Meeste inskrywings nóg vir Mej. SA 2018 verwag

Demi-Leigh se gala-uitrusting (Foto: Facebook)

Die ganse Suid-Afrika is só begeester deur Demi-Leigh Nel-Peters se Mej. Heelal-kroning, dat die bestuur van dié kompetisie ʼn rekordtal inskrywings vir die Mej. SA 2018-skoonheidskompetisie verwag.

Die organiseerders van dié kompetisie het Donderdag in ʼn verklaring gesê inskrywings vir volgende jaar se kompetisie stroom in nadat Nel-Peters verlede week by The Axis-teater in Las Vegas in die VSA as Mej. Heelal gekroon is.

Claudia Henkel, ʼn voormalige Mej. Suid-Afrika en reklamebestuurder vir Sun International, sê dié organisasie is verheug dat Suid-Afrika in slegs drie jaar twee internasionale titels kon verower.

Henkel meen dít is waarskynlik waarom inskrywings vir die 2018-kompetisie reeds instroom. “2017 was ʼn uitsonderlike jaar vir die Mej. SA-handelsmerk en volgende jaar beloof om ewe opwindend te wees. Ons is verheug oor wat ons die afgelope drie jaar bereik het. Die span agter Mej. SA is nou meer as ooit passievol, gemotiveerd en gretig om 2018 aan te pak,” sê sy.

Henkel sê die organiseerders het tesame met sy hoofborg, Cell C, onderneem om die Mej. SA-skoonheidskompetisie weer ʼn gesogte titel te maak waarop Suid-Afrikaners kan trots wees. ʼn Gedeelte van dié veldtog was om die boodskap duidelik oor te dra dat die kompetisie nie bloot nét oor skoonheid gaan nie, maar ook daartoe bydra om jong vroue te bemagtig en hulle te help om hul drome te bereik.

Die registrasie vir diegene wat in 2018 aan die kompetisie wil deelneem, het vroeër vandeesmaand geopen. Vroue wat inskryf, moet die dokument wat hulle ná afloop van registrasie ontvang byderhand hou wanneer die streekkompetisie tydens die landwye padvertonings sal plaasvind.

Dié vertonings word volgende jaar op 24 en 25 Februarie in Durban gehou, op 3 en 4 Maart in Port Elizabeth, op 17 en 18 Maart in Kaapstad en op 7 en 8 April in Johannesburg. Deelnemers sal aan twee rondes deelneem en 12 finaliste sal op 3 Mei 2018 bekend gemaak word. Deelnemers moet tussen 20 en 27 jaar oud wees.

Mej. SA 2018 sal op 27 Mei by Time Square Sun Arena in Pretoria gekroon word. Die wenner sal weer pryse ter waarde van meer as R2 miljoen wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.