Met hulp jaag seun sy vlieëniersdroom na

Xolisa Shenxani (Foto: Verskaf)

Xolisa Shenxani (18) van die Sir Lowryspas- informele nedersetting in die Wes-Kaap jaag steeds sy droom om ʼn vlieënier te word ten spyte van sy omstandighede.

“Ek het altyd in die lug gekyk en helikopters oor my huis sien vlieg, maar ek het nie geweet wat hulle is nie, en of mense daarin kan vlieg nie. Maar ek het altyd gedink: ‘Ek sal graag daardie ding wil vlieg’.

“Ek onthou een keer, ek was in graad een of twee, en ʼn helikopter het op die sokkerveld in Sir Lowryspas geland, en toe kon ek die binnekant daarvan sien. Dít was die oomblik wat ek geweet het ek wil ʼn vlieënier word,” het hy gesê.

In 2017 is die bal aan die rol gesit om Shenxani se drome te bewaarheid nadat verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Lugmag by die Langebaanweg-lugskou vir Shenxani gesê het dat hy verniet sy vlieënieropleiding kan doen mits hy aan die akademies inskrywingsvereistes in matriek voldoen en dat hy instem om vir die lugmag te werk wanneer hy sy opleiding voltooi het.

Dit was egter vir Shenxani moeilik om dié droom ʼn realiteit te maak aangesien hy ʼn string terugslae ervaar het. Sy ma is oorlede toe hy net sewe jaar oud was en hy moes van huis na huis beweeg om te sien waar hy sou inpas.

“Hierdie uitdagings het my baie lesse geleer. Dit het my die mens gemaak wat ek vandag is. Ek het vir myself gesê dat ek nie sal opgee nie, selfs al het ek deur al hierdie uitdaging gegaan. My ma het vir my gesê ek moet my bes gee in alles wat ek doen en dat die lewe nie maklik gaan wees nie,” het hy gesê.

Shenxani het by sy oom en tannie in Kaapstad gewoon, en wanneer hy nie met sy skoolwerk besig was nie, was hy die kaptein van die Chaka Pioneers-sokkerspan in die Sir Lowryspas- nedersetting.

Xolisa ens y vriend Tymen (Foto: Verskaf)

Hy het ook gereeld ʼn program in sy plaaslike biblioteek bygewoon wat gratis studiehulp in wiskunde bied.

“Ek het Xolisa leer ken deur ons weeklikse studiesessies. Hy is ʼn baie slim en hardwerkende seun. Met ʼn klein bietjie hulp een maal per week, het hy dit reggekry om sy wiskundevaardighede drasties te verbeter. Ek sien eerstehands nie net sy akademiese potensiaal nie, maar ook sy leierskapsvaardighede,” het Philip Bellstedt (31) wat die studiehulp aanbied, gesê.

Bellstedt het agtergekom dat Shenxani  se droom om ʼn vlieënier te word in gevaar is, ten spyte van sy toewyding, as gevolg van slegte omstandighede by Shenxani se skool.

Bellstedt het Shenxazi gehelp om aansoek te doen by beter skole in die area, maar ongelukkig was al die skole wat met openbare vervoer toeganklik is, reeds oorvol.

Xolisa saam met sy vriend Tymen, Philip, Philip se meisie, Samantha, en Philip se ma, Friederike (Ftoo: Verskaf)

Nadat Shenxani se aansoek in 2018 wéér afgekeur is, het Bellstedt na privaat skole in die area begin soek waar Shenzani kan floreer. Hulle het toe besluit dat Hoërskool Valsbaai die perfekte pasmaat vir Shenxani is.

“Ek en my familie is ten volle belê in Xolisa se toekoms. My ouers is altyd daar om ʼn drukkie te gee, om ʼn broodjie te maak, om ʼn rygeleentheid te gee of om hom aan te moedig. Ons het groot hoop vir sy matriekjaar, omdat hy reeds so baie vordering gemaak het en omdat hy die vermoë het om elke geleentheid wat na hom toe kom, aan te gryp,” het Bellstedt gesê.

Xolisa woon ook tans by Bellstedt se ouers gedurende die week, sodat hy op sy skoolwerk kan fokus. Hy pas goed aan by sy nuwe skool, en hy woon ekstra klasse vir wiskunde, wetenskap, en Engels by om sodoende vir die Suid-Afrikaanse Lugmag se opleidingsprogram te kwalifiseer.

“Ek kon nooit droom dat ek in ʼn privaat skool sou wees nie. Dit was moeilik in my vorige skool. In my wiskundeklas was daar meer as 60 kinders. Al het ek probeer konsentreer, kon ek nie omdat daar so baie afleidings was. Daar is baie kinders wat nie by die skool wil wees nie, wat ʼn geraas maak, en dan sal die onderwyser nie weer verduidelik wat gesê is nie – dit was jou eie probleem en jy moes self gaan uitvind wat aangaan.

“Dit is baie beter in my nuwe skool. As jy nie verstaan nie, maak hulle seker dat jy begin verstaan. Die onderwysers gaan uit hul pad vir jou as jy self ook hard werk – hulle doen alles in hul mag om seker te maak jy is suksesvol,” het hy gesê.

Xolisa Shenxani (Foto: Verskaf)

Bellstedt het ʼn veldtog begin op die skarefinansieringplatform BackaBuddy om mense aan te moedig om vir Shenxani met sy opvoeding te help. Die veldtog beoog om R187 800 in te samel om sy gr. 11-jaar se uitstaande gelde te betaal en om sy matriekjaar te finansier. Tot op hede het Bellstedt Shenxani se onkoste met sy eie geld gedek.

“Ek glo dat as jy tyd en geld in die toekoms van ʼn belowende, hardwerkende kind soos Xolisa belê, dit ʼn goeie belegging is. Xolisa se sukses sal nie net vir hom voordelig wees nie, maar ook vir sy afstammelinge en die mense in sy gemeenskap wat opkyk na hom. My droom vir Xolisa is dat hy sy potensiaal bereik en dat hy ʼn gelukkige, vervulde lewe kan leef,” het Bellstedt gesê.

Tot dusver het Xolisa se veldtog al R78 552 ingesamel en hy het R58 000 in borge ontvang. Dit beteken Xolisa kom nog net sowat R50 000 kort om sy skoolopvoeding se koste te dek.

“Ek is baie dankbaar vir almal wat my help. Ek het nooit gedink ek sal in ʼn privaat skool wees nie. Dit is die beste geleentheid ooit! Daar is baie kinders daar buite wat ook hulp nodig het, en ek hoop ek kan eendag dieselfde vir iemand anders doen,” het hy gesê.

Om meer uit te vind of om ʼn donasie te maak, besoek Xolisa se BackaBuddy-veldtog hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.