Moenie te veel stres nie, dinge gaan nog skeefloop…

Argieffoto (Foto; Pexels/Pixabay)

‘n Dosent in Kanada het dié artikel geskryf

Moenie te veel stres nie, dinge gaan nog skeefloop … en dit is oukei. Dit gebeur met almal en dit is maar net hoe die lewe is. Dit is hoe jý dit sien en wat jý daarvan maak, wat saak maak.

In dié stadium skryf jy waarskynlik die een of ander matriekeksamen en dit is aaklig. Selfs die twee of drie wat van eksamens hou, verpes matriekeksamens so na aan die einde se kant. Dit is nie net die nimmereindigende leer nie, maar ook – en dis eintlik erger – die onophoudelike druk wat daarmee saamgaan wat dit naderhand feitlik onuithoudbaar maak.

In graad 11 en in matriek word dit byna daagliks in ʼn mens se keelgat afgedruk dat die punte wat jy behaal, die res van jou lewe gaan beïnvloed en dat jy geensins sukses sal behaal as jy nie goed doen nie. Dit is soos ʼn donker wolk wat oor jou hang en jou agtervolg waar jy ook al gaan. Net wanneer jy dink jy is vry daarvan en wil ontspan, pop dit weer in die een of ander lukrake en onwelkome gedagte op. Jy kan dalk net lekker kuier of lê en flieks kyk, en dit sal jou ewe skielik tref – gewoonlik in die vorm van een van die volgende gedagtes:

  • Wat as ek nie kan swot wat ek wil nie?
  • Wat as ek nie kan swot nie?
  • Ek wil nie doen wat my ouers wil hê ek moet doen nie;
  • Ek weet nie wat ek wil doen nie; of
  • Ek weet nog steeds nie wat met die Wiskunde aangaan nie en ek gaan vir seker nie weer die Afrikaanse boek lees voor ek skryf nie. Ensovoorts, ensovoorts.

Daar is nie regtig ʼn ander manier om te sê dat die einde van matriek eintlik net suck nie. Al wat ek in hierdie stadium vir jou kan sê, is: Ontspan! Baie dinge sal heel waarskynlik nog steeds skeefloop, maar weet jy wat, dit is heeltemal oukei, want ná so rukkie loop alles ook weer reg. As jy vir enige iemand oor so vyf of tien jaar (dit klink ver weg, maar gebeur in ʼn oogwink) vra of hulle ooit sou verwag het dat hul lewens sou wees wat dit nou is, sal hulle tien teen een begin lag en sê, nooit, nie in hul wildste drome nie.

Die lewe loop snaakse paadjies met ʼn mens en jy leer soveel meer van jouself en die lewe wanneer jy klaar is met skool, dat jy hopeloos te laat besef dat al die stres en druk en worry verniet was.

Haal asem en tel tot tien, want al voel dit nie altyd so nie, is daar altyd ʼn oplossing as jy net bereid is om wyer te kyk as die algemene, sterk te staan, hard te werk en aanpasbaar te wees. Dit beteken nie dat jy nou glad nie hoef te leer en daai een reeks kan klaar kyk voor jy jou biologieboek nadersleep nie – mens moet jou pligte nakom, maar die lewe eindig nie ná matriek nie. Dit begín, en wat ʼn wonderlike lewe is dit nie.

Volgende jaar sal dit 10 jaar gelede wees wat ek in matriek was en in hierdie 10 jaar het ek:

  • van ʼn klassiekemusiekskool na ʼn filmuniversiteit en toe na die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus toe gegaan;
  • een graad opgeskop (en twee nuwes klaargemaak);
  • twee keer terug huis toe getrek (en my familie beter leer ken en meer lief geword vir hulle as ooit tevore);
  • een baie lang (onsuksesvolle) verhouding gehad, maar geleer wie ek is en wat ek uit ʼn verhouding nodig het;
  • amper huis gekoop (en geleer dat die samelewing se pas nie noodwendig myne is nie);
  • my werk bedank en alles verkoop om die wêreld te sien (maar geleer dat ander mense se idee van ʼn perfekte lewe nie noodwendig myne is nie);
  • by die plaasskool in my tuisdorp klas gegee (die laaste plek in die wêreld waar ek myself gesien het) en lief geword vir die mees plat-op-die-aarde mense wat ek leer ken het; en
  • uiteindelik Kanada toe geëmigreer en met ʼn meestersgraad my werk by my nuwe universiteit begin.

Dit is die kortste opsomming van ʼn mondvol wat ek graag wil deel. So, moet jou nie te veel bekommer nie, die lewe kan soms baie skeefloop, maar die beste dinge kom gewoonlik uit die moeilikste tye. In die wyse woorde van Verona Goslett: “Haal diep asem, hou dit in, tel tot 10 voor jy wegspring – die tyd is nóú.”

 

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android– en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swartwolf ·

10 % van die lewe se sukses of mislukkings is wat met jou gebeur maar 90% daarvan is hoe jy reageer op wat met jou gebeur.

marco polo ·

Baie goeie raad. As een deur toegaan, maak n ander een oop, mens moet net leer om die geleentheid raak te sien en nie net die negatiewe nie. Lewe jou eie lewe en streef jou eie drome na, nie wat ander wil he nie. Die lewe is n reis, waarin jy ander van tyd tot tyd ontmoet, nie n kompetisie nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.