Mishka Loesch praat oor angs en uitreikwerk

Mishka Loesch hou vol met haar uitreikwerk in die inperkingstyd. (Foto: Verskaf.)

Deur Yolanda Taylor

Die radio- en televisiepersoonlikheid, Mishka Loesch, glo oefening en haar uitreikwerk om ander mense te help, is medisyne vir haar angs in die afsonderingstydperk. Sy het haar selfterapie met Maroela Media gedeel.

“Die dag toe die afsonderingstydperk aangekondig is, is al wat deur my kop gegaan het, uiterste paniek. Ek het geweet dit gaan gebeur. As nuusleser op Good Hope FM, verkies ek om ingelig te wees, selfs al beteken dit die aanwakker van my angsaanvalle.”

Mishka sê dit is ’n algemene vraag wat mense haar vra, waar haar angsaanvalle begin het.

“My ma is in 2015 aan kanker oorlede. Alles het basies begin met ’n verlies aan beheer. Toe my ma siekword, was dit die eerste keer in my lewe dat ek absoluut geen beheer gehad het oor die uitkoms van ’n familielid se lewe nie. Dit was nie net ’n verkoue of ’n gebreekte arm nie. Dit was kanker. En dit was my ma.”

Sy vertel dat dit nie werklik gevoel het nie, maar meer soos ’n toneel wat jy in ’n fliek sien, tog was dit die realiteit.

“Dit het definitief begin met my gevoel dat ek geen beheer het om my ma te red nie. Ek was nie in staat om enigiets te doen om haar te help nie. Ek kon nie haar pyn minder maak nie, ek kon haar nie red nie. Dis ’n gevoel van algehele hulpeloosheid. Boonop was daar in 2017 drie pogings tot kaping en, weer eens, was dit ’n situasie totaal buite my beheer.”

Sy sê nog ’n vraag wat mense byna daagliks vra, is hoe sy deur haar angsaanvalle werk.

“Dit bly ’n voortdurende stryd, dit is nie iets wat sommer net verdwyn nie. Deur elke dag net klein treetjies te neem, het my gehelp. Ek het byvoorbeeld ’n app op my selfoon afgelaai wat my help met asemhaling. Ek het ook my man, Donovan, se stem op my foon. Ek gaan oor tot dié stap wanneer ek ’n baie ernstige ‘episode’ beleef soos wanneer ek bestuur, wat elke nou en dan gebeur.”

Sy is ’n gekwalifiseerde NLP-terapeut (neurolinguistiese programmering) en het in 2018 haar kwalifikasie gekry. Dit het haar gehelp om die angstigheid te verstaan en hoe om dit te hanteer. Sy voeg by dat oefening ook ’n enorme hulp is en ’n groot verskil maak.

Mishka is ’n noodsaaklike werker gedurende die staat van inperking.

Mishka saam met een van haar katte. (Foto: Verskaf.)

“My angstigheid het sommer gou ingeskop. Die Vrydag voor my eerste Saterdagskof in afsondering op Good Hope FM, het ek ’n hewige angsaanval gehad. Ek was seker ek gaan 100% siek word of ek gaan op pad werk toe afgetrek word en tronk toe gestuur word weens die vermoede dat ek die virus het (ja, dit is werklik die gedagtes wat deur my kop gegaan het!). Of ek gaan beroof word op die N2 omdat daar minder voertuie op die paaie is.

“Toe ek dié aanval gekry het, was daar geen lig aan die einde van die tonnel in my angsvervulde verstand nie.”

Mishka verduidelik dat natuurlik niks hiervan waar geword het nie. Tot dusver word die padblokkades met algehele respek uitgevoer. Sy het altyd die nodige dokumentasie by haar en kan gaan werk sonder enige probleme. Daar is ook ander voertuie op die paaie en misdaad is eintlik minder.

“Ek besef hoe bevoorreg ek is om steeds ’n inkomste te kan genereer tydens hierdie wêreldwye pandemie. Ek het ook besef hoe belangrik ons stemme op die radio is om ander noodsaaklike werkers geselskap te hou gedurende hierdie onseker tyd.”

Mishka het wel ander werksgeleenthede verloor (en dus ’n inkomste) as gevolg van die Covid-19 pandemie en is tans die enigste een wat ’n inkomste in hul gesin verdien.

Mishka glo oefening help om haar angstigheid beter te hanteer. (Foto: Verskaf.)

“My angstigheid het wel die oorhand gekry die dag toe president Ramaphosa die landwye afsondering aangekondig het, maar wat het ek daaruit gekry? Ek het ’n verlengde wittebrood gekry aangesien ons in Januarie getroud is. Ek het tyd gekry om te rus. Ek het tyd gekry om aan my drome te werk wat ek altyd eenkant toe gestoot het omdat daar nie tyd was nie. Ek het perspektief gekry.”

Mishka sê almal van ons kan die staat van inperking as die “einde van ons wêreld” sien, net soos wat sy die dag van die aankondiging gedoen het. Of ons kan die tyd wat ons almal gekry het, wys gebruik.

“Tyd kan ’n bondgenoot of vyand wees. Wat dit word, hang uitsluitlik van jou af, van jou doelwitte en jou vasberadenheid om elke beskikbare minuut te gebruik. Daarmee sê ek nie jy moet nou ’n bobaassjef word of ná die afsondering ’n nuwe besigheid begin of spog met ’n sespak nie. Ons almal hanteer hierdie pandemie op ons eie manier en ek respekteer dit. Sommige van ons doen die eieruitdaging, ander laai TikTok af en ander doen tuisoefeninge vir twee uur en/of hardloop ’n afstand van 10 km in hul eie huis.”

Sy glo dat elkeen sy gevoelens moet hanteer soos nodig, solank almal weet dat hy of sy nie alleen is nie.

“Die hele wêreld gaan gebukkend onder hierdie pandemie, maar dit sal ook verbygaan. Dit, my vriend, is al wat my angs balanseer en my hart en verstand kalm hou.”

Die #MishkaLoeschSanitaryDrive

Hierdie sosiale media gedrewe veldtog vra dat soveel as moontlik mense ’n pak sanitêre doekies afgee by verskeie verspreidingspunte:

  1. Kaapstad: OMD Media
  2. Paarl: Paarl FM, Studio 5, Rembrandt Mall, Paarl
  3. Stellenbosch: Vredenburg Manor House (TBC)
  4. Helderberg: NH The Lord Charles Hotel
  5. Somerset Wes: Kia Motors
  6. Gordonsbaai: Krystal Beach Hotel
  7. Durbanville: Sagewoodstraat 6, Sonstraalhoogte
  8. Brackenfell: Olienhoutstreet 4, Proteahoogte
  9. Maitland: Mystique India, Campstraat 1-5
  10. Montague Gardens: E-Fisheries and Take Aways, Montague-rylaan, Milnerton
  11. Villiersdorp: Donlo Auto, Hoofstraat
  12. Kleinmond: The Health And Beauty Clinic
  13. Kia Somerset West

Die bogenoemde besighede het hulself beskikbaar gestel as afgeepunte. Die hooffokus areas is Helderberg/Somerset-Wes/Strand, want Mishka glo verandering en welwillendheidswerk begin tuis. Die veldtog hardloop van Maart tot Augustus en die doelwit is om te ‘Help om ’n meisiekind in die skool te hou’. Die drive is geïnspireer deur Paarl FM se Lynden Jafta, wat sy eie drive het in die Paarl. “Ons het vanjaar toevallig by KykNet se Fiestas ontmoet en ek het dadelik geweet ek moet my eie drive tuis begin. Elke laaste Vrydag van elke maand, beplan ons om dit af te gee by skole wat ons hoop betrokke sal raak by ons inisiatief”:

  1. 29 May: Firgrove Primary
  2. 26 June: Temperance Town Primary
  3. 31 July: Rusthof Primary
  4. 28 August: Danie Ackerman Primary

Weens COVID-19 is die afgee van die sanitêre doekies by skole vir eers op ys, maar Mishka wil mense aanspoor om steeds ’n pak doekies te koop wanneer hul hul noodsaaklike kruidenierswareaankope doen en hou dit tot ná die staat van inperking. “Alhoewel die afgeepunte tans gesluit is, kan ek enigiets wat jy wil skenk kom optel. Ek wil steeds aanhou met hierdie drive en sodoende ’n verskil maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.