Moenie jou Sondag verloor nie

(Foto verskaf)

Ek het effens mistroostig gevoel toe ek die afgelope Sondagoggend so op die boomryke Elsenburg-pad terug Kaap toe ry.

Die takke het by tye ingeleuen onder die aanslag van die wind en die opgeskote kind wat so tjoepstil onder ʼn boom gesit het, het my onrustig gemaak.

Na twee nagte se min Stellenbosch-slaap danksy ooraktiewe honde, het die pad terug boonop langer as gewoonlik gevoel. Die einste hondekinders kon hulle lyfies egter lekker op die sitplekke uitstrek – moeg gespeel na die naweek se nagtelike eskapades van die ystervark-familie op die stoep, die voëls wat jolig by die waterbakke kwetter, skarrelende veldmuisies en selfs ʼn paar paddas in die huis.

So met die kind nog in my kop kom ʼn man en vrou op hulle peperduur fietse van vooraf en waai vriendelik met die verbygaan. Hulle trap dat dit bars, maar met breë glimlagte van lekkerkry.

Dit laat my toe dink aan “Sondae” en dat dié dag vir verskillende mense darem baie verskillende betekenis het én uiteenlopende emosies ontlok.

Vir vele is dit ʼn rusdag en dag van aanbidding. Soos die Amerikaanse digter Ruby Archer skryf: “How sweet to wait within a holy place; the hour of song and prayer”.

Vir ʼn klomp fikses en natuurliefhebbers is dit die dag waarop hulle hulself na hartelus kan uitleef. Vir ander is dit ʼn dag van sommer net niksdoen en dan is daar dié wat behoorlik inhaal op kuiers met familie en vriende.

Maar daar is ook baie mense wat Sondae eensaam en angstig is. Volgens ʼn artikel in die Amerikaanse Journal of Emergency Medicine is selfmoord onder volwassenes die algemeenste op Sondae en Maandae.

Dié tydperk simboliseer ʼn “vars begin”, maar vir baie mense is dit net “nog ʼn bietjie van dieselfde” en voel hulle daar is weinig om na uit te sien. Die lirieke van die Morissey lied, “Everyday Is Like Sunday”, beskryf dit dalk goed: “Every day is silent and gray”.

Wikipedia deel dat “Sondag” afkomstig is van Sunne, die Sakserse god of Sunna, die Skandinawiese songodin en beteken “Sunna/e se dag”. Wat nogal interessant is, is dat enige maand wat met ʼn Sondag begin, ʼn Vrydag die dertiende bevat.

Na byna ʼn uur in die motor en honde wat begin ontwaak van die nou al bekende reuke van die stad na ʼn plaasnaweek, vat ek die laaste draai op na die Spar, waar parkering soos altyd dié tyd van ʼn Sondag ʼn saak van gebed is. Die rede: die winkel se gewilde wegneem-Sondagmiddagete.

Tot so vyf jaar gelede sou jy vir dié ruimskootse wegneem-bord kos R38 betaal; deesdae is dit meer as dubbel so veel, maar koop word dit gekoop. Vleis van jou keuse (vark, hoender, lam of beesvleis) met gebraaide aartappels, rys of soetpatats, kool en brokkoli met dik kaassous en gemengde ertjies en wortels met ʼn goeie skoot suiker en botter. Sondae is loshande my, Mimi en Lienka se gunsteling-dag want daardie sappige beesvleis beland in hulle bakkies.

Of Sondae nou vir jou ʼn dag van laat slaap, stap, koerantlees, kuier of kerktyd is, dit bly ʼn spesiale dag. In die woorde van Albert Schweitzer: “Moenie dat Sondae van jou af weggeneem word nie. As jou siel nie ʼn Sondag het nie word dit ʼn weeskind”.

En dalk is daar nog een plek aan ons almal se Sondagtafel vir iemand wat dié dag na ʼn bietjie geselskap smag.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OW ·

Mooi skrywe.Dit laat my dadelik dink aan Kris Kristofferson se 1970 treffer “Sunday morning comming down”Op een plek sing hy”There is something in a Sunday makes a body feel alone”Daar is iets in ‘n Sondag,altyd.

Ilze ·

Sondae is my “nie lekker voel dag”. Die huismense eet kookos Sondagaand. Kook en ‘n glas wyn help my cope met Sondag middag blues.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.