Meer as net ’n skoen

Chantelle Marx. (Foto: Verskaf)

Deur Chantelle Marx

Tekkies en toks… Twee eenvoudige artikels wat ’n wêreldse verskil vir ’n kind kan maak.

Terwyl ek so oor die projek op Maroela Media lees, kan ek nie help om terug te dink aan Melinda* en Jaco* nie. Melinda, my mooi, fyn vriendin van graad 4 en Jaco, die talentvolle slim seun wie se enkelmamma berge sou versit om vir hom nét die beste te gee, maar ongelukkig was iets so eenvoudig soos rugbytokse vir haar ’n berg wat sy nie met haar klein salaris as sekretaresse kon uitklim nie. Sy wou die beste gee, want sy het geweet waartoe hy in staat is, maar sy kon eenvoudig nie.

Ek onthou nog die Maandagoggend toe ons in die rye moes staan op ’n koue winteroggend in Noord-Wes. Melinda staan langs my, haar voetjies bloedrooi van die koue. Sy vryf haar een voetjie kort-kort bo-oor die ander om hulle warm te probeer hou.

Ek vra: “Melinda waar is jou skoene? Dis byna -1 grade.” Melinda antwoord heel verleë: “Dis amper pay day. My mamma het gesê ek moet net so rukkie wag, dan sal sy vir my kan koop.”

My kinderhart wou haar so graag help, maar wat kan mens doen? As ek daardie oggend net my kouse vir haar kon gee sou ek, maar dis skoolrëels… Jy moet skoolskoene dra.

Argieffoto (Foto: Tien-seven / Pixabay)

Vandag, self ’n mamma, wil my hart breek as ek daaraan dink. Hoe seer moet ’n ma se hart nie wees om haar kind kaalvoet in daardie ysige weer skool toe te stuur met die wete dat sy koud kry. Dis tog in elke mamma se DNS om jou kind warm te hou en te versorg. Ek het Melinda se ma geken en ek weet daardie oggend moes net so swaar vir haar soos vir Melinda gewees het. Daar staan sy toe, die enigste kind in die ry sonder skoene.

Jaco, aan die ander kant, was ’n uitblinker. Hy was vandat ek kon onthou altyd in die top-10. ’n Uitblinker en voorbeeld op alle terreine. Veral sport. Een middag, ná hokkie-oefening, gaan sit ons en kyk hoe die A-span rugby oefen. Skielik hardloop Jaco van die veld af en gooi sy sak dat dit meters ver trek. Die volgende dag in die wiskundeperiode vra ek waarom hy so kwaad was.

Jaco antwoord toe: “Ek is nie waad nie, ek is gefrustreerd. Ek kan eenvoudig nie uitrig wat die ander met tokse kan uitrig nie en ek is so moeg daarvoor dat almal weet ons sukkel. Ek het vir die meneer gesê my tokse is stukkend en ek sal nog nuwes kry.”

Soos ek sy hart ken, het hy waarskynlik ook te skuldig gevoel om vir sy ma wat reeds soveel finansiële druk op haar gehad het, te vra vir nuwe tokse.

Ek dink vandag aan hierdie kinders, maar ek weet dat daar honderde Melinda’s en Jaco’s daarbuite is.

Dit gaan oor meer as net ’n skoen. Dit gaan oor ’n kind se hart, ’n kind se potensiaal en ’n kind se selfvertroue.

  • Chantelle Marx is die digitale mediabeampte vir Solidariteit Helpende Hand. Vir meer inligting besoek www.tekkiesentoks.co.za

* Skuilname

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Ek onthou as 14 jarige kind hoe opgewonde ek was toe my Ma my eerste paar All Stars gekoop het, en ek kon spog saam met die net soe bietjie meer ryk as ons kinders, in my kring. Ek het hulle gedra totdat hulle vrot van my voete afgeval het. Ek dra vandag nog All Stars want hulle is soe gemaklik. Maak ‘n arm kind gelukkig en sit ‘n paar All Stars aan hy/sy se voete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.