Meer as R800 000 ingesamel ná skooltragedie

Charmaine Steynvaart op Jacaranda FM (Foto:  Alfred Stoffels)

Terwyl Suid-Afrika steeds steier onder die skok van die tragedie wat hom Vrydag by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark afgespeel het, het Jacaranda FM se Good Morning Angels ingespring om in ʼn japtrap R865 000 in te samel om slagoffers van dié voorval by te staan.

Vier leerders van die skool is dood en minstens 20 kinders beseer nadat die betonvloer van ʼn  loopbrug by die skool ingegee het. Verskeie leerders word steeds in hospitale in Gauteng behandel nadat hulle ernstige beserings opgedoen het.

Twee van dié kinders, Shamoné Steynvaart (14) en Milindi Weber (17), het ernstige rugbeserings opgedoen. Shamoné is tans in die waakeenheid by Wilgers Hospitaal, maar het onlangs vasgestel dat sy verlam is en waarskynlik die res van haar lewe in ’n rolstoel sal wees.

JacarandaFM se Martin Bester het vanoggend met Shamoné se ma, Charmaine Steynvaart, gepraat oor hoe dié nuus hul lewe handomkeer verander het.

“Die huis moet verbou en verbreek word en rolstoel-opritte moet gebou word. Alles moet vir haar gemaklik wees om in ’n rolstoel te wees. Die hele huis moet verander word sodat sy gemaklik kan wees,” het Steynvaart gesê.

Die toneel by die Hoërskool Driehoek. Foto: Verskaf

Radio Raps, oftewel Rikus de Beer, het op die program R10 000 aan Charmaine geskenk om haar te help met die verandering wat sy nou aan hul huis moet aanbring. ʼn Verdere R200 000 is deur ʼn anonieme inbeller geskenk aan die Steynvaart-gesin om te help om aan Shamoné se nuwe behoeftes te voldoen.

Hoërskool Waterkloof se skoolhoof, Chris Denysschen, het ook R65 000 aan Hoërskool Driehoek geskenk.

“Jis, ou maat, ek weet nie wat om te sê nie,” het Denysschen aan Hein Knoetze, die hoof van Hoërskool Driehoek, gesê.

“Ons dink aan julle, ons harte is seer. Nou is ons nie meer verskillende skole nie, nou is ons een. Ons wil alles in ons gemeenskap doen om julle te ondersteun en te help. Dit [die skenking] is maar ʼn druppel in die emmer, maar weet net julle is in ons gebede,” het hy gesê.

Denysschen het ook gesê dat dié R65 000 ingesamel is deur die kinders van Hoërskool Waterkloof sélf en dat dit hulle eie inisiatief was.

Verder het Wimpy Suid-Afrika ook R100 000 vir Hoërskool Driehoek bygedra, en dieselfde anonieme skenker wat vir Steynvaart geld geskenk het, het ook R500 000 vir die skool geskenk.

“Dit is ʼn fenomenale storie,” het Jacaranda FM in ʼn verklaring gesê. “Die span het luisteraars gevra om te help, en die terugvoer was groter as wat ons ooit kon verwag.”

Vir meer inligting of om skenkings te maak, besoek JacarandaFM se Good Morning Angels hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Amelda Ferreira ·

Met elke berig wat oor hierdie tragedie gaan huil ek weer en harder! Ek kyk na my 17 jarige seun en ek sien Royden se foto en my hart huil!!! Maar ons land en ons mense het net weereens bewys wat in ons is. Deernis, geloof, omgee, liefde……

Bernadette van Niekerk ·

Amelda Ferraira AMEN! Ek is saam elke persoon wat deur tragedie geraak is, stukkend! Ek druk elke oomblik my kind harder tot hy sê ‘mamma dis nou genoeg’, dan sluk ek ‘n paar keer my trane weg en dink aan die ouers wat hulle kinders verloor het. Dis so hartseer, maar weereens besef daar is nog goed in ons wreede wêreld. Ons dien ‘n God van liefde en Hy sal almal hierdeur dra en die nodige krag voorsien om weer op te staan.

MarieM ·

Ongelukkig word al hierdie mooi goed ook versuur deur mense wat nogsteeds teen kleur vaskyk. Een persoon het kommentaar gelewer op Jacaranda FB blad dat hulle slegs wit kinder/skole help. What a joke….. hulle het al hoeveel anders kleurige skole ook gehelp.

Santie ·

Dis met trane in my oë wat ek lees van die welwillendheid van mense wat Driehoek skool, die beseerdes en die oorledenes se families in nood bystaan. Dit maak my trots om ‘n Suid Afrikaner te wees. Ons gee om vir mekaar. Dit hoor ons gerééld op Good Morning Angels en lees in die koerante hiervan. Mag die Here dit waarmee julle ander seën, 100- voudig na julle toe terugkom.

Rene scheepers ·

Trots Suid Afrikaner vandag. Soveel liefde deernis en omgee. Dankie vir elkeen wat n donasie gemaak het

Lizelda ·

Ja, nee, nes ek dink daar is nie hoop vir ons land en sy mense nie dan word die teendeel bewys. Baie dankie aan GMA en almal wat bygedra het. H/S Waterkloof ek hoop baie ander skole volg julle voetspore. Vir die eerste keer het Martin van Jakaranda nie woorde gehad nie. Tot hy was stomgeslaan. Sterkte aan almal wat hierdeur geraak is…

Sommer net ·

Dit wys maar net weer – ten spyte van mense wat hierdie n rasse aangeleentheid wil maak, sal mense saam staan. Saam staan is nie net vir wit of pienk of swart nie, want afgesien van die blanke kinders wat beseer is, is daar anderskleurige kinders ook wat beseer is. Hierdie hulp gaan vir ALMAL! Vandag is ek net weer n trotse Klofie ouer…. trots dat ons kinders nood sien en n verskil wil maak…. my hart is seer vir elke kind en ouer wie se lewe handomkeer verander het agv die ongeluk, mens kan nie net onaangeraak bly nie.

Riets ·

Ek is stomgeslaan en spraakloos .. dankie Here vir al die Genade, saamstaan, hulp en Gebede!

Johan H. ·

Pragtig Man !! Gebruik die geld vir wat dit bedoel is, nie om die skool te herstel nie,, Dis die staat se plig! Dink ek!

Ronel ·

Daar is n konsert ook gereëlnom te help met fondse. Ongelukkig kan ek dit nie maak nie, maar die geld wat aan die kaartjies sou spandeer, het ek n donasie gemaak. So dis nie baie nie, maar ek glo elke druppeltjie help. Sterkte aan elke ouer en elke leerling. Elke onderwyser en skoolhoof van Hoekies. Oud Valie hier. (Overvaal)

Liezl ·

Sies vir jou, Smurfie. Dis klaar gegee. Het jy dalk jou hand oopgemaak om te gee?

smurfie ·

Liezl, ek het dit glad ni lelik bedoel nie.
Ekt al self in die verlede help geld insamel vir mense, en dan kom daar mense wat geld belowe. En dit dan nooit gee nie. Die teleurstelling is dan groot en n mens verloor hoop.
En ja, ek het n geldjie gegee vir di skool. As jy nou moet weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.