Modeontwerper help blindes met unieke braille-klerereeks

Balini Naidoo Engelbrect. (Foto: Verskaf)

Balini Naidoo Engelbrecht glo alle mense, ongeag hul vermoëns of fisieke perke, verdien die waardigheid om soggens hul eie klereuitrusting te kies.

Daarom het dié Saldanha-gebaseerde modeontwerper besluit om gesiggestremdes te bemagtig deur die wêreld se eerste braille-identifikasiestelsel vir klere te ontwerp wat hul meer onafhanklikheid bied om self tussen verskillende kledingstukke te onderskei.

“Net omdat iemand sy of haar sig verloor het, beteken dit nie dat hulle nie oor hul voorkoms omgee nie. Gesiggestremdes wil ook graag goed lyk of ten minste met selfvertroue ʼn uitrusting aanmekaarsit waarin hulle gemaklik én goed voel,” sê die 30-jarige modeontwerper.

Die braille-identifikasiestelsel lyk soos modieuse patrone. (Foto: Verskaf)

Dié Durbaniet het aanvanklik argitektuur by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie studeer, maar skerts dat dit egter “nie vir haar was nie”.

Sy het toe uiteindelik in 2018 haar BTech-graad in tekstiel- en modeontwerp by die Durban Universiteit vir Tegnologie voltooi en daarna saam met haar man na Saldanhabaai getrek, waar sy pasgemaakte kledingstukke soos trou- en matriekafskeidrokke begin maak het.

Sy vertel dat haar gesiggestremde oom haar egter bewus gemaak het van die algemene struikelblokke wat hy daagliks ervaar en sy het reeds op universiteit navorsing begin doen oor maniere waarop sy haar vaardighede kon gebruik om hom en ander in sy posisie te help.

Haar navorsing het daarop gedui dat 32% van gestremde Suid-Afrikaners ʼn gesiggestremdheid het en dat 57% van hulle vroue is. Boonop is 23% van gesiggestremde mense tussen 15 en 36 jaar oud, aldus die Suid-Afrikaanse nasionale raad vir blindes.

Engelbrecht gebruik toe haar ontwerpvernuf én kennis oor gesiggestremdheid om haar eie klerereeks, BALINI Ltd, in 2019 te stig waarop braille as ʼn estetiese én praktiese komponent geïnkorporeer word.

Engelbrecht het haar reeks in 2019 gestig. (Foto: Verskaf)

Haar innoverende braille-identifikasiestelsel, waarop sy patentereg het, word op items soos hemde, rompe, rokke, broeke en baadjies gedruk en beskryf elkeen se kleur, snit, grootte en wasaanwysings. Vir mense wat nie sigprobleme het nie, lyk dit eenvoudig soos moderne en modieuse patrone.

Die items is egter ook sonder die braille-“patrone” beskikbaar, maar volgens Engelbrecht koop selfs mense sonder sigprobleme graag items met die braille op.

Haar reeks is hoofsaaklik in neutrale skakerings beskikbaar en weens die hoë produksiekoste word dit tans slegs op aanvraag vervaardig. ʼn Persentasie van die winste word ook aan die KwaZulu-Natalse blinde en dowe vereniging geskenk.

Die reeks is hoofsaaklik in neutrale skakerings beskikbaar. (Foto: Verskaf)

Dié innoverende reeks het reeds in talle publikasies en televisieprogramme soos Elle en Top Billing verskyn. Engelbrecht het ook verskeie toekennings vir haar baanbrekerswerk verower en is onlangs met ʼn seremoniële eerbewys in die parlement vereer.

Haar droom is egter om haar reeks en identifikasiestelsel op ʼn groter skaal by gevestigde klerehandelaars te sien. Sy wil ook graag haar deel doen om mense op te hef deur ʼn opleidingsentrum te stig waar mense naaldwerkvaardighede kan leer.

“Ek glo dat dit wat ons vir onsself doen saam met ons sterf, maar dat dit wat ons vir ander doen egter sal voortleef. Daarom streef ek daarna om deur my werk ʼn daadwerklike en morele verskil in die mode- en skoonheidswêreld te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.