Miljoene liters water aan Kaapstad verskaf

Argieffoto (Foto: dechatorn, Pixabay)

Coca-Cola Peninsula Beverages (CCPB) het Donderdag gesê hulle is besig om die laaste detail te finaliseer om miljoene liters water aan Kaapstad en die Wes-Kaap te verskaf, om die stad te help om die effek van Dag Zero te verlig.

Dié inisiatief word deur CCPB, in samewerking met die Coca-Cola Stigting en ander verskaffers gedoen. Hulle beoog om “voorbereide water” in 2-liter- herwinbare bottels te verskaf.

Priscilla Urquhart, bestuurder van openbare sake en kommunikasie by CCPB, het gesê die inisiatief is afhanklik van die maatskappy se toegang tot alternatiewe waterbronne, om die munisipale water aan te vul. Sy het verduidelik die bottels sal duidelik as “nie vir herverkoop nie” gemerk word, en sal aan noodterreine verskaf word soos deur die provinsiale taakspan vir water en die rampbestuurspan bepaal.

“Ons is baie bekommerd oor die waterkrisis wat dié stad in die gesig staar en het verskeie veranderinge geïmplementeer om seker te maak ons bedrywighede is water-slim,” het Urquhart bygevoeg. “CCPB het ook R1 miljoen gegee om te help met die finansiering van ʼn entrepreneurskap-inisiatief, in samewerking met die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering, om nuwe idees te befonds wat ʼn ‘waterslim-ekonomie’ bevorder.”

CCPB het ook reeds afslag beskikbaar gestel vir hul kleinhandelkliënte op die BonAqua 1.5L-waterbottels om sodoende vir hul verbruikers ʼn meer bekostigbare prys te gee.

Volgens Urquhart het CCPB al in ʼn groot hoeveelheid inisiatiewe belê om die afhanklikheid van munisipale water te verlig. Die maatskappy het byvoorbeeld drie 33,000 liter-watertenks bekom om water van die bron na waterskaars-gebiede te vervoer.

CCPB is een van die hoofvennote van die Kaapstad-fietstoer (in die verlede bekend as die Cape Argus-fietstoer) en sal dié tenks gebruik om te help om die 2 miljoen liter water, wat tydens dié fietsrygeleentheid gebruik gaan word, by die nodige plekke af te lewer.

Water word buite die Wes-Kaap verkry in gebiede waar daar geen watertekorte is nie, en word dan bygevoeg tot die stad se plaaslike waternetwerk. Dit sal verseker dat die Stad Kaapstad in Maart, wanneer die geleentheid plaasvind, water-neutraal bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pop ·

Almal help. En dankie die Hemelse Vader daarvoor. Intussen sit die regering en boggerol doen. Al daai dam oppervlakte wat nou droog le kon al lankal geskrop gewees het. Daar le tonne slik wat kan opgeruim word en sodoende die damme meer kapasiteit te gee. Maar niks word gedoen. Net mooi niks. Alles vergaan en niks word gedoen.

Ben ·

Pop om die damme nou skoon te maak gaan die bietjie water wat daar oor is onbruikbaar besoedel. Die damme is groot genoeg, maar die reënval is te lag om dit vol te maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.