Meisie (12) wil kinders met Bybels help

Shania-Lee wil kinders help deur hulle van die Bybel te leer (Foto: Verskaf)

Jong kinders se toegang tot die Bybel en ʼn verhouding met die Here lê vir Shania-Lee Mayoss (12) na aan die hart en daarom het sy besluit om ʼn projek van stapel te stuur om meer kinders in dié opsig te help.

Shania-Lee van Amanzimtoti in KwaZulu-Natal het al van kleins af ʼn passie vir Christenskap en om kinders te help. Haar ma het jare gelede ʼn huis van veiligheid gehad waar hulle kinders in noodgehelp het en sy het grootgeword met haar pa wat vir haar Bybelstories lees en haar oor die Here vertel.

“Dis is ʼn saak wat ek voel die Here op my hart geplaas het. Daar is so baie kinders wat in kinderhuise is wat sonder die Here leef. Ek het net gevoel ek móét iets doen. Ek het vir my ma en my pa gevra dat hulle my moet help en ek het my kerk gevra om ook Bybels in te samel,” het Shania-Lee aan Maroela Media gesê.

Shania-Lee het gesê sy het tot dusver 62 Bybels aan kinders uitgedeel. Sy en haar ma maak enige Bybel wat effens verwaarloos is reg en hulle neem dit dan na kinderhuise. Hulle leer ook daar kinders oor die Bybel.

“Maak nie saak hoe die Bybel lyk nie, as dit net leesbaar is, sal ons dit kan gebruik. Die Kinderbybels is so lekker om mee te werk want hulle het prentjies en maak dit makliker vir kinders om te verstaan. Ek bring ook tyd saam met die kinders deur en ek lees vir hulle stories uit die Bybel en ek verduidelik vir hulle wie die Here is,” het sy gesê.

Shania-Lee het gesê baie van die kinders wat sy teëkom weet nie wie die Here is nie, en sy wil hê hulle moet Hom leer ken.

“Ons verduidelik vir hulle dat hy die Vader is, dat hy jou Pa is en dat hy lief vir hulle is – nes hulle is. En dit is so lekker, want hierdie kinders is so honger vir liefde. Hulle soek iemand wat vir hulle lief kan wees, en ons gee vir hulle dit. Ons verduidelik vir hulle dat die Here lief is vir hulle, maak nie saak wat nie. “

Sy het ook gesê dat sy hoop dié projek ʼn impak op die groter prentjie van die kinders se lewe sal hê.

“Daar is so baie slegte nuus in die koerante, van kinders wat klippe teen karre gooi en skole afbrand, maar eintlik het die kinders net baie hartseer en pyn in hul harte, want hulle ken nie vir Jesus nie en hulle weet nie of iemand hulle lief het nie. Ek wil hulle harte weer vol maak en hulle weer passievol maak,” het sy gesê.

Shania-Lee se wens is dat die kinders se lewens verander word deur die klein geskenk van ʼn Bybel wat sy vir hulle kan gee.

“Ek hoop hulle lees dit elke aand, en deur die dag, en net wanneer hulle wil. Ek hoop hulle leer die Here ken in hul toekoms en dat dit hulle sal help om die regte pad te loop. Ek hoop dat hulle na die Here sal kan opkyk en kan sê: ‘Sjoe, ek het Pa wat lief vir my net soos wat ek is’,” het sy gesê.

Vir enige navrae of skenkings bel Shania-Lee se ma, Thea, by 079 699 1500.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sanet ·

Wat ‘n goeie “goed voel” storie!! Hoekom is hierdie nie een van die hoof artikels nie?
Ons kan almal doen met ‘n bietjie positiewe nuus as al die moord & ander misdaad stories.

Karien ·

Pragtig van haar. Wens dit het in elke land so gewerk dat mens net Bybels kan uitdeel of mense van die Here vertel, maar daar is reëls en wette. Met Godsdiensklas, wat so nou en dan deur n kerke aangebied word by skole, moet n vorm eers geteken word dat die ouers toestemming gee, maar aan die ander kant word meditasie klasse sommer sonder toestemming van kleuterskool af met kinders gedoen, sonder toestemming. Baie sê nee vir die Godsdiendsklas. By werke en skole mag jy nie oor godsdiens praat nie, jy kan jou werk verloor, wat staan nog van Bybels uitdeel. Gryp die kans terwyl hy nog daar is en laat die wat kan hoor luister, deel uit daai Bybels en ek hoop en bid, dat baie jou sal ondersteun. Op laerskool en hoërskool het die Gideon nuwe testament bybeltjies uitgedeel en in hospitale en hotelle sien jy hul hand ook altyd, maar weereens, nie oral in ander lande is dit nie, of dit word verwyder.

Luister ·

Stem saam! Nog so jonk, met so ‘n groot passie vir die Here. God seën jou!

Chris ·

Dit hoort voor blad te wees soveel opregte hart en geloof kom Mede christene laat die kinderbybels vlooi na shania-lee

Andries ·

Ek vertrou jy gaan baie Bybels ontvang my kind, seen wense met jou projek die noot is hoog. Dit is nie ‘n brood wat die magie vol maak nie, maar die Woord wat harte verander en jou gedrag. Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.