Meisie wat ander atleet help, steel harte

Die hartroerende foto. (Foto: Verskaf)

’n Meisie van Bela-Bela in Limpopo het sosiale media aan die gons nadat sy Woensdag tydens ’n landloopwedloop in Groblersdal ’n medalje van haar eie opgeoffer het om ’n ander atleet oor duwweltjies te dra.

Dié storie van Kaila Germishuys (9), ’n gr. 3-leerder aan die Laerskool Warmbad, is Donderdag op Facebook geplaas en sedertdien byna 4 000 keer gedeel.

Angi Germishuys, Kaila se ma, het Vrydagoggend aan Maroela Media gesê haar hart bars van trots.

Sy vertel dat klein Kaila die oggend van die landloopwedloop siek gevoel en besluit het om liefs by die huis te bly. Teen 10:00 het sy egter haar ma gebel om te sê dat sy beter voel en graag weer wil deelneem.

Germishuys vertel dat hulle inderhaas na Groblersdal gery het om ’n benoude Kaila betyds vir die o.9-uitdunrondes te hê. Germishuys het by die wenpaal gaan wag om foto’s van Kaila te neem. Ná ’n lang gewag het die atlete begin inkom, almal behalwe Kaila. Sy kon ’n meisie in die verte sien aankom wat ’n ander meisie op haar rug dra en het besluit om nog ’n rukkie te wag.

Kaila Germishuys (Foto: Verskaf)

Die wedloopbaan van 2 km was op sommige dele vol duwweltjies.’n Ander atleet, net geïdentifiseer as Sephokwane, ook ’n gr. 3-leerder aan Groblersdal Akademie, moes kaalvoet deelneem. Toe Kaila haar sien sukkel, het sy omgedraai en gaan help tot waar daar nie meer dorings was nie.

Germishuys vertel dat sy ’n ruk later haar kind in trane aangehardloop sien kom het – die laaste atleet oor die wenstreep.

Thinus van den Heever, die eienaar van Edu-discipline, ’n opvoedkundige maatskappy, is betrokke by die skool se landloop en wou graag dié hartroerende storie deel. Germishuys vertel dat hulle ingestem het toe hy hulle vra of hy dit op Facebook kan plaas, min wetend van die reaksie wat dit sou ontlok. Ook Kaila was tot onlangs salig onbewus van haar skielike gewildheid.

Germishuys vertel dat daar tans nie trotser ouers as hulle is nie, aangesien Kaila eintlik ’n mededingende kind van natuur is, maar eerder ’n plek op die podium sou opoffer om iemand anders te help.

“Dit het my hartsnare geroer. Ons twyfel altyd of ons as ouers ons werk doen en of ons beter kan vaar. Ons kan hulle leer om nie ander kinders te spot nie, om te deel, maar die besluit bly hul eie,” vertel Geldenhuys.

Sy hoop dat Suid-Afrikaners hieruit sal kan leer om onvoorwaardelik om te gee.“Of ons ryk of arm, vet of maer is, ons is almal mense en verdien respek. As ons dit doen, kan ons rassisme en bevooroordeeldheid bekamp en Suid-Afrika ’n beter plek maak.”

Sy is vol lof vir die skool wat Kaila aangemoedig het om vir die eerste keer aan landloop deel te neem en haar die keuse gebied het om self te besluit of sy liewer saam met die ander atlete wil klaarmaak of wil terugdraai en help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Antjie ·

Gee vir Sephokwane 2 paar tekkies. 1 Paar vir nou en ‘n groter nommer vir latere gebruik.

sweiz ·

Ons ook ek weet nie wat die storie hier is nie.Zola Budd het kaalvoet gehardloop toe sy en Mary Dekker mekaar gestamp het.

dolphin ·

sy is dapper meisie en sy het verskil gemaak met daai meisiekind .so trots op haar.

Thys ·

Dis ni aldag wat mens so iets sien en hoor ni,mooi so meisie goeie daad verrig

Danie ·

Hy sal galbraak oor dat die wit girl skoene het en die swart ene nie

Barmes ·

@Fanie, wat’s die verskil in die foto, dan kan jy uitwerk wat sal hy sê.

Bronwyn ·

Weet jy kinders is so onskuldig en so opreg… Ons as groot mense kan by hulle leer. Trots op julle kinders… en julle sal ver kom in die lewe.

Dereck Le Roux ·

Mooi storie van ‘n dapper meisie wat ‘m mede atleet help, dit pas mooi in in die beleid van UBUNTU wat van witmense verwag word om “naasteliefde” te bewys aan die voorheen agtergeblewe gemeenskap maar dit sal later as onbenullig aangeteken word en en sal niksseggend wees en vir die kind niks beteken in die toekoms nie en moontlik nog teen haar gebruik word.

Johnnie ·

Kaila jy is super ons is almal trots op jou jy stel n mooi voorbeeld vir almal.

Jennifer ·

Knap gedaan kleine Kiala, jy verdien defnitief goud!!! Jou ouers het rede om baie trots op jou te wees. Jy het iets spesiaal gedoen vir ‘n maatjie wat dit op daardie stadium nodig gehad het. Sy gaan dit vir altyd onthou en ook iemand vorentoe help soos jy het…..Keep paying it forward!!!

Nita ·

Daar is nog baie goedgesindheid tussen mense. Ewig dankbaar vir twee swartmans wat my een aand gehelp het om my motor uit die pad van aankomende verkeer te stoot. Ek is seker n erge ongeluk sou plaasgevind het, indien hulle nie so bedagsaam was nie.

Liz ·

Ek het ondervind dat swartmense makliker sal help as blankes.

Liezl ·

Wel gedaan Kaila! Jy het nou wel nie n goue medalje om jou nek nie, maar binne jou lyfie klop n goue hart!

Arno ·

Kom ons los die politiek en velkleur hier uit. Welgedaan jong meisie. Jy het ons almal n les geleer. SAAM kan ons almal die resies voltooi. Dankie aan jou ouers dat hulle so n pragtige mens grootmaak. Onthou kinders volg voorbeelde. Ons is trots op julle. Julle wys die ware kleure van die Suid-Afrikaner.

Soutpot ·

Pragtig Kaila, jou gesindheid is baie mooi, ek is seker jy is Jesus se kind! Hou so aan!!

Oud-landloper ·

Ek was self ‘n landloper.
Het kaalvoet gehardloop waar ek kon maar nie alle bane was doringvry nie. Ons het die bane voor die tyd gestap of gedraf om te kyk vir dorings of selfs klippe. En dan besluit oor tekkies.
Ek glo Zola Budd sou ook sommige landloop bane met tekkies gehardloop het. Dorings is dorings . . .
Atletiek het ek kaalvoet gehardloop tot matriek
Ek het die WERELD se respek en waardering vir Kaila. Ons het meer sulke mense nodig. Welgedaan.

Leon Bannau ·

Baie dankie vir die mooi kamaraadskap jy hier ten toongestel. Namens Limpopo Atletiek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.