
Almal het ‘n gunsteling Afrikaanse liedjie – daardie één liedjie wat jy in jou slaap kan sing en wat jy oor en oor kan luister, sonder om moeg te word daarvoor.
Maroela Media is op soek na die liedjie wat die groot gunsteling van die Afrikaanssprekende gemeenskap is. Dié liedjie sal die titel Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye ontvang. Boonop kan mense wat help om dié liedjie te kies, ‘n bootreis vir twee en talle ander pryse wen*. Die veldtog word moontlik gemaak deur Virseker en kykNET.
Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye skop op Saterdag, 27 Julie om 21:00 af met ‘n amptelike bekendstelling op die kykNET-musiekprogram Jukebox. Jy het aanvanklik die geleentheid om jou gunstelingliedjies te nomineer, en daarna kan jy in verskeie uitdunrondtes vir jou gunstelingliedjie stem, tot daar net een liedjie oorbly wat met die titel sal wegstap.
Een gelukkige deelnemer wat sy of haar stem uitbring, sal ‘n bootreis vir twee op die MSC Opera saam met die span van kykNET Jukebox en verskeie bekende Afrikaanse kunstenaars wen. Talle ander pryse, soos iPods, CD’s, boeke en geskenkpakke kan ook gewen word*.
Dwarsdeur die veldtog kan jy aan algemene musiekkennis-speletjies op die webblad deelneem, met nóg lekker pryse soos midweke by ATKV-vakansieoorde, FAK-sangbundels en geskenkpakke wat gewen kan word.
Hoe werk die veldtog?
Fase 1, Nominasiefase: 27 Julie tot 18 Augustus om middernag
Kom nomineer jou gunsteling Afrikaanse liedjies op een van twee maniere:
- Stuur ‘n SMS met die woord “Virseker” en die titel van jou gunsteling liedjie na 48052; of
- Besoek www.grootsteliedjie.co.za en volg die stappe om jou gunsteling liedjies te nomineer.
Jy kan soveel liedjies nomineer soos jy wil.
Fase 2, Stem vir die top 25: 24 Augustus tot 8 September om middernag
Die paneel beoordelaars, bestaande uit bekendes soos Johan van Rensburg, Tinus Esterhuizen en Anthony (Speedo) Wilson, kies 50 liedjies wat die meeste nominasies ontvang het. Die liedjies word ingedeel in vyf kategorieë, naamlik Tydlose Treffers, Tradisioneel, Raserig, Populêr en Kinderliedjies – tien liedjies per kategorie. Vanaf 25 Augustus kan jy vir jou gunstelinge uit die 50 liedjies kom stem by www.grootsteliedjie.co.za.
Fase 3, Stem vir die top 5: 14 tot 29 September om middernag
Uit die stemme wat in die eerste stemfase ontvang is, word die top 25 liedjies – vyf per kategorie – aangewys. Vanaf 14 September kan jy vir jou gunstelinge uit dié 25 liedjies kom stem, sodat ‘n kategoriewenner in elk van die vyf kategorieë aangewys kan word.
Fase 4, Stem vir jou gunsteling liedjie: 5 tot 20 Oktober om middernag
Teen dié tyd raak die kompetisie fel! Op 5 Oktober word die vyf kategoriewenners in die kategorieë Tradisioneel, Tydlose Treffers, Populêr, Raserig en Kinderliedjies aangewys. Dié vyf liedjies ding mee om die groot titel. Jy kan nou weer kom stem; hierdie keer vir die liedjie wat jy reken met die titel Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye moet wegstap.
Aankondiging van wenner: 26 Oktober
Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye word op Saterdag, 26 Oktober om 21:00 regstreeks op kykNET Jukebox aangekondig. Ons maak ook bekend wie die wenner is van die groot prys – ‘n luukse vierdag-bootreis vir twee op die MSC Symphony na die Portugese eilande, ter waarde van R15 000. Moet dit nie misloop nie!
Ken en Wen-speletjie
Kom toets jou musiekkennis deur die Ken en Wen-speletjie op die Grootste Liedjie-webwerf te speel. Die speletjie vra vir jou vyf musiekvrae, soos bekende Afrikaanse televisiereekse wat jy by hul kenwysies moet pas. Indien jy die vyf musiekvrae reg beantwoord, kry jy ‘n inskrywing om in aanmerking te kom vir die weeklikse speletjie-pryse soos Ipods, FAK-sangbundels, boeke en CD’s. As jy wil, kan jy weer speel met vyf nuwe vrae.
Vennote
Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog word aangebied deur Maroela Media. Die volgende vennote is aan boord:
- Hoofborge: kykNET en Virseker
- Ander borge en vennote: eNuus, ATKV, die FAK, Jukebox en Radio Pretoria
Vir meer inligting
Alle medianavrae kan gerig word aan:
- Susan Lombaard (Bestuurder: Maroela Media)
E-pos: [email protected] - Giep van Zyl (Projekbestuurder)
E-pos: [email protected]
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
21 Kommentare
Kan nie wag vir die kompetisie om te begin nie. Sal graag wil sien watter liedjie gaan wen.
Fantastiese kompitisie
Kan nie dink dat ‘n ‘raserige liedjie’ kan wen nie.
Dit gaan Groots wees
LIEFLING VAN GE KORSTEN IS HEL GROOOOOOOOOOOOOOOT