Moedertaaldag: Bekendes se gunstelingwoorde

Marciel Hopkins. (Foto: Sulet Fourie)

Vandag (21 Februarie) is Internasionale Moedertaaldag en daarom het Virseker vir ʼn paar bekendes gevra wat hulle gunsteling- Afrikaanse woord is.

Met iets soets in gedagte kies die Boer soek ʼn vrou-aanbieder Marciel Hopkins “spookasem”. Die sanger Willem Botha en televisiesjef Herman Lensing volg kort op Hopkins se hakke met “pampoenpoffertjie” en “pannekoek” as hulle gunstelingwoorde in Afrikaans.

Suidooster-aktrise Annelisa Weiland hou van die woord “wyn” – iets wat letterlik en figuurlik sag op die tong is, terwyl Cintaine Schutte meen dat niks wanorde heeltemal so goed soos die woord “befomfaai” illustreer nie.

Tracey Lange, bekende TV- en radio-aanbieder, sê: “ʼn Mens kan iemand op geen ander manier terg of die stryd aansê – veral as hulle jou goed befomfaai – as met die woord ‘karnuffel’ nie.”

Die Binnelanders-akteur Germandt Geldenhuis kies “meedoënloos”, want “daar’s geen beter beskrywing vir iemand wat werklik gevaarlik is, se optrede nie”, en as konflik en die wêreld se meedoënlose aard jou uitput, meen die Suidooster-akteur Dean Smith slaap ʼn mens op jou lekkerste wanneer jy net gou ʼn bietjie “dut”.

Niel Bruwer, wat onlangs aan die gewilde kykNET-maatsoekprogram Boer soek ʼn vrou deelgeneem het, het op dié bekendes se woorde gereageer met: “Sjoe, maar dis omtrent ʼn mondvol! Afrikaans is elke keer in die kol met ʼn woord wat in geen ander taal heeltemal so mooi van die lippe af rol nie.” Sy gunstelingsêding is “Skote Petoors”.

Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker, sê Afrikaans is nie net ʼn taal vir mooipraatjies nie, dit is ook ʼn “inspring en dóén”-taal.

Tracey Lange. (Foto: Verskaf)

Tot op hede het die Virseker Trust reeds meer as R90 miljoen in Afrikaans belê. Die klem word veral geplaas op die Afrikaanse kunstebedryf, opleidings- en onderwysinisiatiewe in gemeenskappe, sportontwikkeling en ondersteuning van behoeftige persone.

Van die projekte waarin belê is, sluit in Akademia, die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW), Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Wolkskool, WEET (ʼn e-naslaangids vir leerders), verskeie studielenings vir verdienstelike studente, Aardklop, Innibos, die Virseker-beker-skolerugbytoernooi en ʼn R1 miljoen-skenking aan Covid-19-verligtingsprojekte.

“Op Moedertaaldag vier ons Afrikaans – ʼn taal wat soveel meer doen as net lekker praat, en wat in minder as ʼn honderd jaar grense in die sakewêreld, die kunste, op die sportveld en aan die liefdadigheidsfront, verskuif het,” sê Coetzee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.