Met jou hulp kan ‘SolarTurtle’ gratis krag aan skool verskaf

Die SolarTurtle-stasie in Palm Ridge. Foto: Facebook via Solar Turtle

Die SolarTurtle-stasie in Palm Ridge. Foto: Facebook via Solar Turtle

Die stigters van ʼn innoverende sonkrag-aangedrewe mini-kragstasie, die SolarTurtle, het Donderdag ‘n beroep gedoen op Suid-Afrikaners vir skenkings wat kan help om ʼn elektrifiseringsprojek by ʼn behoeftige skool in ʼn informele nedersetting te voltooi. Die kragstasie sal die skool kosteloos optimaal van elektrisiteit kan voorsien.

Die SolarTurtle is verlede maand by die Pheasant Folly-laerskool in Palm Ridge, in die ooste van Johannesburg, bekendgestel. Die oogmerk is om elektrisiteit te verskaf aan skole in informele nedersettings en die mini-kragstasie verskaf 16 x 300 W (4,8 kW) sonkrag deur middel van PV-panele.

James van der Walt, uitvoerende hoof van Ugesi Gold, die organisasie wat die projek bedryf, het ʼn beroep op die publiek gedoen om die R7 000 wat kort kom om die projek te af te handel, in te samel in die sewe dae voordat die skole heropen.

Die skool bestaan tans uit 1 750 leerders van graad R tot graad 7, en moes voorheen duisende rande per maand bestee op ʼn diesel kragopwekker wat elektrisiteit voorsien het aan klaskamers en kantore. Dié projek van SolarTurtle gaan egter verseker dat die skool verniet elektrisiteit kan hê.

Van der Walt, wat met die idee vir SolarTurtle vorendag gekom het, het gesê die doel is om skole te omskep in energie-stasies en terselfdertyd bekostigbare energie aan arm gemeenskappe te verskaf.

Hoewel die skool aanvanklik R25 000 benodig het om die projek te voltooi, het hulle teen Donderdag reeds R14 000 ingesamel.

Van der Walt het gesê die hele projek het R400 000 gekos om te voltooi. “Die probleem is dat die regering gesê het hulle kan nie meer vir ons geld gee nie. Die departement van energie se hande is ook vasgebind omdat hulle afhanklik is van beskikbare fondse. Dis daarom dat ons uitreik na die gemeenskap om die projek te voltooi.”

As jy wil betrokke raak by die projek, besoek SolarTurtle se Thundafund-webwerf om bydraes te maak. Besoek ook hul Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.