Museum vier drukkersbedryf en gemeenskapspers

Tobie van den Bergh en Dries Venter knip die seremoniële lint. (Foto: Alita Steenkamp)

’n Idee wat 40 jaar gelede posgevat het by Tobie van den Bergh, redakteur van die Middelburg Observer, het uiteindelik gerealiseer: ʼn museum waarin die geskiedenis van die drukkersbedryf en gemeenskapspers veilig bewaar kan word. Tobie en die senior direkteur van OH Frewin Drukkers op Middelburg, Dries Venter, het op Donderdagaand 28 April die seremoniële lint geknip en die museum amptelik geopen. Hierdie museum is werklikwaar uniek in sy soort aangesien daar nêrens elders in die wêreld ʼn museum is wat geheel en al toegewy is aan die drukkersbedryf en gemeenskapspers nie. Afgesien van ou tikmasjiene, kameras en fotografietoerusting uit toeka se dae, word daar heelwat ou drukkersmasjiene, drukperse en ander toerusting uit die drukkersbedryf hier veilig bewaar. Een so ʼn pragtige ou en baie raar Albion-drukpers wat dateer uit 1856, is net betyds by ʼn skrootwerf in Johannesburg raakgesien en Dries Venter kon dit vir die museum se gebruik aankoop.

In die Weste word Johannes Gutenberg beskou as die vader van drukwerk. Hy het in 1440 begin met eksperimente om letters agterstevoor uit munte te sny en dit dan vol ink te smeer en op papier te druk. Die hele geskiedenis van Gutenberg en sy drukpers maak deel uit van een van die uitstallings in die OH Frewin Museum for the Printing and Community Press in Middelburg. Deel van die amptelike opening was ʼn demonstrasie deur Dries Venter op een van die gerestoureerde drukkers en van die gaste kon die handgedrukte voorbeeld saamneem as aandenking.

Dries Venter besig met drukwerk op ʼn ou masjien. (Foto: Alita Steenkamp)

“Ek is geweldig trots dat die museum gevestig is,” sê Tobie wanneer ʼn mens hom pols oor hierdie besondere mylpaal in sy joernalistieke loopbaan van 47 jaar. “Toe Dries ʼn paar jaar gelede ingestem het dat ons hierdie gedeelte van die fabriek waarin die museum geleë is vir daardie doel kan gebruik, was alles nog soos voor die Skepping: woes en leeg. Ons het nie eintlik geweet wat ons wil doen en hoe ons dit gaan regkry nie. My redaksie het baie vir my gelag, want die hele kantoor het vol ou foto’s en rame en tikmasjiene gelê en baie het gedink dit sal nooit van die grond af kom nie. Die museum moes in 2020 geopen het, maar soos baie ander dinge is die opening deur die inperkings van die pandemie gestuit. Nou ná hierdie amptelike opening, is ek net bly dat ons deurgedruk het en beslis iets hier opgerig het wat vir die nageslag bewaar kan word.”

Marietta Lombard, voorsitter van die Forum vir Gemeenskapsjoernalistiek, Tobie van den Bergh, redakteur van Middelburg Observer, en Dries Venter, senior direkteur van OH Frewin Printers.(Foto: Alita Steenkamp)

Tobie vertel dat hy ʼn paar dae voor die opening sy kleinkinders deur die museum geneem het. Dié negejarige tweeling, Bianca en Kelvin, noem juis vir Tobie Oupa Koerant. Die twee was gefassineer deur alles in die museum: Koerantvoorblaaie, foto’s, drukkerslaaie met houtletters daarin, ʼn ontwikkelaar vir die maak van foto’s in die donkerkamer, en hordes ander interessanthede het alles hier plek gekry. Tobie vertel hy het in 1982, toe hy pas aangestel is redakteur van die Middelburg Observer,  ʼn berig geskryf waarin hy die sloop van ʼn ou gewelgeboutjie in Kerkstraat betreur het. Hy het onder meer gesê dat die gebou vir die nageslag bewaar moes word. Wat hy nie geweet het nie, is dat daar reeds ʼn multimiljoenrand-transaksie in plek was en die bestuurder en eienaar van OH Frewin, John Frewin, het die gebou aan ʼn supermark verkoop. Tobie is ingeroep en het ʼn propperse skrobbering ontvang. Hy is ook beveel om nooit weer oor die gebou te skryf nie. Intussen het dr. Anton Rupert self in koerantberigte gevra dat die gebou as museum bewaar moet word. So is die gedagte aan ʼn museum vir die gemeenskapspers by Tobie gevestig.

OH Frewin drukkers is kort na die Anglo-Boereoorlog in Middelburg gevestig en Oscar Henry Frewin, die eienaar, word deur geskiedkundiges beskou as die vader van gemeenskapskoerante in Suid-Afrika. Hy het dan ook in die gebou wat gesloop is gewerk. Frewin het die vereniging gestig wat gemeenskapskoerante in Suid-Afrika verteenwoordig, die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste, en was vir 25 jaar lank die voorsitter van hierdie vereniging. Dit is dus met reg dat die museum in Middelburg, wat nou ʼn werklikheid geword het, na hom vernoem is.

Die kosbare ou Albion-drukpers wat van ʼn skrootwerf gered is. (Foto: Alita Steenkamp)

Dis vir Tobie moeilik om iets in die museum uit te sonder aangesien elke koerantvoorblad, foto, kamera en ander toerusting wat hier uitgestal word werklik iets besonders is, maar daar is wel iets wat vir hom uitstaan: ʼn galgtou in ʼn raam. “In 1991, drie jaar voordat ons ʼn demokratiese bestel gekry het, het die koerant ʼn berig geplaas waarin ons vertel het hoe die oop gemeenskap in die nuwe Suid-Afrika gaan lyk. Oop skole, atletiekbyeenkomste en so meer. Die Boerekommando het gesê dit sal nooit gebeur nie. Een oggend, toe ek die voordeur oopsluit, was daar ʼn galgtou met die woord volksverraaier daarby op my voorstoep. My kinders het dit ook gesien en was vreesbevange, maar ek het besluit om dit te raam. Vandag is dit deel van die museum en ʼn mens kan nie glo dat ek uitgemaak is as ʼn volksverraaier, bloot omdat ons voorspel het wat gaan gebeur nie,” sê Tobie.

ʼn Paneel vol geskiedkundige foto’s en koerantberigte.(Foto verskaf)

ʼn Droom wat tussen die bakstene van ʼn ou gewelgeboutjie op die grond beland het, het gelukkig nie daar gesterf nie. Vandag is die OH Frewin Museum for the Printing and Community Press ʼn werkende museum wat kan getuig van ʼn era wat verby is. Geblokte borde vertel hier die geskiedenis van die drukkersbedryf, maar veral gemeenskapskoerante in Suid-Afrika. Dis juis by gemeenskapskoerante waar van die land se top joernaliste hulle ambag geleer het. Hierdie koerante was nog altyd ʼn onmisbare stem vir die gemeenskap.

“Gemeenskapsjoernaliste is soveel meer as net verslaggewers, want hulle skryf en huil oor mense wat hulle ken”, het iemand eenmaal gesê. Kom kuier gerus in hierdie unieke museum en loop saam terug in tyd. Dit sál ʼn interessante staptog wees.

  • Kontak vir Tobie van den Bergh by [email protected] met enige navraag of indien jy een of ander skenking aan hierdie museum wil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Impact ·

My man se oorlede Oupa was betrokke by die stigting van die Staatsdrukkery. Ek sit met al sy sertifikate en fotos en selfs sy leertas waarmee hy gaan werk het. Ek het ook nog van die loodletters in ‘n glaskassie wat hy bewaar het, selfs sy ou kamera wat in ons Herinnering kamer staan. Dit is ongelooflike erfstukke en die agterkleinkinders heg geen waarde aan die ou gemors nie. Dit is vir my ‘n skatkis wat bewaar moet bly v.d nageslag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.