Met dié handsakke wil sy hoop gee

Beatus handgemaakte leerhandsakke (Foto: Verskaf)

Toe Nadia Gouws, ’n tweedejaar-onderwysstudent aan die Universiteit van die Vrystaat, twee jaar gelede haar eie onderneming begin het, het sy nooit gedink dat sy eintlik ʼn groter verskil hiermee sou maak nie.

Gouws maak handgemaakte leerhandsakke en gee werk aan gestremdes deur hulle ’n geleentheid te bied om by haar onderneming betrokke te raak.

Reeds in 2017 is dié saadjie geplant toe Nadia en haar ma, Daisa Gouws, albei ’n nuwe handsak nodig gehad het, maar nie daarin kon slaag om die perfekte handsak in die winkels op te spoor nie.

“Dit is toe dat ek besluit het om my ma se hulp een naweek in te span om ons eie handsakke te maak. My ma is baie goed met naaldwerk. Min het ons geweet daardie naweek en daardie handsakke sou ons albei se lewe verander,” vertel Gouws.

Sy sê dat haar ma ’n paar foto’s van hulle skeppings op Facebook geplaas het en dat kommentare kort voor lank ingestroom het van mense wat ook só ’n handsak wou hê.

Na aanleiding van die groot vraag na dié handsakke het ma en dogter besluit om hulle eie onderneming te begin. Die bestellings het onmiddellik begin inrol en Gouws en haar ma het hulle vingers stompies gewerk om dié unieke handgemaakte leerhandsakke die wêreld in te stuur.

Nadia Gouws en haar ma, Daisa Gouws (Foto: Verskaf)

Hulle het die onderneming “Beatus” gedoop wat “geseënd” in Latyn beteken. “Dit was die perfekte naam omdat ons wil hê elke kliënt wat ’n handsak koop, moet geseënd wees,” sê Gouws.

“Op 19-jarige ouderdom was ek senuweeagtig om dié groot stap te waag, maar ek het nie toegelaat dat my vrese vir mislukking in my pad staan nie,” sê sy. Sy kon nooit dink dat dié onderneming so vinnig sou groei nie.

Aan die begin het Gouws en haar ma met die hulp van naaldwerkmasjiene die handsakke aanmekaargesit. Ná vele frustrasies met die masjien en garing wat konstant gebreek het, het hulle in Desember 2017 besluit om eerder die handsakke met die hand te maak.

“Ons moes nuwe toerusting koop, navorsing doen en YouTube-video’s kyk om te leer hoe om hierdie handsakke met die hand te kan maak,” vertel Gouws. Sy voeg by dat om handsakke met die hand te maak, beter lyk en ook ’n produk van beter gehalte lewer.

In Mei 2018 het Nadia vir Flip Nel, wat in daardie stadium in die Jean Webber-tehuis vir gestremdes gebly het, betrek om deel te raak van die onderneming.

“Flip se storie is baie hartseer. Hy was ’n landboudosent van Potchefstroom. Nadat hy afgetree het, het hy ’n bloemiste by Hartbeespoortdam oopgemaak. Een oggend het hulle by Flip en sy lewensmaat se huis op ’n kleinhoewe ingebreek. Flip se lewensmaat is doodgeskiet en hy is in die rug geskiet. Flip het als verloor en in dié tehuis in Bloemfontein beland,” vertel ’n emosionele Gouws.

Volgens Gouws het Flip, ten spyte daarvan dat hy in ’n rolstoel is, nooit toegelaat dat dit sy identiteit bepaal of sy werk belemmer nie. “Hy het elke liewe dag ’n handsak met passie en liefde in sy hart en ’n glimlag op sy gesig gemaak.”

Flip is Januarie vanjaar ná ’n lang, pynlike siekte oorlede. Die Beatus-span se harte was stukkend en hulle mis hom elke dag, sê Gouws.

“Nie net het hy die onderneming help groei nie, maar ook vir ons as ‘gewone’ en gesonde mense laat besef dat ons oneindig baie

Flip Nel en Nadia Gouws (Foto: Verskaf)

het om voor dankbaar te wees en dat niks wat ons het gewaarborg is nie.”

Flip se menswees en aansteeklike lewenslus het haar geïnspireer om haar toekomsdrome uit te leef en ander gestremdes te help en te leer om hulle volle potensiaal te bereik.

Gouws wil eendag in spesiale onderwys ingaan waar sy op ’n daaglikse grondslag met mense met gestremdhede kan werk. Haar oupa het ’n groot invloed op haar besluit gehad nadat hy ’n beroerte gehad het en daarna skaars kon praat. “Ek het lekker met hom gesels en toe besef ek wil met gestremde mense werk. Flip het my nou weereens laat besef dat ek die regte besluit neem,” sê sy.

Gouws en haar ma is nog volstoom aan die gang om handsakke te maak en hoop om eersdaags weer ’n gestremde soos Flip deel te kan hê van die Beatus-span.

“Baie mense kyk gestremdes se potensiaal mis omdat hulle vasstaar teen die gestremdheid. Ek wil verby dit kyk en hulle help om hulle volle potensiaal te bereik,” sê sy.

Besoek Beatus se Facebookblad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Belangstel ·

Pragtig. Ongelukig het ek nie facebook nie. Is daar nie n ander manier om hierdie produkte te sien nie?

Nadia Gouws ·

Baie dankie!

My nr is 084 033 4234 vir die wat nie Facebook het nie.

Destarte ·

Wow!
Wat n verhaal.
Dit roer my binneste!

Mag julle nog baie geleenthede kan skep, en net van krag tot krag gaan!

Ek beny julle!

Vir seker geseënd ·

Het sopas my Beatus handsak bestel.
Julle verhaal het my trane in my oë gegee.
Julle doen mooi & goed
Weet dat God julle in oorvloed gaan seen x

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.