Murgpypmoeg: Te moeg om moeg te wees

Deur Halrika Breytenbach

(Foto: Unsplash)

Moeg vir variante, moeg vir maskers. Moeg vir debatte oor vaksien of anti-vaksien, moeg vir samesweringsteorieë of anti-samesweringsteorieë.

Moeg vir politiek, of die gebrek daaraan.

Moeg vir heeltyd huis skoonmaak, terwyl dit nog steeds lyk of orkaan Katrina dubbele verwoesting saai.

Moeg vir drie keer vra dat die katte moet kos kry, of kyk – hul water is al weer op.

Moeg vir suiker en “verfynde meel” opoffer, maar nog steeds dik bly.

Moeg vir elke dag probeer oefen, net om weer oefentyd vasgespin te sit in ʼn sperdatum of aandete op die laaste nipper te probeer saamflans. (Want jy het al weer nie vooruit beplan soos jy wou nie.)

Moeg vir werk en werk, maar dis die middel van die maand, hoe gaan ons dit dié slag haal tot by betaaldag?

Moeg vir mense wat soos padvarke ry, terwyl jy probeer om jou vrugte te wys.

My lysie is nog nie klaar nie, maar ek is nou te moeg om te skryf oor moegwees.

Ek klim in die bed dié aand, steeds nog effe knorrig ná ʼn besonder moeilike dag. My gewete kla my pligsgetrou aan: “Moenie kwaad gaan slaap nie” en my skuldige hart prewel saggies: “Jammer, Here, ek weet U vra ons moet altyd dankbaar wees. Kan ek maar net vanaand moeg wees?”

Terwyl ek Bybel lees, vou ʼn sagte trooskombers oor my vodde, vuisvoos vlees. In die stilte van ʼn slapende huis vind ek ʼn kosbare alleenkansie saam met my Vader. Sy vars asem spoel oor my siel, herinner my aan nuwe genade vir elke dag. Ek mág vanaand moeg wees. En ek mag dit vir Hom sê. Ek móét dit vir Hom sê. Want dis hoe ek my laste kan aflaai. Anders staan ek môre weer moeg op. En ek wil nie.

Nog ʼn dag met dié sleepvoetgevoel gaan die laaste woema uit my menswees mergel.

Die getroue Heilige Gees lei my tot by Psalm 103:5:

“Who satisfies your mouth [your necessity and desire at your personal age and situation] with good so that your youth, renewed, is like the eagle’s [strong, overcoming, soaring]! [Isa. 40:31.]”

Psalm 103:5 AMPC

“… wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk.”

Psalm 103:5 AFR83

Terwyl my geesmens die vers troetel, voel ek ʼn bekende veglus astrant in my are bruis. En ek dink so by myself: Murgpypmoeg, pasop net ʼn bietjie vir my môre! Jy sal wrintiewaar soos ʼn arend moet vlieg as jy enigsins by my wil byhou. En dít sit nie in jou murg nie – maar beslis in myne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.