Mej. Doof SA: Meer as ’n mooi gesig

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

“Ons meisies is pragtig!” Só sê Leviena Smit, direksielid van Mej. Doof Suid-Afrika.

Dié niewinsgewende organisasie is in 2001 deur Gert en Narda Els gestig omdat hulle ʼn toekoms in die skoonheidsbedryf vir dowe meisies kon sien.

Altesaam 12 finaliste van oor die hele land is onlangs gekies om vanjaar op 2 Oktober aan die finale ronde deel te neem. Volgens Smit verloop die reëlings van dié kompetisie sommer baie goed. “Die deure gaan net vir ons oop, ons sien God se seëninge.”

Sy sê Mej. Doof SA moet nie net ʼn mooi gesig wees nie, maar ook  ʼn ambassadeur vir die dowe gemeenskap. Sy moet die horendes kan leer van al die probleme waarmee dowes te kampe het. “Sy moet mense laat besef dat daar niks skort met dowe mense nie. Om doof te wees is nie ʼn siekte nie, dis net iets wat met hulle gebeur het. Party is so gebore, ander het doof geword oor ʼn tydperk. Die huidige Mej. Doof is ʼn onderwyser in ʼn horende skool.”

Vanjaar se finaliste moet betrokke wees by ʼn gemeenskapsprojek wat help om dowes te bemagtig. Hulle beywer hulle ook tans daarvoor dat gebaretaal een van die amptelike tale van Suid-Afrika word.

Dié organisasie reël ook internskappe vir die deelnemers aan Mej. Doof SA. “Daar is sekere beroepe waarin jy nie nodig het om te kan hoor nie. Ons wil daai geleenthede vir ons meisies bied.”

Die wenner en die eerste twee prinsesse kry ook kans om deel te neem aan internasionale skoonheidskompetisies vir dowes. “Dis goeie blootstelling vir ons meisies,” sê Smit. “Mej. Doof SA streef om eendag op dieselfde vlak te wees as Mej. Suid-Afrika. Dit is waarheen ons mik en werk.”

Besoek gerus Mej. Doof SA se Facebookblad vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.