Monument verewig Piet en Dirk Uys met beeld

Jaco Cilliers, Jaco van Niekerk en Denzel Labuschagne (foto: verskaf)

’n Historiese beeld wat die hartroerende toneel van Piet en Dirkie Uys se dood op 11 April 1838 by die slag van Italeni uitbeeld, is in die historiese trekroetetuin by die Voortrekkermonument opgerig.

Die aangrypende verhaal van Dirkie Uys is een wat deur die jare talle Afrikaners se harte geroer het.

Dit word aanvaar dat ouers vir hul kinders sal sterf, maar in dié geval het Dirkie sy pa Piet so lief gehad dat hy saam met hom gesneuwel het.

Vir die 14-jarige Denzel Labuschagne, nasaat van Piet Uys en model vir die beeld van Dirkie, is sy Afrikaanse kultuur ’n baken van trots.

“Dit is belangrik om nuwe geskiedenis te maak. Die Afrikaner is iets spesiaals, ons is die toekoms,” sê Labuschagne.

Jaco Cilliers het sy lyf model gehou vir die beeld van Piet Uys.

Beeldhouer Jaco van Niekerk het sy taak met trots en ywer aangepak om vir die Voortrekkermonument hierdie geskiedkundige beeld te skep.

“Die geskiedenis herleef met die nasate van helde. Dit is nie net ’n sprokie nie, maar het regtig gebeur en dit is elkeen se verantwoordelikheid om iets te doen om dit te help bewaar,” sê Van Niekerk.

Talle nasate van Piet Uys was by die bekendstelling van die beeld.

Reyaan Uys, saam met sy kinders, Famke Mariedeth (5) en Lafras Thabo (2), leef steeds met trots hul Afrikanererfenis uit.

“Baie van ons vriende gaan oorsee, maar ons voorvaders het hard baklei en selfs gesneuwel sodat ons hier kan wees. Ek voel dit is my plig om te bly en om ’n plek in ons land vir my kinders te verseker,” sê Uys.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het gesê dit is ’n eer vir die monument om hierdie dag in ons geskiedenis te herdenk met die nasate van ons boerehelde aan ons sy.

“Weereens word die werklikheid van ons geskiedenis bevestig en besef ons opnuut ons taak om ons erfenis te beskerm en voort te bou vir die nageslagte wat kom,” het Langner gesê.

Lede van die publiek word uitgenooi om die historiese trekroetetuin te besoek en die talle replikas van verskeie geskiedkundige monumente oor die land te kom besigtig.

  • Hierdie berig is gewysig na die plasing daarvan – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wondermaarnet

Mag hierdie pragtige monument gespaar word van jaloerse vandaliste.

marius

Trots om ‘n Boer genoem te word !

Pieter

1938 moet lees 1838. Net voor Bloedrivier. Pragtig uitgebeeld in Offerland en Gelofteland.

quartus

Die datum moet wees 1838, nie 1938 nie !!