Moot-GPF hou Kersgees hoog met kleurryke boomversieringsinisiatief

Argieffoto (Foto: CJ/Pixabay)

Inwoners in die Moot-omgewing in Pretoria word uitgedaag om ʼn boom in hul tuin te versier as deel van ʼn gemeenskapsinisiatief om hoop te skep.

Deur ʼn boom in jou tuin met een van die volgende kleure te versier kan jy help om vir die Moot ʼn baadjie van hoop aan te trek:

  • Blou: ʼn teken van dankbaarheid teenoor die SAPD, die metropolisie en plaaslike sekuriteitslede
  • Rooi: ʼn teken van dankbaarheid teenoor gesondheidswerkers en nooddienste
  • Groen: ter nagedagtenis aan persone in die gemeenskap wat vanjaar dood is
  • Wit: ter beskerming van kinders
  • Goud: ʼn teken van besorgheid oor die welstand van senior burgers
  • Pers: ʼn teken van dankbaarheid vir familie, vriende en bure
  • Silwer: vir die hoop op ʼn blink toekoms in die Moot

Elsabé van Staden, wat reeds agt jaar lank die voorsitter van die Moot se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is, sê die doel is om hoop onder inwoners te skep. Dié inisiatief word in samewerking met die Moot-polisiekantoor aangebied.

Van Staden sê sy besef dat baie inwoners waarskynlik vanjaar met Jan Tuisbly se karretjie gaan ry en boonop nie geld het om op onbenullighede soos versierings uit te gee nie.

Elsabé van Staden, voorsitter van die Moot se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) (Foto: Verskaf)

“Die doel is om mense te laat deelneem aan iets positief en wat nie ekstra geld gaan kos nie,” sê Van Staden.

Sy hoop dat mense in die buurt die uitdaging aanvaar en onder mekaar in ʼn ligte luim kompeteer.

“Ek soek nie die ideale boom nie. Ons wil hê mense moet kreatief wees met versierings wat reeds in hul huise is.”

Van Staden sê die bestuur het die afgelope naweek begin om die ingang na die buurt op te kikker. Die span sal na verwagting dié week ook begin om musikante en kinders te nader wat saam met hulle soos in die dae van ouds by aftreeoorde en hospitale kan gaan sing. Mits dit veilig en uitvoerbaar binne Covid-19-regulasies is.

“Die GPF het ʼn behoefte om op dié manier dankbaarheid te toon aan gesondheidswerkers en om die gemoed van bejaardes te lig,” vertel sy.

Van Staden is passievol oor haar betrokkenheid by die gemeenskap. Sy put veral vervulling uit die suksesverhale van mense wat deur die GPF bygestaan is.

“Ons fokus daarop om mense in nood by te staan en misdaadvlakke in die gebied laag te hou,” sê sy. “As dit nie vir op en wakker GPF-lede en patrolleerders was nie, sou ons nie in dié doel kon slaag nie.”

Buiten vir dié kleurryke boomversieringsinisiatief en bekamping van misdaad reik die GPF ook uit na inwoners wat nie kos op die tafel het of in daaglikse behoeftes kan voorsien nie. Van Staden doen ʼn beroep op mense in die Moot-omgewing wat hulp benodig om haar tydens die feestyd te kontak op 083 675 4148 of ʼn e-pos te stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan ·

Watse ingang van die buurt is opgekikker? Daar is baie paaie in en uit die moot. MM moet bietjie berig ook oor die kersfees stoet wat deur Wonderboompoort GPF gereel word – dis ‘n spektakel om nie te mis nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.