Modeontwerp: Twee beurse op die spel

Gert Johan Coetzee (Foto: Instagram)

As jy ʼn natuurlike aanvoeling én ʼn passie vir die jongste modes het, kan jy moontlik ʼn vol studiebeurs aan die Noordwes-ontwerpskool in Klerksdorp losslaan en boonop Gert Johan Coetzee as mentor kry.

Coetzee, een van Suid-Afrika se gewildste glansontwerpers, bied vanjaar weer twee beurse vir studie in die modebedryf aan vir studente wat volgende jaar met hul studieloopbaan wil begin.

Dit is vanjaar die sewende jaar dat Coetzee in jong talent belê en sy program, waardeur hy die Suid-Afrikaanse modebedryf wil help groei, uitbou. Die beurse, wat in totaal R345 000 werd is, dek klasgeld en studiemateriaal vir drie jaar by dié modekollege. Die studente word ook ʼn internskap in die ontwerper se ateljee aangebied.

“Die vervulling wat ek ervaar deur my brood te verdien in die bedryf waar my passie lê is wat my geïnspireer het om dieselfde vir ander moontlik te maak,” sê Coetzee. “Dit ís moontlik om ʼn bestaan te maak in die modebedryf, maar behalwe ʼn oog vir mode, moet jy baie gefokus en vasberade wees om ʼn sukses daarvan te maak.”

Coetzee was reeds voor die ouderdom van 30 ʼn gerekende ontwerper. Hy het self ook in 2003 by dié modekollege studeer.

Die eerste beurs word vir modeontwerp aangebied terwyl die tweede beurs spesifiek vir modekommunikasie en -aankope is. Albei kwalifikasies word oor drie jaar voltooi en is internasionaal geakkrediteer.

Gert Johan Coetzee saam met die huidige mej. Suid-Afrika, Demi-Leigh Nel-Peters (Foto: Instagram)

Twee vroeëre beurshouers het reeds hul eie ondernemings begin nadat hulle by NWSD gekwalifiseer het.

Benewens talent moet jy ook oor die regte gesindheid beskik om in aanmerking te kom vir dié beurs. “Ek wil studente toerus om ʼn bestaan te kan maak in die modebedryf, so ek gaan mense kies wat die passie, gedrewenheid en toewyding het wat ek weet nodig is. Die suksesvolle kandidate sal ʼn aangebore mode-instink hê en ook bereid wees om die lang ure in te sit om bo uit te kom.”

Die twee suksesvolle kandidate sal naaimasjiene ter waarde van R45 000 van Bernina ontvang om met hul studies te help. Albei kwalifikasies kan gevolg word deur ʼn vierdejaar lisensiaatskap wat die hoogste internasionale modekwalifikasie is wat in Suid-Afrika aangebied word.

Die North West School of Design (NWSD) is ʼn internasionale modekollege wat geakkrediteer is deur City & Guilds of London. Die suksesvolle kandidate sal aansluit by die groep Gert Johan Coetzee-beurshouers wat tans met hul studies besig is.

Beursaansoeke sluit op 9 Oktober 2017. Vir meer inligting besoek die ontwerpskool se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wern ·

Dankie vir hierdie groot geleentheid. Stuur asseblief aan na alle hogerskool onderwysers, veral wat verbruikerswetenskappe aanbied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.