Mense sit skouer aan die wiel om boere te help

Chris van Beljon ontvang ‘n skenking van die Laerskool Belville-Noord. (Foto: Verskaf)

Die ou gesegde lui dat die pad na ʼn man se hart deur sy maag loop en dit was dan ook die roete wat talle organisasies gevat het om die harte van mede-Suid-Afrikaners oop te maak vir die pleidooie van die land se boere in droogtegeteisterde gebiede.

Die Laerskool Bellville-Noord het vandeesweek R31 457 ingesamel deur ʼn braaibroodjiedag te hou ten bate van Boere Droogtehulp SA NPC.

Hierdie inisiatief is beplan en uitgevoer deur Cheron Aspeling en Elizma Williams, twee juffrouens aan dié skool. Die onderwysers, wat ook susters is, se ouers boer self in die Noord-Kaap en die erns van die droogte het swaar op hul harte gedruk.

Die geldinsamelingsdag het begin met ʼn boodskap van hoop in die skoolsaal, waarna die skool saam gebid het vir reën en hoop vir die boere. Daarna het Laerskool Bellville-Noord en Laerskool Bellpark ʼn mense-ketting gevorm om hul waterdonasies na Laerskool Bellville-Noord te stuur. Die twee skole is sowat 850 m van mekaar.

“Daar was 15 skole in die direkte omgewing uitgedaag. Laerskool Bellpark het ingekoop en ons uitdaging aanvaar. Hulle het ook geld en water ingesamel vir Boere Droogtehulp SA,” vertel Aspeling.

Die mense-ketting. (Foto: Verskaf)

Na afloop van die mense-ketting het elke leerling hul R15‑donasie gebring asook ʼn voorbereide braaibroodjie na die kole geneem. “Nie net het ons lekker geëet nie, daar was ook verskeie pryse te wen. Die Braaibroodjie-kampioen van Laerskool Bellville-Noord is aangewys, asook drie gelyke wenners.”

Daar was ook pryse vir die seun en die meisie wat die meeste geld ingesamel het. Verder was die kleredragtema Boere en Hoop. Altesaam nege leerlinge is gekies wat die tema die beste uitgebeeld het.

Alle skenkings is direk aan Chris van Beljon, die stigter van Boere Droogtehulp SA, oorhandig.

Die Caring Daisies se Koekies vir Boere projek. (Foto: Verskaf)

Intussen het nog ʼn inisiatief, die Koekies vir ons Boere-projek, deur die Caring Daisies–welsynsorganisasie, sowat R1,9 miljoen ingesamel met die doel om boere wat onder die droogte gebuk gaan, by te staan.

Maroela Media het vroeër berig dat die organisasie beoog om sowat 10 000 emmers koekies te verkoop. Alle verwagtinge is egter oortref toe net so oor die 22 300 emmers koekies sedert die begin van November verkoop is. “Ons dankbaarheid ken geen perke nie! Hierdie is nie net emmertjies vol koekies nie, maar vol hoop. Ons hoop ook dat elkeen wat so ʼn emmer ontvang en dit oopmaak, geseën sal word,” sê Anria van Heerden, die organisasie se besturende direkteur.

Caring Daisies het reeds bestellings vir 2019 gesluit, maar sê dat hulle weer bestellings in Januarie sal neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Dis baie nice. Dis jammer dat die gemeenskappe self die boere moet help en ons regering te onnosel en hardegat is om die boere te help – ander lande help altyd die boere en subsidieer hulle en hulle kry petrol/diesel goedkoper.

Von

Dankie Here vir elke mens wat U wil doen vir elke skenking hoe klein of hoe groot in U hand word dit genoeg……ons gebede is in afhanklikheid tot U Here….ons bid vir reen en is dankbaar waar dit reeds begin het tot Eer van U Groot en Heilge Naam……. Amen

Miggie Pelser

Sit ek nou hier met trane in my oë, is dit nie wonderlik wat gedoen kan word as mense bymekaar staan met omgee en liefde in hul harte nie, geseënd is julle. Ons bly op ons knieë en bid vir reën in al die droogte geteisterde gebiede en is net so dankbaar vir reën wat alreeds geval het, ons dank die Liewe Vader vir die reën en bid vir nog Amen.

marous

Sommiges se hande en harte is oop . Dankie Vader!

Dorotie

Dit is ongelooflike gebare en kan my net voorstel hoe die vrouens en mans wat koekies gebak het die vreugde ervaar het van hul liefdes arbeid en soveel geld kon insamel. Wow