Monument vier Lentedag met eie kruietuin

Tilania du Preez van die Broodboom Trust, Willie Strauss, kosskrywer en sanger, en prof. Kobus Eloff, ʼn plantbiochemikus, het die eerste plante van die Voortrekkermonument se nuwe kruietuin geplant. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Suurvytjies, wilde dagga, kankerbos en wilde knoffel is nou deel van die Voortrekkermonument se eie kruietuin in die blombeddings by die walaer van die monument.

Die span by die Voortrekkermonument het die eerste dag van die lente gevier deur ʼn tuin aan te lê met medisinale plante en kruie, wat volgens boererate en die Voortrekkers gebruik is om kwale en sere te genees. Daar is die afgelope paar maande hard gewerk om die Voortrekkermonument se tuine op te knap en nuwes aan te lê.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, sê hy is opgewonde dat daar in die blombedding kruie en medisinale plante geplant word wat as medisyne op die Groot Trek gedien het.

Hierdie soort plante wat vir heling gebruik kan word, was nog altyd ʼn deel van die Afrikanerkultuur en nou kan daar nuwe wortels skiet om die tradisie te laat voortleef.

Buiten hierdie plante, was broodbome en bloulelies, ook bekend as agapante, deel van die tuinbeplanning. Dié bloulelies se wortels kan ook vir pynverligting gebruik word.

Prof. Kobus Eloff, ʼn plantbiochemikus aan die Universiteit van Pretoria, wat ook al uitvoerende direkteur van die Nasionale Botaniese Tuin en direkteur vir navorsing aan die Nasionale Botaniese Instituut was, het die monument met die uitleg van die nuwe tuin bygestaan. Eloff het help verseker dat die plante wat Woensdag aangeplant is, goed daar sal aard en medisinale waarde het.

“Hierdie is ʼn wonderlike inisiatief van die Voortrekkermonument. Daar is reeds talle plante en bome met medisinale gebruike wat op die monument se terrein groei en dit sal wonderlik wees as ʼn mens bordjies kon aanbring om hulle almal te identifiseer,” voeg hy by.

In Eloff (82) se bykans 60 jaar as plantwetenskaplike was hy al onder meer die redakteur van tien boeke en het ook tussen 2004 en 2014 ses patente geregistreer.

“Ek het gaan navorsing doen oor boererate en gevind dat iets soos brandewyn 95 keer in van die rate gebruik word. Alkohol is ʼn wonderlike aktiewe bindmiddel vir plante. Daarbenewens is koeksoda en kasterolie net sulke gewilde bestanddele in talle van die rate,” sê Eloff.

Hy vertel ook van bitteraalwyn (aloe ferox) en duiwelsklou wat in die oudste rotstekeninge van die Khoi-San gevind is.

“Medisinale plante help ook met die verligting van malaria, kankers en selfs met pynverligting, maar die uitdaging is altyd om te bepaal of die plante en kruie veilig en doeltreffend is.”

As ʼn internasionaal erkende leier in sy veld, het Eloff ook plante bestudeer om infeksies deur mikro-organismes en besmetting via parasiete op mense, diere en plante te ondersoek. Hy verduidelik dat in verskeie gevalle plantekstrak baie meer suksesvol as kommersiële produkte is om menslike velinfeksies te behandel.

Kook met kruie

Willie Strauss het ‘n spekboomkoek gebak. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Willie Strauss, ʼn kabaretsanger, kok en kosskrywer, het ʼn spekboomkoek gemaak om die tuin se aanleg te vier.

Die koek bevat twee koppies spekboomblare en die tekstuur herinner aan bruintjies (brownies).

“Ek weet van mense wat selfs blatjang en pesto met spekbome se blare maak.”

Strauss vertel sy ervaring met kruie het in die Noord-Kaap op die plaas begin waar hy saam met sy pa aan die plant hoodia gordonii, ʼn Kalahari‑kaktus, gekou word. Volgens Eloff was die plant in die nuus nadat as die nuutste verslankingskuur bekend geword het.

“My ma was ook lief om konfyt te kook van wilde komkommers en ʼn heerlike slaai daarmee te maak.”

Strauss sê hy is nie noodwendig lief vir kook met laventel of roosblare nie. “Dit proe te veel of ʼn mens parfuum eet.”

Hy maak egter graag tee en ystee van sitroenverbena (lemon verbena of lemon beebrush) en kook graag met roosmaryn.

“Roosmaryn is ʼn krui wat jy in enige iets kan gebruik. ʼn Oondgebakte hoender is heerlik met regte botter, lemoen en roosmaryn wat onder sy vel ingevryf is.”

Broodbome is ook tuis

Tilania du Preez van die Broodboom Trust het ook oor die gesogte plant gepraat. Du Preez is tans besig om broodbome uit Limpopo, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap by die monument aan te plant.

“Hierdie plante is miljoene jare oud en perfek aangepas vir ons droër klimaat, en alhoewel Gauteng nie sy eie inheemse broodbome het nie, is die meeste van die plante hier in ons provinsie te vind.”

Du Preez vertel dat die duurste broodboom tot R5 000 per cm van die plant kan haal.

“Dit is egter baie belangrik om te weet dat broodbome se sade, wortels en blare nie geëet kan word nie.” Sy het mense aangemoedig om by die Broodboom Trust se Facebook-blad aan te sluit vir meer oor die besonderse plante wat ook ʼn ereplek op die Voortrekkermonument se terrein het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.