Mej. Doof stap 70 km in ysige koue om baba te help

Chantelle Pretorius (Foto: Facebook)

Mej. Doof Suid-Afrika sê sy het nie vir ʼn oomblik geskroom om haar hakskoene en noupassende ontwerpersrokke vir ʼn paar tekkies en ʼn oefenbroek te verruil om die afgelope naweek meer as 70 km in die snerpende koue af te lê nie – veral omdat fondse tydens dié staptog vir ʼn jong kankerlyertjie ingesamel is.

Chantelle Pretorius, wat verlede jaar in Pretoria as die jongste Mej. Doof nóg gekroon is, en ʼn groep vriendinne het die afgelope naweek die 72 km tussen Elliot en Barkly-Oos in die Oos-Kaap afgelê om geld in te samel vir ʼn sewe maand oue babadogtertjie wat met ʼn seldsame kinderkanker gediagnoseer is.

Klein Janique Mukheibir, van Barkly-Oos, is vroeër met neuroblastoom gediagnoseer – ʼn gewas wat hoofsaaklik by kinders tot op die ouderdom van vyf jaar voorkom. Die dogtertjie van sewe maande is in die hospitaal opgeneem en haar ma, Nadine, moes intussen haar werk prysgee omdat dit ʼn voltydse werk geword het om na Janique om te sien. Die jong vegtertjie het verlede week haar tweede ronde chemoterapie ondergaan.

Francois Britton, Pretorius se bestuurder en persoonlike ontwerper, vertel aan Maroela Media Pretorius en ander lede van die gemeenskap in Barkly-Oos wou ʼn idee bedink om Janique se ma finansieel by te staan. Die gemeenskap van dié dorpie, waar Pretorius oorspronklik vandaan is, is volgens hom baie heg.

Pretorius en haar medestappers (Foto: Facebook)

Hulle het toe met dié idee vorendag gekom om tussen verlede Vrydag en Sondag tussen die twee dorpe te stap en saans sommer op ʼn boer in die omgewing se plaas te oornag.

“Die mediese uitgawes vir Janique se behandeling is verskriklik hoog,” vertel Britton. “Chantel en die ander lede het toe met die idee vorendag gekom om ʼn staptog te hou en toe borgvorms by plaaslike ondernemings ingehandig om as’t ware die staptog tussen Elliot en Barkly-Oos te finansier. Ons is baie dankbaar; die staptog was teen die einde van die dag ʼn groot sukses.”

Pretorius en haar medestappers het saam met ander liefdadigheidsorganisasies in die omgewing glo reeds bykans R70 000 vir Janique se behandeling ingesamel. “Hulle is werklik dankbaar dat die staptog ʼn sukses was. Aan die einde van die dag is die gemeenskappe van die dorpie baie klein; elkeen het maar ʼn behoefte om te help waar hy of sy kan. En dit was groot pret: Die temperatuur was by tye op vriespunt gewees, maar dit is iets wat hulle vir altyd sal onthou.”

Klein Janique Mukheibir (Foto: Facebook)

Oor dié staptog het Pretorius op Facebook gesê: “En só het ons dit gedoen: Meer as 70 km afgelê, soms in temperature onder vriespunt, baie gelag en [nou het ons] seer bene en spiere. Dit was alles om ʼn klein engeltjie ʼn tweede kans op lewe te gee – ons het dit alles vir jóú gedoen, klein Janique. As ons as mense nie daar kan wees vir mekaar nie, wat is oor in die wêreld?”

Pretorius en Britton vertrek einde September vanjaar na Praag waar sy Suid-Afrika in die Mej. Doof Wêreld-kompetisie sal verteenwoordig. Meer as 79 lande sal in dié kompetisie meeding.

Britton sê vir dié geleentheid het hy vir haar ʼn amptelike nasionale uitrusting, twee aandrokke en ʼn vierde kroningsrok ontwerp. “Ons gaan vol moed en hou styf duim vas dat sy die kroon huis toe sal bring,” vertel hy.

Vir meer inligting oor Pretorius besoek haar amptelike Facebook-blad hier. Besoek ook Britton se amptelike Francois Britton Designs-webwerf hier.

Pretorius en haar medestappers (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maria Doof ·

Ek is regtig op my hart…..ek so trots op julle !!! Baie dankie!!
Pretoruis ek hou vir jou duim vas jy verdien wereld kroon vir dowes x

Thea ·

mooi gedoen meisiekind, jy is pragtig pragtig. hoekom moet moet daar n mej doof sa wees. sy moet kan deelneem aan die gewone mej sa. sy is pragtig, en is ware mej sa
jy gaan ver kom. jy het in my hart gekruip

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.