Mej. SA onder Pukke wat vereer is

Minette Dempsey (namens Dr Elsje Jordaan), Tamsanqa Manzi, Prof Kobus Pienaar, Prof Koos van Rooy, Dr Sejako Senatle, Demi-Leigh Nel-Peters, Prof Peter van Eldik (namens Prof Rudi van Eldik), Daniëlla van Heerden, Hannie van der Merwe (names Prof TJaart van der Walt) en Dr Frits Kok (Foto: Verskaf)

Demi-Leigh Nel-Peters en Daniëlla van Heerden tel onder ʼn handjievol oudstudente van die Noordwes-Universiteit wat onlangs met ʼn alumni-toekenning bekroon is vir hul besonderse prestasies in hul afsonderlike velde.

Vanjaar se toekenningseremonie, wat op 6 Oktober in Sandton gehou is, het die NWU-leeftydprestasietoekenning ingesluit en ook erkenning gegee aan die NWU-alumni wat in 2017 in die internasionale arena presteer het.

Prof. Tjaart van der Walt, die voormalige rektor van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, is met die leeftydprestasietoekenning vereer. Vorige ontvangers van dié toekenning sluit die voormalige president, FW de Klerk, en die voormalige visekanselier van die NWU, dr. Theuns Eloff, in.

Van Heerden is vir haar prestasies in joernalistiek vereer, en Nel-Peters, Mej. Suid-Afrika 2017, was die ontvanger van die NWU se ambassadeur-toekenning.

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, sê dat die universiteit geherposisioneer is as unitêre instelling met ’n fokus op akademiese uitnemendheid en maatskaplike geregtigheid.

“Ons is steeds een van Suid-Afrika se top-universiteite en het ’n betekenisvolle rol om te speel om ons land te ontwikkel. Van binne behou ons die beste van al ons geskiedkundige komponente waaruit die NWU opgebou is. Of julle aan die ou Universiteit van Bophuthatswana of die Universiteit van Noordwes of die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, of sedert 2004 aan die Noordwes-Universiteit gestudeer het, julle is almal ons alumni en die NWU is julle alma mater.”

Hier is die alumni-wenners:

  • Tjaart van der Walt, voormalige rektor van die PU vir CHO en buitengewone leier – Leeftydprestasietoekenning
  • Frits Kok, kulturele brugbouer en invloedryke lid van die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV) – Kuns en Kultuur-toekenning
  • Tamsanqa Manzi, suksesvolle entrepreneur en werkskepper – Gemeenskapsbetrokkenheid-toekenning
  • Koos van Rooy, teoloog, sendeling en Bybelvertaler – Gemeenskapsbetrokkenheid-toekenning
  • Kobus Pienaar, skrywer en hoogs aangeskrewe kundige in opvoedkunde – Opvoedkunde-toekenning
  • Sejako Senatle, gemeenskapsprokureur en dinamiese regspersoon – Openbare Diens-toekenning
  • Rudi van Eldik, geëerde navorser en wetenskaplike – Navorsingstoekenning
  • Elsje Jordaan, ’n welbekende sportafrigtingspesialis en pionier in die gebruik van digitale platforms om wedstrydtendense te ontleed – Sport-toekenning
  • Daniëlla van Heerden, bekroonde joernalis – Jong Alumnus-toekenning
  • Demi-Leigh Nel-Peters is die ontvanger van hierdie jaar se NWU Ambassadeur-toekenning vir die verteenwoordiging van die universiteit en Suid-Afrika in die internasionale arena.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.