‘Môregloed’: Nuwe radiostorie gaan jou laat lag, huil en naels kou

 Moregloed_groep.jpg

Die Môregloed-span, voor links na regs is Esmeralda Bihl, Su-an Müller-Marais, Sulette Thompson en Bettie Kemp. Agter is Marius Vermaak (klanktegnikus), Anton Dekker en Antowan Nöthling.

Jy kan een van die dae luister na ʼn splinternuwe radiovervolgverhaal, Môregloed – ʼn verhaal wat swaarbelaai is met temas soos familie-intriges, vasbyt en deernis, ʼn stryd om te oorleef, kinderontvoering en pleegsorg, die vernietigende effek van dwelms en die ewige soeke na môre – alles opgedis met ʼn goeie skoot humor.

Te danke aan die korttermynversekeraar Virseker kan Maroela Media vanjaar vir die sewende jaar ʼn radiovervolgverhaal vervaardig. Dié splinternuwe radiostorie, Môregloed, sal binnekort op gemeenskapsradiostasies reg oor die land geluister kan word.

Maroela Media werk skouer aan skouer met Bettie Kemp, een van die land se beste vervaardigers, om Môregloed die lig te laat sien. Joe Kleinhans, bekroonde radiodramaskrywer, is die skrywer van Môregloed.

“Vanjaar het Maroela Media aan Bettie Kemp en Joe Kleinhans, bekende radiodramaskrywer, ʼn gewigtige uitdaging gerig: Ons soek ʼn storie wat die Afrikaanse mense van ons land se storie vertel,” vertel Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media. “Ons wil die storie vertel van armoede, maar ook oorvloed; van sopkombuise en viertrekvoertuie; van familietwis en hartseer, maar ook versoening, vergifnis en vreugde. Ons wil luisteraars laat lag, laat huil en laat naels kou. Hulle moet lief raak vir ons karakters, en ook ʼn bietjie van hulself in elke storie herken.”

Een van die grootste uitdagings wat Maroela Media elke jaar met die vervaardig van die radiovervolgverhaal in die oë staar, is finansiering.

 Opname_Moregloed.jpg

Marius Vermaak, Sulette Thompson, Bettie Kemp en Esmeralda Bihl tydens ‘n opname (foto: Su-an Müller-Marais)

“Luisteraars wat hulle verlekker in radiostories se intriges besef selde hoe duur en arbeidsintensief dit is om so ʼn storie te vervaardig,” verduidelik Lombaard. “ʼn 24 weke radiovervolgverhaal soos Môregloed kos sowat R450 000 om te vervaardig, en die vervaardiging duur sowat agt weke. Die goeie nuus is die inspuiting wat so ʼn produksie vir Afrikaans is: heelwat werksgeleenthede word geskep, gemeenskapsradiostasies kry ʼn verhaal van hoogstaande gehalte sonder dat dit hulle ʼn sent kos, en die Afrikaanse gemeenskap kan luister na ʼn drama wat hulle vir ʼn paar minute elke dag laat ontvlug van die werklikheid om hulle. Dis ʼn wen-wen vir almal! Daarom maak ons elke jaar planne om, ten spyte van die hoë kostes en harde werk, minstens een radiovervolgverhaal te vervaardig,” sê sy. “Ons is dankbaar dat Virseker, ingevolge ʼn groter ooreenkoms wat ons met hulle gesluit het, die belangrikheid daarvan insien om ʼn kultuurskat soos radiovervolgverhale vir die Afrikaanse gemeenskap te bevorder.”

Die verhaal van Môregloed draai rondom ʼn ma, Aletta de Jongh, en haar dogter, Elmari Neethling, wat ná 22 jaar herenig word en die pad saam begin loop. Bettie Kemp, die vervaardiger, vertolk ook die rol van Aletta. “Dit was vir my maklik om met haar te identifiseer, want ons almal het al slegte dinge beleef. Ons almal het so ʼn bietjie van ʼn Aletta in ons,” vertel Bettie.

Su-An-Antowan_Moregloed-opname.jpg

Antowan Nöthling en Su-an Müller-Marais tydens een van die Môregloed opnames (foto: Maroela Media)

Elmari se karakter word vertolk deur Su-an Müller-Marais. Su-an het verlede jaar haar debuut in nog ʼn Maroela-radiovervolgverhaal, Vuurvreters, gemaak. Sy vertel hoekom dit so lekker is om deel te wees van so ʼn produksie: “Met ʼn drama kan jy op ʼn baie intieme manier inspraak lewer in mense se lewe. Dis ʼn verbeeldingryke, wonderlike medium wat massas kan bereik.”

Die skoolhoof is die knap Patricia de Villiers van Eersterus wie se seun Anton in die Baviaanspoort-gevangenis is. Esmeralda Bihl vertolk die rol van Patricia. Volgens haar is dit maklik om haar in te leef in Patricia se rol, want die storie is soveel mense se daaglikse werklikheid.  Sy het ʼn groot liefde vir radiovervolgverhale. “Jy kan heeltemal jou verbeelding gebruik. Daar is nie ʼn prentjie nie,” sê Esmeralda. Vir haar is die kern van Môregloed ʼn storie van hoop.

En die man wat Aletta se huwelik destyds op die rotse laat beland het, Theuns Malan, maak weer sy verskyning. Theuns word gespeel deur ʼn bekende in radiokringe, Anton Dekker. “Môregloed is ʼn storie van mense wat ons almal ken; dis ons almal se storie,” sê hy. Radiovervolgverhale lê hom baie na aan die hart. “Radiodrama, anders as enige ander medium, is waar die gehoor net so hard soos die akteur moet speel. Met radio kan jy jou eie beeld skep. Dit is ʼn verstommende, wonderlike medium om in te werk.”

Antowan Nöthling, wat die rol van Eben vertolk, som die kernboodskap van sy karakter op: “Moenie toelaat dat jou verlede jou vasanker op ʼn manier dat jy nie vorentoe kan gaan nie.”

Anton-Dekker_Moregloed.jpg

Anton Dekker besig met voorbereiding (foto: Su-an Müller-Marais)

Sulette Thompson, in die rol van Griet Kotze, het jare gelede reeds bekendheid verwerf met haar rol as Suzie Bruwer, Bruce Beyers se meisie, in die televisiereeks Agter elke man. Sy hou haar deesdae besig met radiowerk en oorklanking, en sy het ook ʼn akteursagentskap. “Mense het nodig om te ontvlug en radiostories is iets wat jou vir ʼn rukkie wegvat uit jou realiteit. Dit is ook vir my belangrik dat ons taal bly voortleef – ons moet bly wees oor wie ons is.”

Joe, skepper van dié drama, meen Môregloed het ʼn skeppie van alles. “Die stryd om te oorleef, terugslae, vasbyt, deernis, die hoop en seer rakende pleegsorg, kinderontvoering, die vernietigende uitwerking van dwelms, moord en genoeg spanning. En in dié proses is almal maar net inherent op soek na ʼn beter môre!”

Om hande te vat met Virseker was vir Maroela Media ʼn baie maklike besluit. “Daar is min mense wat weet dat die Virseker Trust al die afgelope vyf jaar R32 miljoen teruggeploeg het in beurse vir studente. Dit gaan nie net oor versekering nie, maar ʼn deel van elke premie dra by tot die beskerming en instandhouding van Afrikaans, die Afrikaanse student en onderwys,” sê Lombaard. Gaan lees gerus meer oor dié Virseker Trust-inisiatiewe.

Môregloed kan vanaf 3 September op verskeie gemeenskapsradiostasies reg oor die land geluister word. Hou Maroela Media dop vir ʼn lys van die radiostasies wat Môregloed sal uitsaai. Die vervolgverhaal is ook vanaf 10 September op Maroela Media se webwerf beskikbaar. Luister gerus hier na Maroela Media se vorige radiovervolgverhale.

 

  • Maroela Media en die Virseker Trust werk saam om Afrikaanse onderwys en ander Afrikaanse inisiatiewe te ondersteun. Kry ʼn verpligtingvrye Virseker-kwotasie.
  • Virseker is ʼn produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy, ʼn gemagtigde finansiëlediensteverskaffer. B’s & V’s geld. (FDV-lisensienommer: 16354)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marinda ·

Maroela Media, kan julle asb ñ lys verskaf van die name van die radio stasies wat Môregloed gaan uitsaai, asook die uitsaai tye? Dankie

Sophia ·

Ja groot asseblief Maroela publiseer ‘n lys name van die radiostasies en uitsaaitye. Ons sal graag wil luister

Tania Heyns ·

Dagsê Marinda

Dankie vir jou kommentaar. Die volledige lys van radiostasies sal later hierdie week bekend gemaak word.

Hou gerus Maroela fyn dop!

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Heidi ·

Wat ‘n wonderlike vooruitsig! Dankie MaroelaMedia en VirSeker! Ons kan nie wag vir die voorreg om dit weer te mag uitsaai nie, baie dankie. Soos gewoonlik weer op Whale Coast FM en aanlyn hoorbaar op http://www.whalecoastfm.co.za. Ons sal binnekort die tyd met julle vasstel. Nogmaals dankie.

Marietjie McCracken ·

Ek is 71 jaar oud. Ek onthou nog steeds ” die du plooys van soetmelkvlei”
Dit het ons vasgenael voor die radio gehou. Destyds was dit draadloos. Dis baie goed dat daar weer boeiende verhale uitgesaai gaan word. Se tog asb net die tye dat ek dit nie mis nie.
Baie dankie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.