Mobiele gesondheidsdiens ondersteun rooiboswerker

Verpleegsuster Lenay Zimri help ʼn pasiënt met ʼn roetine ondersoek. (Foto: Verskaf)

Die Pebbles-projek gaan ʼn mobiele gesondheidskliniek vir 800 plaaswerkers en hul kinders op rooibosteeplase in die Clanwilliam- en Citrusdal-omgewing beskikbaar stel.

Hierdie kliniek sal die werkers toegang gee tot welstand- en roetine gesondheidsondersoeke, asook primêre gesondsorgondersteuning en oor-die-toonbank gesondheidsprodukte.

Verder word daar ook beplan om gesondheidswersessies oor onderwerpe soos gesinsbeplanning, moedergesondheid, higiëne, tuberkulose, MIV/vigs, dwelmmisbruik en lewenstylsiektes by die kliniek aan te bied.

Die Pebbles-projek verteenwoordig 17 jaar se ondervinding in die ondersteuning van boerderygemeenskappe in die Wes-Kaap. Die vennootskap met Twinings, ʼn internasionale teemaatskappy in die Verenigde Koningryk, is egter ʼn eerste vir die teemaatskappy en vorm deel van sy “Sourced with Care”-program wat daarop fokus om hulle produkte met verantwoordelikheid en sorg te verkry.

Volgens Sophia Warner, uitvoerende hoof van die Pebbles-projek, is die gebrek aan toegang tot gehalte-gesondheidsorg ʼn reuse-uitdaging vir mense wat in boerderygemeenskappe in afgeleë gebiede soos Citrusdal en Clanwilliam woon en werk. Dit is ook hier waar Twinings sy inheemse Suid-Afrikaanse rooibostee kry.

Zimri (regs) het geesdrif vir die opheffing van die gemeenskap. (Foto: Verskaf)

“Baie plaaswerkers kry nie gereeld gesondheidsondersoeke nie en ontvang nie betyds mediese hulp of inligting wat hulle benodig nie. Die werkers loop gevolglik die risiko van ernstiger gesondheidstoestande wat voorkom kon word as dit vroeër behandel is. Gebrek aan kennis en inligting kan ook bydra tot gesondheidsuitdagings wat ʼn invloed kan hê op die individu se vermoë om te werk en vir hul gesin te sorg.

“Die doel van die projek is om rooibosteewerkers in staat te stel om beheer oor hul gesondheid te neem en die mediese ondersteuning te kry wat hulle benodig. Die diens sal bestuur word deur verpleegsuster Lenay Zimri, wat nege jaar ervaring het in gemeenskapsgesondheid.”

Warner voeg by dat Zimri geesdrif vir die opheffing van die gemeenskap het. Voorts het Rooibos Bpk in Clanwilliam ook ʼn bykomende kantoorruimte vir die projek en veilige parkeerplek vir die projek se voertuig verskaf.

Sy sê dat hulle opgewonde is om saam te werk met Twinings, wat die Pebbles-projek in staat stel om hul reikwydte uit te brei na ʼn nuwe geografiese gebied, terwyl hulle saam met ’n onderneming werk wat daartoe verbind is om terug te gee aan plaaslike gemeenskappe.

Die Pebbles-projek se mobiele gesondheidskliniek gee 800 plaaswerkers en hul kinders op toegang tot gesondheidsorg. (Foto: Verskaf)

Céline Gilart, hoof van maatskaplike impak by Twinings, sê hul “Sourced with Care”-program poog ook om die lewensgehalte in die gemeenskappe waar hul tee vandaan kom te verbeter, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd.

“Rooibos is ʼn belangrike deel van ons portefeulje en ons is so bly om in die vennootskap met die Pebbles-projek saam te werk. Ons visie is vir gesonder, gelukkiger, bemagtigde en volhoubare gemeenskappe in ons verskaffersketting en hierdie vennootskap, wat beter toegang tot gesondheidsorg moontlik maak, sal ons help om ons visie te bereik. ”

Die Pebbles-projek wat in 2004 gestig is, bied ondersteuning en intervensie op die gebied van onderwys, gesondheid, voeding, gemeenskapsdienste en maatskaplike beskerming aan ongeveer 1 400 kinders in Wes-Kaapse boerderygemeenskappe. Die jongste vennootskap sal gebruik maak van die infrastruktuur van een van hul bestaande sentrums vir vroeëkinderontwikkeling in Citrusdal om gesondheidsorgdienste aan die boeregemeenskap en hul gesinne aan te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.