Motoris se goeie daad versprei soos veldbrand

ʼn Foto van Tshepo, Danie en Joost wat saam met die inskrywing op Facebook gedeel is. Foto: Facebook

Die verhaal van ʼn barmhartige motoris van Gauteng wat langs die pad stilgehou het om twee mans te help wat in die knyp was, het sosialemediagebruikers aangegryp en soos ʼn veldbrand op Facebook versprei.

Tshepo Judge Dijana het Dinsdag foto’s en ʼn video op Facebook gedeel tesame met sy vertelling oor ʼn ontmoeting met twee mans wat slegs as Danie en Joost bekend staan. Dijana vertel hy het naby ʼn afrit op ʼn snelweg in die omstreke van Soweto vir Danie en Joost langs die pad sien staan waar hulle motor sonder brandstof gaan staan het.

Die twee mans het toe glo reeds twee ure lank langs die pad gestaan en tevergeefs gewag op iemand om hulle te help. Die mans was op pad terug vanaf die Chris Hani Baragwanath-hospitaal waar hulle Danie se vrou besoek het toe die motor gaan staan het.

Dijana vertel op Facebook terwyl hy met hulle gesels het, het hy besef hulle het nie geld om brandstof of ʼn saamrygeleentheid na ʼn vulstasie te koop nie. “Kan jy jou indink hoe verbaas hulle was toe ek sê, ‘kom ons gaan kry brandstof’ en daar ry ons na die naaste vulstasie toe,” skryf Dijana.

“Om dit sagkens te stel, Danie het die gesprek in die motor effe ongemaklik gevind aangesien hy steeds besig was om die feit te verwerk dat ek gestop het om te help. Op pad terug het ons gepraat oor die toestand waarin Suid-Afrika hom bevind en hoe ons mekaar nodig het: Afrikane en Boere, swartes en wittes,” het Dijana geskryf.

Foto: Facebook

Hy vertel Danie was verstom om te hoor dat hy [Dijana] van Suid-Afrika afkomstig is. Dijana is in Soweto gebore.

Terug by die motor het Joost die voertuig vol brandstof gemaak en aan Dijana gesê “dankie broer!” Voordat Dijana die mans agtergelaat het, het hy hulle R100 gegee en vir hulle ʼn kort gebed gedoen het. “Aan die einde het hulle gesê ‘Siyabonga Mfundisi’ met verbasing en verwarring op hul gesigte. Priceless!” skryf Dijana.

“Vir die jaar wat voorlê is my gebed dat ons as Suid-Afrikaners welwillendheid teenoor mekaar sal betoon en dat hierdie welwillendheid in Yeshua se naam sal versprei.”

Dijana se inskrywing is meer as 10 000 keer op Facebook gedeel, meer as 24 000 mense het op die inskrywing gereageer en meer as 6 000 mense het daarop kommentaar gelewer. Talle mense het in die kommentaar Dijana vir sy goeie daad geloof en was dit eens dat hierdie verhaal ʼn bewys daarvan is dat liefde, respek en goedhartigheid teenoor mekaar Suid-Afrika ʼn beter plek vir almal kan maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Piet Pompies ·

Great, dit is net weereens ‘n bewys dat daar heelwat meer gemeenskaplike gronde is vir alle Suid Afrikaners as wat die huidige regering wil erken.

CHRISTA ·

Ek glo steeds dat die meerderheid mense in ons land nie aardsvyande is nie!! 99% van ander rasse met wie ek daagliks te doen het is ALTYD baie vriendelik en hulpvaardig!! Ek gesels en grap altyd met hulle!!

Afgesaag ·

So lekker om sulke stories te lees. Well done. Ons moet erens begin om dinge beter te maak, dit gaan nie vanself gebeur nie

Charlene beukes ·

GOD stuur n engel om te help waat nodig hoe weet ons wie klop more aan ons deur .waar le die verkil in ons harte well done dijana jy is weer n bewys GOD maak nie n onderskeid nie en dankie dat jy nie bang is om te wys dat daar mense is wat omgee nie

Basson ·

Dis baie goed, baie dankie!!

(Ek het nou die dag ‘n persoon met ‘n rooi EFF t-hemp opgelaai om ook bietjie détente te bevorder, maar alas, was minder suksesvol ?)

Eish ·

Probeer is die beste geweer soos ons geleer is in Afrikaans toe skole nog skole was.

John ·

Eintliks is goeie verhoudinge tussen wit en swart iets algemeen, maar sekere politieke leiers blaas die vlam van haat en gevoel van verontregting aan. Dit is hartseer dat soveel mense in baie benarde finansiele posisies verkeer, van die hand na die mond leef en in gevaarlike situasies kan beland.

Hans ·

John jy slaan die spyker op die kop. Snaaks dat ons op voetsool vlak die slefde voel oor al die kleur grense, tog die wat daar bo sit wil dit nog verdeeld hou.

Emsa ·

Dankie Here U het geweet wie sal die regte persoon wees om die twee mans te help. Dis waarlik n kind van U. Laat ons lig altyd skyn om ander te help in nood.

Suzette ·

Jy is so reg John goeie verhoudinge tussen ons swart landsburgers is moontlik en gebeur werklik ek sien dit daagliks maar ongelukkig is sekere politieke leiers glad nie ten gunste daarvan nie en blaas die haatvlam daagliks aan hoekom en vir wat sal geen mens weet nie. Ek dink persoonlik as politiek verdwyn en ek bedoel HEELTEMAL VERDWYN is daar weer hoop vir ons mooie SA

Bruno Stef ·

In die 1950/60 het ons as Jong seuns in twee groepe opgedeel van 2Wit outjies en sy manskappe wat bestaan het 6 swart outjies aan elke kant en aan die suidekant van Newlands/ Delarey 2 klipkoppies gehad wat vandag toegebou is beman en mekaar dan met klippe en ketties bestook.Sulke gevegte het ons daelank gehad en partykeer lelike blou kolle en stukkende plekke gehad maar ons as kinders het lekker met die SophiaTown se swart maats saamgespeel sonder dat ons ooit bewus was van Apartheid.

Anoniem ·

As daar n prys was vir die beste storie vir 2017 dan sou dit die een wees. Baie dankie Dijana vir jou mooi gesindheid teenoor ons blankes. Dit is seer sekerlik die mees positiewe storie wat ek gelees het en maak sommer my hart bly om te sien dat daar wel swart mense is wat omgee vir blankes. Dit is ook n riem onder die hart dat Dijana vir hulle gebid het daai petrol en geld was goed maar die gebed die beste. Wens ons president en toekomstige president wil sy hart so oopmaak teenoor die witman .

MH ·

Haal Jacob Zuma en Julius Malema en hulle rassistiese meelopers uit die prentjie, dan lyk Suid-Afrika baie soos ons in hierdie storie sien.

Penellope Jones ·

Dit is nou ‘n baie positiewe en goeie storie om te lees en iets waaruit almal kan leer!

Katvis ·

Dit is eintlik snaaks dat daar so ophef gemaak word. Is dit nie hoe dit veronderstel is om te wees nie, dat reg nou op uitsondering gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.