Monument onthul nog ’n Afrikanerbaken

Dr. Danie Langner en Marina Giovitto Ehlers. (Foto: Verskaf)

Om die dag te herdenk waarop die Voortrekkerleier Louis Tregardt (ook gespel Trichardt) dood is, is daar verlede week ’n replika van die geplaveide vlak voor die gedenkmuur met ’n groot landkaart van suidelike Afrika waarop die verskeie trekroetes aangebring is by die Voortrekkermonument in Pretoria onthul.

Dié plavleivlak, uitgevoer in mosaïek, is deel van die Louis Tregardt-gedenktuin in Maputo, Mosambiek. Met die hulp van die Louis Trichardt Genootskap, kon hierdie pragtige mosaïek-replika juis 25 Oktober onthul word.

Die pionierstog en lotgevalle van die Tregardt-trek word in ere gehou in ’n gedenktuin in Maputo op die plek waar Tregardt, sy vrou, Martha, en 18 van sy trekgeselskap aan malaria dood en begrawe is.

Hy is op 25 Oktober 1838 in Maputo oorlede. Die ligging van dié gebied is in 1944 na noukeurige navorsing deur dr. Willem Punt, voormalige voorsitter van die Louis Trichardt Genootskap, bepaal.

Die ontwerp van die Louis Tregardt-gedenktuin, wat R50 000 gekos het en ’n oppervlakte van 400 vierkante meter beslaan, bestaan uit verskeie elemente:

  • ’n Ringmuur in die Kaaps-Hollandse boustyl met ’n poort en hekke, ’n replika van die Ned. Geref. Kerk in Tulbagh, waar Tregardt gedoop is.
  • ’n Breë monumentale geplaveide pad wat die pad van die Trekkers, maar ook die pad van die beskawing, simboliseer.
  • ’n Boogvormige gedenkmuur, die hoofelement, bestaande uit ’n middeldeel beklee met ’n wit marmerpaneel van 12 x 3 m waarop ’n kakebeenwa en ’n span van tien osse met Tregardt langsaan uitgebeeld is. Die muur is met ’n swaar marmer beklede dekblad omring waarop die woorde “Ter ere van Louis Tregardt en sy mense. Die temmers van die bos.” in Afrikaans, Engels en Portugees aangebring is. Aan weerskante van die middeldeel is twee vleuels van swart gepoleerde Belfast-graniet. Die skip Mazeppa, met die name van die deelnemers aan die Tregardt- en Van Rensburg-trek, asook diegene wat daar begrawe is, is op die een vleuel uitgebeeld. Op die ander vleuel is die Estrela de Damâo, die skip waarmee Carolus, seun van Louis, aan die ooskus van Afrika noord gevaar het.
  • ’n Geplaveide vlak voor die gedenkmuur, met ’n groot landkaart van suidelike Afrika waarop die verskeie trekroetes aangebring is, uitgevoer in mosaïek. Die Portugese owerheid het R6 000 geskenk vir die oprigting van die geplaveide vlak.

Dié gedenktuin, ’n tasbare getuienis dat die Afrikaanse volk waardering en bewondering het vir hulle wat moed en oortuiging gehad het om die onbekende te trotseer en ’n nuwe vaderland vir die nageslagte te skep, staan steeds ongeskonde.

Die tuin is aanvanklik deur die Louis Trichardt (sic) Genootskap in stand gehou, maar sedert 1 Desember 2008 bestuur die Erfenisstigting dit namens die genootskap.

In September 2010 is Mosaic Arts, ’n mosaïek-ateljee in Pretoria, na Maputo uitgenooi om dié plavleivlak in die Louis Tregardt-gedenktuin te restoureer. Marina Giovitto Ehlers, eienaar van Mosaic Arts, wat destyds ook betrokke was by die restourasieprojek in Maputo, is weer gekontak om hierdie replika vir die Voortrekkermonument te maak.

Ehlers sê sy is bevoorreg om deel te wees van die monument se nalatenskap.

“Daar is verskeie kunswerke in die monument en vir my om nou ook deel te kan wees van die monument se geskiedenis en erfenis is werklik ’n enorme voorreg,” het Ehlers gesê.

Dr. Danie Langner, die besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het gesê die Voortrekkers het verskeie mense ontmoet op hulle trektogte en om vandag vir Ehlers te hê, wat van Italiaanse afkoms is en die replika gemaak het, is werklik ’n voorreg.

“Die friese in die monument is in Italië gemaak en om vir Marina te hê wat van Italiaanse afkoms is, bewys net weereens die verbintenis met ons geskiedenis.”

Die afgelope paar maande is ’n enorme projek aangepak aan die oostekant van die Voortrekkermonument deur die vyf Voortrekkerroetes wat in die vyftigerjare daar uitgelê is, te restoureer.

Die historiese trekroetetuin is in 1963 voltooi en sal eersdaags weer dien as ’n fokustuin waar kinders die Groot Trek kan beleef wanneer hulle die Voortrekkermonument besoek.

Besoekers sal binnekort die gerestoureerde tuin met sewe replikas van onder meer Vegkop, Bloukrans, die Bybelmonument, Geloftekerk, Retief-klip en Ohrigstad-fort kan besoek, en kinders sal aan die grootste historiese buitelug-avontuurspeletjie in Suid-Afrika kan deelneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Baie interessant, nooit geweet Trichardt was eintlik Tryghart gewees nie maar bou so voort ,soos die Afrikaner se geskiedenis nou vertrap word is dit van belang om alles moontlik te bewaar vir die nageslag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.