Melkbosstranders stap saam teen kindermishandeling

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Die gemeenskap van Melkbosstrand in die Wes-Kaap is ʼn goeie voorbeeld van wat mense kan verrig as hulle saamwerk. Wat as ʼn Facebook-groep begin het, het in iets soveel meer gegroei. Die groep “Melkbosstranders” wat ʼn verskeidenheid van inhoud soos nuus, resepte en sakegeleenthede deel, het besluit om ʼn projek aan te pak wat ʼn positiewe bydra tot die gemeenskap kan maak.

Op Vrydag 24 Julie het inwoners van dié kusdorp deelgeneem aan ʼn projek genaamd “Lantern-lit beach walk to light a child’s light”. Dié inisiatief wat gestig is deur gemeenskapslede, fokus daarop om bewustheid te kweek oor kindermishandeling. Soveel as 1 200 Consol-lanterns is teen kosprys aangekoop en inwoners het dié lanterns saamgeneem tydens dié uitstappie op die strand. Die simboliek van die lanterns pas mooi by die projek wat sê dat hulle ʼn kind se lewe wil verlig. Die gemeenskap het ook kos, klere, komberse en geld geskenk wat oorhandig is aan die Melkbosstrand-gemeenskapsentrum wat sal bydra tot die stryd teen kindermishandeling in die omgewing.

Een van dié dorp se inwoners wat aktief betrokke is by die projek, Karen Dreyer, sê spanwerk is die antwoord. “Dis ongelooflik om te sien wat ʼn gemeenskap kan doen as ons saamwerk.”

Verskeie sakeondernemings, organisasies en die media van Melkbosstrand het saamgewerk om hierdie projek te loods.

Besoek gerus Melkbosstranders se Facebook-blad vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eliza-beth ·

Mooi so julle mense! Wys jou wat se groot verskil een kleinerige daad op die ou einde kan maak!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.