Met Instagram bou 19-jarige ʼn oefenklere-ryk

Deur Megan van Wyngaardt

Helé Wansbury en haar seuntjie Zayn.

Die 19-jarige Helé Wansbury is ʼn entrepreneur van Kaapstad wat besig is om ʼn sakeryk met oefenklere te bou. Nietemin was haar pad nie sonder struikelblokke nie.

In haar matriekjaar het dié seniorkomiteelid, eerste prinses in haar skool se skoonheidskompetisie en eerste span 400-meter hekkiesatleet swanger geword, maar dit het nie haar drome vernietig nie. “Dit was ʼn groot skok, maar ek dink omdat ek dadelik vir almal vertel het, het dit alle skinderstories in die kiem gesmoor.”

Sy het begin met tuisonderrig, omdat die eerste drie maande van haar swangerskap bitter moeilik was as gevolg van naarheid. “Baie keer as ek daaraan terugdink, weet ek nie hoe ek dit gedoen het nie. Maar ek wou skool klaarmaak en ek het elke dag gevat soos dit kom. Die laagtepunt was dat ek my matriekafskeid moes mis.”

Dié langhaar blondine met kuiltjies in haar wange, toe van Kimberley in die Noord-Kaap, het in plaas van in sak en as sit toe met Fitbury Clothing begin. “Ek het 27 kg opgetel tydens my swangerskap en wou weer die gewig verloor, maar ek kon nêrens oefenklere kry wat my reg gepas het of in my smaak geval het nie.”

En dit is waar die hele storie begin het.

Helé Wansbury

Om Helé te kry om ʼn tydjie af te knyp vir ʼn onderhoud was ʼn uitdaging. Dis te verstane. As eienaar van Fitbury Clothing, ʼn Instagram-rekening met 23 500 volgelinge, model, rolmodel én enkelmamma van haar eenjarige seuntjie, Zayn, is haar hande vol en haar tyd min.

Tog is moederskap vir haar die grootste seën. “Ek glo nie ouderdom maak ʼn verskil aan die soort ouer wat jy is nie. Maak nie saak watter tyd van jou lewe jy ʼn kind kry nie. Ek glo wel dat jy finansieel vir jou kinders moet kan sorg. As ek nie swanger geword het nie, het ek nooit met Fitbury begin nie.”

Helé sou na skool eers vir haar pa gaan werk het, maar toe byt die kreatiwiteitsgogga haar en wou sy haar eie handelsnaam begin. “Ek is nie iemand wat heeldag in ʼn kantoor kan sit nie, ek wil met mense werk, kreatief wees, goed met my hande doen. Selfs die aanlegtoetse het my in dié rigting gewys. ʼn Vriendin in my kerk het eendag na my toe gekom en hoewel ek vir niemand in daardie stadium van my sakeplanne met ʼn klerereeks vertel het nie, het sy gesê dat ek voort moet gaan met my planne, want sy het ʼn visioen daaroor gehad.”

Helé het onmiddellik uit haar administratiewe pos by ʼn rekenmeester bedank en alles tot haar beskikking in Fitbury ingeploeg. Om die onderneming op die been te kry, het Helé aanvanklik finansiering van haar ouers ontvang, ʼn enkele, nie-hernieubare bedrag. “Ek móés ’n sukses van die besigheid maak,” sê sy.

Helé Wansbury

Sy het ʼn fabriek in Kimberley begin wat sy ook self bestuur het en al die nodige tekstiel-toerusting aangekoop. In die Kaap doen sy tans ook self al die snywerk, kleremaak en aanpassings. “Mense sukkel maar om iemand so jonk ernstig te neem, maar ek word nie maklik deur iets onder gekry nie. Ek moes leer om kwaai te wees en mense het my begin respekteer. Jy moet weet waarvoor jy staan; jy moet besef dat kinderspeletjies verby is. Jy kan nie laat slaap nie en jy moet aande laat werk om sperdatums te haal. Om ʼn handelsnaam te bou is nie maklik nie. Al my inkomste wat ek maak, ploeg ek net so weer terug in my onderneming.”

Helé glo dat Instagram ook ʼn groot rol in haar sukses speel. Selfs die onderhoud is via Instagram gevoer. “Instagram is die toekoms van die sakebedryf. Ek probeer ook om voorbeeldig te wees vir die jong mense wat my volg, deur om ʼn gesonde leefstyl te bevorder.”

Vir mense wat in haar sakevoetstappe wil volg, gee Helé die raad: “Jy gaan beslis hare op jou tande moet hê en jy gaan moet leer om kritiek te aanvaar. Dis nie altyd ʼn slegte ding om kritiek te ontvang nie, ʼn mens kan dit gebruik om te verander wat nie reg is nie en verder te bou.”

Laastens noem sy dat jong mense hul hart en passie moet volg. “Fitbury is nie ʼn dag se werk vir my nie, want dis vir my lekker.”

Helé stel haar jongste reeks op 15 Maart bekend.

Besoek Helé se Instagram-profiel hier.

Besoek Fitbury se Instagram-profiel hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Se net ·

Sy is defentief n voorbeeld vir mense, het doelwitte maak nie saak wat voorval nie!
Well done!

Asjas ·

Pragtige voorbeeld van ‘n jongmens wat nie toelaat dat enige iets haar onder kry nie. Ek wens jou alle sukses toe met Fitbury. Welgedaan Helé!
@Kerl…en jou punt is?

Hoekom ·

Kerl & Kobus jul is pateties met jul aanmerkings. Hoeveel mense volg jou Kobus?

Hele jy is ń voorbeeld vir baie jong meisies daar buite. Moet jou asb nie aan enige negatiewe kommetaar steur nie. Jy en jou seuntjie is pragtig.

Jolandi ·

Ek stem 200% saam met jou Hoekom!!!
Genade maar julle is genadeloos! Sy het nou wel een fout gemaak, maar kyk net hoe het sy haar situasie positief omgedraai.
Dit is soms nie die alfa en omega om ‘n (betrokke) pa te hê nie. Party pa’s is die naam pa nie werd nie en is die ma en kind beter af sonder hom!

toy ·

Ag liewe genade julle dis nie te se die kind word sonder ‘n pa groot nie, sy trou dalk eendag met iemand wat baie goed vir die seuntjie gaan wees asof dit sy eie kind is. Ek dink sy gaan nog ver kom in die lewe sy klink na ‘n positiewe mens.

LÍEWE GENADE,TOG! ·

LIEWE GENADE TOG…maar hier is ñ hele paar bitsige kommentare, met SUURDRUIF uitlatings…❗❗? wat te verstane is,want JULLE SAL NOOIT SOVÉÉL GELD SOOS SÝ KAN MAAK IN JUL LEEFTYD OF OOITSÓ PRAGTIGE LYF KAN HÊ… ?
hou julle geniepsigheid vir julself en gaan koop van haar klere dat julle begin oefen en possitief raak…
WELGEDAAN HELÉ EN SALUUT VIR JOU DAPPERHEID EN SAKEVERNUF ???? jy verdien ñ medalje ?

Theresa ·

Dis wonderlik.
Maar sy is gelukkig om obviously welgestelde ouers te he. Pa het sy eie besigheid. Hul kon haar geld gee om haar besigheid mee te begin.
Ek het ook so n dogter met hope potensiaal maar omdat ek maar n arm enkel mamma is, het my kind nie hierdie geleenthede nie. Dit kos geld om geld te maak….
Mens moet geld he om n besigheid te kan begin

Blaarman ·

Nonsens.

Ek weet van ‘n hele paar mense wat besighede begin het sonder enige spaargeld of finansiële bystand. Dit is glad nie maklik nie, maar dit kan gedoen word.

Heelwat van hierdie mense het eers ‘n “normale werk” gehad, maar het na-ure ‘n besigheid op die kant begin bedryf wat later tot so ‘n mate gegroei het dat hulle hul werke kon bedank en hulleself volstoom toespits op die bestuur en groei van hulle besigheid.

En alhoewel sy hierdie besigheid met ‘n klein lening begin het het, vat dit deursettingsvermoë om ‘n sukses daarvan te maak. Kom ek sê jou – sy sou in elk geval ‘n sukses hiervan gemaak het, ongeag of sy ‘n lening gekry het of nie. Die tipe persoon wat nie ‘n besigheid sonder geld kan begin nie moet liefs nie enigsins ‘n besigheid begin nie – hulle het bloot net nie die innoverendheid, waagmoed en deursettingsvermoë wat vereis word om ‘n suksesvolle besigheid te begin in vandag se tye nie.

kimberliet ·

So is sy nou van die Kaap of Kimberley? Dis bitter ver van mekaar af…

Logika ·

Ja, jammer vir die ou wat haar deur sy vingers laat glip het!

GRIET ·

HAAHAAA…SOOO JAMMER vir ali manne op MM wat nou, té laat, van dié pragtige VOORSLAG dame hoor! ?
JAAAA…súlke girls,van dié kaliber is YL GESAAI manne!
Ennn…ñ baie beter aanwins asi ou paar jaloerse valies soos vanessa+kimberliet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.