Deur Elize Perrin
Honderd vyf en veertig jaar. Dit is hoe lank die Victoria West Messenger, ’n gemeenskapskoerant vir Victoria-Wes en omgewing, mense en gebeure se stories vertel.
Eerste woorde
Die eerste woorde op papier het op 1 Julie 1876 die ontstaan van die destydse Victoria West Messenger, ingelui. Op die voorblad het die opskrif: “Programma van de Victoria West Wedrennen 1876”, omring deur ’n aantal advertensies, gepryk.
Hierdie eerste uitgawe is onder die wakende oog van redakteur Christiaan W. Zinn, uitgegee. ’n Honderd jaar later, in 1976, het ’n Eeufees-uitgawe verskyn met mevrou A.M. Esterhuizen in die redakteurstoel.
Karoo Drukpers, die destydse uitgewer van die Messenger, was oorspronklik in ’n dubbelverdiepinggebou in Kerkstraat gesetel. ’n Prokureur van die dorp wat ook by die Messenger betrokke was, Bernie Kempen, het later jare ’n nuwe gebou laat verrys.
Die huidige redakteur en uitgewer, Frans Hugo, se verbintenis met die Messenger strek reeds vanaf die vyftigerjare toe hy vir ’n tyd daar werksaam was.
“In daardie tyd het ons, ek en Bernie, Richmond toe gery waar Bernie ’n prokureurstak gehad het. Ons het ’n koerant vir die dorp gestig met die naam Richmond Era. Dit is ook deur Karoo Drukpers uitgegee,” vertel Hugo. Bernie Kempen was destyds ook voorsitter van Karoo Drukpers.
“Daardie tyd, amper soos nou, was ek taamlik aggressief-Afrikaans en het ek die koerant se naam na die Victoria-Wes Nuusbode verander sonder om eers van die base te raadpleeg,” sê Hugo.
Die eerste uitgawe van die Nuusbode het op 24 Junie 1955 die lig gesien. Victoria-West Messenger het steeds (in kleiner letters) onder die nuwe naam verskyn. Op 10 September 1965 was die Nuusbode se laaste verskyning en is slegs die oorspronklike naam weer gebruik.
Drukwerk vir die koerant het tot in 1993 in Victoria-Wes by Karoo Drukpers plaasgevind. ’n Aantal set-, druk- en stikmasjiene, asook laaie vol lettertipes, die stille getuienis van daardie era. ’n Tafel vol foto- en reklameblokke skilder ’n prentjie van vroeër jare se dorpsaktiwiteite. Selfs die bekende Johan Stemmet glimlag uit een van die fotoblokke vir jou.
Verandering
Gedurende 1993 het verandering by die Messenger ingetree. In hierdie stadium was Andries Landman, ’n prokureur en burgemeester van die dorp, ook voorsitter van Karoo Drukpers.
“Ons regsfirma was betrokke by Karoo Drukpers as onbetaalde gemeenskapsdiens,” vertel hy. Plattelandse koerante was genoodsaak om hul deure te sluit as gevolg van dinge soos televisie en rekenaartegnologie. Vakmanne wou ook nie meer op die platteland werk nie.”
Die Messenger kon egter oor die jare steeds voortgaan om sy nuus te versprei. Frans Hugo, huidige redakteur, het in 1980 die Noordwester Uitgewers in Calvinia gekoop wat ’n soortgelyke gemeenskapskoerant, Die Noordwester, ingesluit het. In 1993 het hy ook die eienaar van die Messenger geword.
Volgens Hugo het hy ná ’n ontmoeting met Shorty MacIntosh wat in daardie stadium by die Messenger werksaam was en die drukkery hanteer het, verneem van die uitdagings waarmee die koerant te doen gehad het. Onderhandelings met Andries Landman het daarna begin. Die eerste Messenger onder Hugo se redakteurskap het op 5 Februarie 1993 verskyn.
“Ons voorwaarde was dat die Messenger steeds onder sy eie banier moes verskyn met ’n groot deel plaaslike nuus, sê Landman. “Ons twee vakmanne het aangebly en kon vir hul eie rekening ander drukwerk doen.”
Hugo vertel verder.
“Hierna het ek vir Shorty MacIntosh en Piet de Wet, die vakmanne, betaal en ook die gebou en toerusting gehuur. In daardie tyd het ons die koerant in Calvinia saamgestel en hulle het die drukwerk op Victoria-Wes gedoen en die koerant versprei.”
Piet de Wet woon steeds in die dorp. MacIntosh, wat meer as dertig jaar by die Messenger werksaam was, is in Desember 2020 oorlede.
Drie gesigte
Nadat Frans Hugo die eienaar van Noordwester Uitgewers geword het, het hy ook Ons Kontrei, gemeenskapskoerant van Carnarvon, gekoop en by Die Noordwester ingelyf. In 1996 het hy die Oewernuus begin. Genoemde twee koerante, asook die Messenger, word tans in Calvinia by Noordwester Uitgewers gedruk.
Die Noordwester word in Calvinia, Williston, Carnarvon, Loeriesfontein, Nieuwoudtville, Sutherland en Fraserburg versprei. Victoria-Wes, Vosburg, Loxton en Richmond se stories word in die Messenger vertel en die Oewernuus hou Prieska, Marydale en Van Niekerkshoop op hoogte van sake.
Alhoewel van die nuus in die koerante ooreenstem, het elkeen sy eie voorblad. Inwoners van die onderskeie dorpe se doen en late, asook gemeenskapsaktiwiteite beslaan ’n groterige deel van die koerant.
Bladuitleg en die samestelling van die koerant word steeds per hand gedoen. Die finale produk word weekliks deur Hugo self afgelewer; ’n roete wat donkernag begin en oor eenduisend tweehonderd kilometer strek.
Baie mense wonder waarom Hugo, wat reeds meer as agt dekades op aarde gevier het, nie aftree en gaan rus nie?
“Wat sal dan van die affêre word?” wil hy op sy beurt weet.
Dit wil voorkom asof die Messenger steeds die laaste woord inkry en die omgewing se stories nog ver van klaar vertel is.