Modelkompetisie nooi vir eerste keer modelle van diversiteit uit

Estrolita Williams gaan ook aan die kompetisie deelneem. (Foto: Verskaf)

Die Top Model Suid-Afrika- (TMSA-) kompetisie wat volgende jaar in Pretoria gehou gaan word, gaan vir die eerste keer ʼn Modelle van Diversiteit-afdeling hê, wat mense met gestremdhede die geleentheid gun om aan die kompetisie deel te neem.

Die kompetisie sal 180 deelnemers by die finale byeenkoms byeenbring, met 15 van die deelnemers wat in die Modelle van Diversiteit-kategorie gaan deelneem. Hierdie deelnemers strek van modelle in rolstoele, modelle met gehoorgestremdheid tot modelle met spraakprobleme.

Estrolita Williams, ʼn 37-jarige inwoner van Oudtshoorn, wat met serebrale gestremdheid gebore is, sal ook volgende jaar aan die geleentheid deelneem. “Ek is baie opgewonde om deel te neem. Dit is die eerste keer dat gestremde persone ook kan deelneem,” vertel sy aan Maroela Media.

Williams, wat met behulp van ʼn loopraam loop, samel tans geld in sodat sy op 16 November ʼn werksessie vir sosiale verryking in Pretoria kan bywoon. Die opleidingswerksessies word deur die Top Model-organisasie aan alle finaliste gebied, waar hulle touwys gemaak word oor die modelbedryf.

Hier leer hulle lewensvaardighede, opleiding vir die loopplank, opleiding om reg te vertoon voor die kameras, sosialemedia-opleiding, hoe om jouself as handelsmerk op te bou, etiket en ondernemingsvaardighede.

Bernadette Rigney, die skoonheidskompetisie se hoof van diverse modelle en direkteur by Fability, sê sy het in 2014 ʼn doelwit gestel om die wêreld van gestremdhede te moderniseer en stereotipes rakende gestremdhede af te breek. Dus het sy Fability gestig.

Rigney, wat self met ʼn gestremdheid gebore is, sê haar onderneming het vanjaar met TMSA ʼn vennootskap aangegaan om hierdie doelwit verder te voer. Die TMSA-kompetisie vorm deel van die Top Model Worldwide-onderneming, wat deur oudmodel Tyra Banks gestig is en gereken word as die top- internasionale soektog na professionele modelle.

Rigney sê die organisasie het oorspronklik 4 000 inskrywings vir die kompetisie ontvang, maar dit is na die 180 finaliste uitgedun.

Die amptelike kompetisie word 27 Februarie 2020 by die Sun Arena, by Times Square in Menlyn, Pretoria, gehou.

Williams, wat tans werkloos is, beoog ook om tien kaartjies aan toeskouers vir die kompetisie te verkoop. “Die finansiering is die hoofding, en ek het hulp nodig met my hare en grimering,” sê Williams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Arak ·

Is die doel van die kategorie om dames met gestremdhede ‘n kans te bied? Hoekom word dit dan nie modelle met gestremdhede genoem nie? Jammer, maar ek vermoed die doel is om die “transgender” agenda weer bietjie te dryf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.