Meyer, Joubert op kortlys vir Nielsen-boekverkoperprys

Deon Meyer (Foto: Woordeboek van die Afrikaanse Taal)

Deon Meyer (Foto: Woordeboek van die Afrikaanse Taal)

Die spanningskrywer Deon Meyer se boek, Ikarus, en die romanskrywer Irma Joubert se boek, Immer Wes, is pas aangekondig as twee finaliste op die 2016-kortlys vir die Nielsen-boekverkoperprys.

Die kortlys is op 12 Julie in Kaapstad bekend gemaak.

Dié boeke is die enigste twee Afrikaanse boeke wat vanjaar die kortlys vir die Nielsen-boekverkoperprys gehaal het. Meer as 150 nominasies is vanjaar ingestuur.

“Lapa is trots daarop dat Irma Joubert se Immer Wes dié lys gehaal het. Dit is een van net twee Afrikaanse boeke wat dit kon regkry,” het Izak de Vries, Lapa-mediabestuurder, gesê.

Lede van die Suid-Afrikaanse Boekverkopersvereniging (Saba) nomineer jaarliks boeke wat hulle geniet het om te verkoop, te bevorder en te lees.

Die boeke moes tussen 1 Januarie en 31 Desember 2015 uitgereik gewees het, en die skrywer moet Suid-Afrikaans wees om in aanmerking vir die prys te kom.

Irma-Joubert

Irma Joubert kuier in Maroela Media se ateljee waar sy gesels oor haar jongste boek Immer wes. Foto: Romanzalesers.wordpress.com

Ander boeke wat vanjaar ook op die kortlys is, is Paige Nick se Death by carbs, Zakes Mda se Little Suns, Sally Andrew se Recipes for love and murder: A Tannie Maria mystery en Panashe Chigumadzi se Sweet medicine.

Joubert se Immer Wes is ook elders baie gewild. Die Nederlandse vertaling van Immer Wes, getiteld Hildegard, het vroeër vanjaar binne twee weke uitverkoop.

Meyer het in 2012 dié gesogte prys ontvang vir sy boek, 7 Dae.

Die publiek kry nou weer die geleentheid om vir die tweede ronde deur middel van stemme ʼn wenner aan te wys. Daar kan nog tot 19 Julie gestem word vir jou gunstelingboek.

Die wenner word vanjaar tydens die gala-geleentheid op 30 Augustus by die Vineyard Hotel in Kaapstad aangekondig.

Joubert en Meyer is tans onderskeidelik met vakansie in Frankryk en Botswana en kon nie onmiddellik bereik word vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mien ·

Baie geluk aan albei skrywers. Hulle verdien dit. Het omtrent al hulle boeke gelees en hulle boeke het ‘n ereplek op my boekrak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.