shelter Bikers deurbring. Hekke open om 08:30 en die verrigtinge duur tot 14:00.

  • Lesers wat die projek wil ondersteun, kan ʼn e-pos stuur aan [email protected] vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.