Mienke gaan eerste keer huis toe ná voorval by dagsorg

Verna en klein Mienke (Foto: Facebook)

Die nege maande oue baba, Mienke Mulder, van Mbombela (Nelspruit) was die afgelope naweek vir die eerste keer in drie maande saam met haar gesin by die huis nadat sy in Augustus byna by ʼn dagsorgsentrum dood is.

Ryno Mulder, Mienke se pa, het aan Maroela Media vertel die personeel by die rehabilitasiesentrum waar Mienke tans behandeling ontvang, het verlede week gesê die gesondheids- en veiligheidsrisiko’s is ná weke lange behandeling uiteindelik min genoeg dat die egpaar haar huis toe kon neem.

Mulder sê die hele gesin was oorstelp van vreugde. “Dit was baie emosioneel gewees,” vertel hy. “Dit is iets heel anders om as gesin saam in ʼn hospitaalkamer te wees. Dit is die eerste keer in drie maande dat ons as gesin saam in ʼn huis is – ons ken nie meer dié gevoel wat vir ander normaal is nie.”

Die egpaar het Mienke die naweek na hul ander kinders se dagmoeder se huis geneem. Omdat hul huis in Nelspruit is, sou hulle haar nie kon huis toe neem nie.

Mulder sê die gesin het intussen besluit om hul huis in Nelspruit prys te gee en ʼn huis in Benoni aan die Oos-Rand te huur sodat hulle meer tyd saam met Mienke kan deurbring.

“Ons mis dit maar om tussen ons eie goed te wees – Verna en die kinders kan nie elke dag op en af ry nie. Ek sal steeds in Nelspruit werk en dan aanhou om elke naweek Johannesburg toe ry om by hulle te wees. Ons sal dit doen terwyl ons volhard in ons geloof totdat ons paaie weer gelyk gemaak is.”

Klein Mienke (Foto: Facebook)

Mienke ontvang steeds haar 16 weke lange behandeling in ʼn Johannesburgse rehabilitasiesentrum. Mulder sê dit gaan elke dag beter met haar gesondheid.

Hy sê die gesin se “harte het geskeur” toe hulle Mienke weer Sondag by die rehabilitasiesentrum moes aflaai.

“Ons het die teenoorgestelde ervaar as wat ons Vrydag gevoel het. ʼn Mens is weer stukkend en jy beleef die seer weer van voor af as jy haar daar moet los. Maar dit gaan beslis beter met haar gesondheid. Ek sien haar net naweke, so ek kan duidelik sien dat dit met haar goed gaan. Sy vorder elke dag en is baie rustiger as wat sy voorheen was. Ons weet ons kan nie twyfel nie en moet net bly glo dat God ons sal help en dat sy moontlik ten volle sal herstel. Ons dien ʼn groot God wat ons tot op dié punt gebring het – nou kan haar gesondheid ook verder verbeter.”

Maroela Media het vroeër berig klein Mienke is op 25 Augustus na die hospitaal gehaas toe sy glo aan melk verstik het. Volgens mediese personeel was sy ʼn geruime tyd sonder suurstof. Sy is vir etlike weke in die hoësorgeenheid van ʼn Johannesburgse hospitaal verpleeg. Die gesin het vroeër gevra vir gebede en vertel dat hulle vasklou aan hul geloof.

Die Facebook-blad Please Pray for Mienke gee daagliks meer inligting oor Mienke se vordering. Vir meer inligting besoek Please Pray for Mienke op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.