Motorfietspret vir behoeftige bejaardes

(Foto: Verskaf)

Die strate van Danville in Pretoria is Saterdag gevul met die klank van brullende motorfietse toe Solidariteit Helpende Hand se motorfietsklub ’n groep behoeftige bejaardes met ʼn pretrit en Kersete getrakteer het.

Die bejaardes kon ná die pretrit ʼn heerlike Kersete, kompleet met ’n Kersvader op ’n motorfiets, en hope geskenke geniet.

Dié motorfietsklub is in 2014 gestig deur ’n groep motorfiets-geesdriftiges wat ’n passie vir liefdadigheid het. Hierdie geharde manne en vroue het ’n sagte plekkie vir veral die bejaardes van Danville Tehuis vir Bejaardes in Pretoria-Wes.

(Foto: Verskaf)

“Ons is reeds sedert 2014 by die ouetehuis betrokke,” sê dr. Johan Böning, voorsitter van die Helpende Hand Motorfietsklub. “Die tannies is ’n ware inspirasie. Hulle het nie net by hul omstandighede berus nie, maar streef daarna om selfversorgend te wees. Hulle het verskeie selfdoenprojekte om geld in te samel. Hierdie tannies het uitmuntende gees en liefde vir die lewe!”

Die motorfietsklub hou jaarliks dié spesiale Kerspartytjie vir die bejaardes en trakteer hulle dan met musiek, eetgoed en geskenkpakkies. Elke geskenkpakkie het die nodige kruideniers- en toiletware in om die bejaardes se Kerstyd ’n feestelike geleentheid te maak.

Die motorfietsklub het die bejaardes met ’n bus opgelaai en na Coffee@Capital geneem. Die bus is vergesel deur brullende motorfietse.

(Foto: Verskaf)

“’n Paar van die meer waaghalsige tannies het saam op die motorfietse gery. Hulle was nie één bang om op die motorfietse te ry nie!” het Böning gesê.

Volgens Böning wil Helpende Hand ten alle koste verhoed dat bejaardes in stilte swaarkry. “Ons wil ook aan hulle erkenning gee vir hul bydraes deur die jare en wil hulle verseker dat ons as Afrikaner-gemeenskap vir hulle omgee,” het hy gesê.

“Bejaardes vorm ’n baie belangrike deel van ons samelewing, maar weens siekte of armoede word hulle dikwels randfigure wat vereensaam. Helpende Hand wil graag die publiek aanmoedig om die bejaardes in hul gemeenskappe te ondersteun en lief te hê.”

Besoek Helpende Hand se webtuiste vir meer inligting oor die organisasie se projekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Pragtige gebaar om bietjie opwinding in die lewens van soveel eensames met soveel lewens ervaring in te bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.