Mitsubishi, Maroela Media vat hande om kinderhuis te steun

Jakaranda-kinderhuis sien om na sowat 230 kinders op sy terrein in East Lynne, Pretoria. (Foto: Jakaranda Liggiefees/YouTube)

Die Jakaranda-kinderhuis in Pretoria was Donderdag een van vyf welsynsorganisasies wat ʼn kontantskenking van Mitsubishi Motors Suid-Afrika (MMSA) ontvang het.

Mitsubishi het sy nuwe kruismodel, die Eclipse Cross, vandeesmaand op ʼn unieke wyse bekendgestel met skenkings aan verskillende organisasies in die land as deel van sy Mandeladag-vieringe.

Brendon Staniforth, Maroela Media se motorjoernalis, het dié kinderhuis in die Jakarandastad vir die skenking genomineer en Charlene Grobler, uitvoerende hoof van die kinderhuis, het die skenking van R6 700 aanlyn ontvang.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV), die Heilsleër, die Maletsatsi-stigting en Gift of Givers is die ander vier organisasies wat by die #FriendsofMitsubishi-skenkings baatgevind het.

Volgens Nic Campbell, hoofbestuurders van MMSA, wou die motorgroep hulle vriende in die media die geleentheid gee om hulle gunsteling-liefdadigheidsorganisasies te ondersteun.

“Oudpres. Nelson Mandela het geglo die verskil wat ʼn mens in ʼn ander se lewe kan maak, is eintlik dit wat die belangrikheid van die lewe wat ons lei, sal bepaal. Ons het die boodskap ter harte geneem met vanjaar se Mandeladag-vieringe,” sê hy.

“Ek is self pa van drie kinders en organisasies wat kinders help, raak my hart. Noudat my oudste self ʼn tiener word, kan ek nie help om te wonder wie sien om na die ouer kinders daar buite wat nie ʼn liefdevolle gesin het nie. Ek weet wat dit verg om ʼn huishouding te bestuur en daarom het ek die grootste respek vir ʼn kinderhuis soos Jakaranda wat na honderde kinders op ʼn slag omsien,” sê Staniforth.

Die Jakaranda-kinderhuis het ʼn kontantskenking van Mitsubishi Motors Suid-Afrika ontvang. Brendon Staniforth van Maroela Media het die kinderhuis genomineer en Charlene Grobler, uitvoerende hoof van die kinderhuis, het die skenking aanlyn ontvang. (Foto: Automotive Business Review/Twitter)

Volgens Grobler sal Mitsubishi se skenking aangewend word om multidissiplinêre terapie aan die kinders te bied, wat ʼn veilige en liefdevolle huis by Jakaranda-kinderhuis vind.

“Ons kinders word in die kinderhuis geplaas weens verwaarlosing, verlating en fisieke en emosionele mishandeling. ʼn Skenking soos hierdie sal ver gaan om ons te help om hulle pyn te help genees.”

Jakaranda-kinderhuis (voorheen die Abraham Kriel-kinderhuis Pretoria) kan teen volle kapasiteit ʼn veilige tuiste vir 230 kinders tussen drie en 18 jaar oud bied.

Grobler sê met die pandemie se ekonomiese gevolge het talle mense, organisasies en maatskappye koste begin bespaar deur te besnoei op uitgawes wat hulle beskou as luukshede en skenkings aan liefdadigheid.

Dit het ʼn direkte uitwerking op Jakaranda-kinderhuis se inkomste gehad wat ook talle van sy eie geldinsamelingsprojekte, soos die jaarlikse Jakaranda Liggiefees, moes staak weens strenger inperkingsmaatreëls om die pandemie te stuit. Die inkomste uit hierdie fees het gewoonlik die kinderhuis in East Lynne se uitgawes gedek terwyl die bestuur wag vir die kinderhuis se jaarlikse staatsubsidie.

Grobler moedig lesers aan om betrokke te raak as vrywilligers by die kinderhuise. Die kinderhuise ontvang klere, kos en finansiële skenkings. Besoek die Jakaranda-kinderhuis se webwerf of sosialemediaplatforms vir meer inligting, of stuur ʼn e-pos aan Ina Kotze na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.