Moet-lees: Juffrou se hartroerende brief aan outistiese seun

Ben Twist (Foto: Twitter)

Ben Twist (Foto: Twitter)

ʼn Brief wat ʼn onderwyseres, van die Lansbury Bridge School & Sportkollege in die Verenigde Koninkryk, aan ʼn 11-jarige outistiese seun geskryf het nadat hy nie te waffers in die skool SAT-eksamens gevaar het nie, het die harte van duisende mense op sosiale media aangeraak.

Ruth Clarkson, die onderwyseres, werk al etlike jare by dié skool vir kinders met leerprobleme. Sy het aan Distractify vertel Ben Twist se ‘positiewe houding’ het haar genoop om die brief te skryf, ná sy groot teleurstelling omdat hy nie na verwagting presteer het in die toetse nie.

Die brief is wyd op sosiale media versprei, nadat Ben se ma, Gail, dit op haar Twitter-rekening gelaai het.

Clarkson het in die brief geskryf Ben moet moed hou, omdat die SAT-eksamens nie ʼn maatstaf vir al sy vaardighede is nie.

“Ek skryf aan jou om jou geluk te wens met jou positiewe houding en sukses om jou SAT-eksamens te voltooi. Jy het wonderlik gevorder,” skryf sy.

“ʼn Baie belangrike stukkie inligting wat ek wil hê jy moet verstaan, is dat die toetse slegs ʼn klein deel van jou en jou vaardighede toets. Die vaardighede is belangrik, maar jy het baie ander talente wat Lansbury Bridge raaksien en op ander maniere meet.

“Die talente sluit in jou kunstalent, jou vermoë om in ʼn span te werk, jou onafhanklikheid, jou vriendelikheid, jou vermoë om jou eie opinie te lug, jou sporttalent, jou vermoë om vriende te maak en te behou, jou musikale talent en vele meer.”

Die brief is intussen meer as 5 000 keer op Twitter gedeel en meer as 9 500 mense het daarvan gehou.

Bron: Distractify

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ruby ·

Sommige beroepe soos onderwyser, polisie beampte en verpleegster, net om ‘n paar te noem kies JOU. Party is gebore om dit te doen, vir hulle gaan dit nie oor die salaris of die mamma met die blink motor nie, en ek het die grootste respek daarvoor.

Ongelukkig sny die swaard twee kante toe, en dan kry jy die ander klomp…… As ‘n kind nie presteer nie, word hy/sy eenkant toe geskuif, verpleegsters met ‘n houding om diens te lewer want eintlik doen hulle jou mos ‘n guns. Polisie beamptes wat hulle mag misbruik.

Sies vir julle, julle geliefdes gaan ook uitgelewer word aan hierdie gedrag.

Dankie aan hierdie onderwyseres en die paar goeies soos sy.

PS: Juffrou M van Odendaalsrus, wat my as kind beledig het, jy was verkeerd. Ek het toe ‘n sukses van my lewe gemaak.

Blommetjie ·

Wens die hoofstroomskole wil ook n bietjie wakker skrik en besef akademie is nie alles nie?

Popeye ·

Ruby, jinne ek weet wat jy moes deurmaak agv Juffrou M. Ek het so Afrikaanse juffrou gehad. ‘n regte heks! Raai wat; vandag is ek ‘n taalkundige, so vat so juffrou W!

E ·

Dis mos nou hoe mens ń kind motiveer!
Ek hou sommer baie van die “normale” onnies wat nie net altyd soek vir probleme nie. Hierdie kind word opgebou en agv hierdie onnie sal hy tien teen een nog harder uit sy eie wil, wil werk en nog ver kom in die lewe. Ek glo hy het sy bes gelewer. :)

Johann Marx ·

Party mense is onderwysers, ander is opvoeders. Party mense is verpleegsters, ander is “care givers” (ek soek nog ‘n Afrikaanse woord wat hierdie kan beskryf). Party mense het kinders, ander mense is ouers. Party mense is polisiemanne, ander mense is beskermers van reg en geregtigheid.

Fanie ·

Ek het n seun wat uit die selfde tipe skool uit kom en ek is baie trots op hom hy maak motor onderdele en altyd gewillig om iets te doen, so Ben daar is n plek vir almal van ons en ons kort meer sulke onderwysers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.