Musiekstudent oor gidshond: ‘Ons was vir 8 jaar onafskeidbaar’

Michelle Nell en Donna, haar geliefde 11-jarige gidshond, wat onlangs afgetree het. (Foto: Stefan Els/Verskaf)

Michelle Nell en Donna, haar geliefde 11-jarige gidshond, wat onlangs afgetree het. (Foto: Stefan Els/Verskaf)

Michelle Nell (32), ʼn siggestremde student aan die Universiteit Stellenbosch, het Donderdag haar meestersgraad in musiek (MMus) verwerf, met haar geliefde afgetrede gidshond, die 11-jarige Donna, aan haar sy.

Nell, wat in die Wes-Kaap gebore en getoë is en by die Pionierskool vir siggestremdes in Worcester matrikuleer het, het direk na skool musiek op Stellenbosch gaan studeer. In 2007 het sy haar BMus-graad verwerf waarna haar honneursgraad in 2009 gevolg het.

Vandag is Nell, wat met gloukoom gebore is, trots om te sê dat sy haar MMus-graad cum laude verwerf het. Voordat sy verlede jaar afgetree het, was Donna pligsgetrou aan Nell se sy deur elke klas en uitdaging. Volgens Nell was dit vir haar bitter moeilik toe Donna uiteindelik as haar gidshond moes aftree.

“Die band tussen gidshond en eienaar is verskriklik spesiaal. As siggestremde persoon plaas jy daagliks jou lewe in die hande van die lojale dier wat sonder enige teenkanting sy werk doen. Hulle raak partykeer stout, want hulle is tog honde, maar die verhouding is baie heg,” vertel Nell aan Maroela Media.

“Ek het amper gevoel soos ʼn ouer wat ʼn kind aan ʼn pleegouer moet toevertrou toe Donna na my ouers toe moes gaan nadat sy afgetree het,” sê Nell.

Michelle Nell ontvang haar MMus-graad aan die Universiteit Stellenbosch met haar geliefde Donna aan haar sy. (Foto: Verskaf)

Michelle Nell ontvang haar MMus-graad aan die Universiteit Stellenbosch met haar geliefde Donna aan haar sy. (Foto: Verskaf)

“Dit was hartverskeurend en ek leer nog om daarmee saam te leef, want ons was vir agt jaar onafskeidbaar. As ek laat nagte deurgewerk het tot 05:00 die oggend, was sy aan my sy. Ons het saam die pad gevind en gestap.”

Nadat sy haar honneursgraad in 2009 verwerf het, het haar gesondheid verswak en moes sy vir ʼn tyd lank in die hospitaal opgeneem word. Daar was Donna vreeslik oorbeskermd oor haar, sê Nell. “Sy het my só beskerm en was glad nie ʼn vriendelike hond teenoor ander mense nie.”

Sy verduidelik dat gidshonde om en by die ouderdom van 10 aftree. “Ons het ontdek dat haar een ogie besig is om ʼn katarak te ontwikkel en dis nogal ironies dat dit juis haar sig is wat agteruitgaan nadat sy vir soveel jare my oë en ore was. Gelukkig is dit net haar periferale visie wat aangetas is en sy sal nie heeltemal blind word nie,” vertel Nell.

Tog het Donna oornag oud geword, sê Nell. “Sy het eendag by ʼn verkeerslig net gaan lê, wat sy nooit gedoen het nie en dis toe ek geweet het dit is nou haar tyd om af te tree.”

Nell vertel Donna was tydens die gradeplegtigheid weer haar ou self. “Sy het gister vir oulaas gewerk en saam met my geloop. Sy was verskriklik lewendig en opgewonde en was mal oor al die mense wat met haar praat.”

Sy gee toe dat sy nog elke dag na Donna verlang. “Ten minste bly sy by my ouers. My enigste vrees is dat hulle haar gaan vet voer, maar verder is sy in baie goeie hande,” skerts Nell.

Michelle Nell ontvang haar MMus-graad aan die Universiteit Stellenbosch met haar geliefde Donna aan haar sy. (Foto: Verskaf)

Michelle Nell ontvang haar MMus-graad aan die Universiteit Stellenbosch met haar geliefde Donna aan haar sy. (Foto: Verskaf)

Volgens Nell is daar verskeie metodes vir siggestremdes om musiek aan te leer. “Ek het Braille gebruik en dit is nie maklik nie. Klavier is my instrument wat uiteraard linkerhand‑regterhand is en die note is nie op ʼn notebalk nie, dit is alles liniêr, dus moes ek leer om regs op die klavier te speel terwyl ek met my linkerhand die note lees en anders om. Ek kan uiteraard ook nie bladmusiek lees nie, maar ek kan stukke van gehoor af doen en dit is ook meestal hoe ek die teorie behartig het. ʼn Mens leer om op jou voete te dink.”

Sy sê daar is nog baie stigma aan siggestremdheid verbonde en dit is juis hoekom sy geregistreer het om ʼn PhD-graad in sielkunde te verwerf en wil graag in loopbaanvoorligting vir blindes spesialiseer, omdat die werkloosheidsyfer onder blindes in Suid-Afrika tans sowat 98% is.

“Ek wil graag navorsing doen vir blinde skoolverlaters, omdat baie blinde mense werkloos is of in sekere poste, soos byvoorbeeld skakelbordhantering, geplaas word. Hoewel daar absoluut niks fout is met daardie soort beroepe nie, glo ek dat blinde mense tog groter ideale het en meer kan bereik, maar hulle ontvang nie die regte loopbaanvoorligting oor die geleenthede wat daar buite is nie.”

Nell se nuwe gidshond en Donna se troonopvolger, Luna, het tydens die gradeplegtigheid in die gehoor gesit en haar nuwe eienaar se prestasie met ywer dopgehou.

“Dit was gister my en Luna se vyf maande herdenking,” vertel Nell en sê dat dit gewoonlik so ses maande neem vir ʼn eienaar en ʼn gidshond om mekaar te leer ken en verstaan.

“Luna is heeltemal anders as Donna, maar sy is baie slim en hou verskriklik baie van om getroetel te word. Sy besef nie altyd hoe groot sy is nie. My ouma is onlangs oorlede en alhoewel ek geen fisieke emosie getoon het of gehuil het nie, het Luna net gewéét, en sy het op my skoot kom sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

IK ·

Nou Michelle, ‘n musiekstuk opgedra aan Donna. Ek is sonder woorde vir julle beide se prestasies.

Johanna Botha ·

Wat n wonderlike groot prestasie …baie baie geluk en sterkte ! Julle maak ons hart bly en mooi musiek spreek tot almal se harte !

? leser ·

aangesien michelle sig-gestremd is, hoop ek regtig iemand sal vir haar se hoe inspirerend dit is om soveel moed aan die dag te lê en dan om iemand anders se hand te vat en hulle ook wil wys, sig-gestremde mense is ook mense soos ek en jy, en kan baie in die lewe vermag as iemand jou net ‘n geleentheid gee, al is dit net om jou as sig-gestremde te bewys, niks is onmoontlik nie

baie geluk michelle, jys een van God se “siende” kinders, Hy sál jou altyd bystaan

Helene ·

Baie geluk Michelle!. Nou kan haar geliefde Donna lekker rus. Sy het haar werk gedoen!

Miekie ·

Sjoe Michelle, dis fantasties. Bmus is ‘n erg moeilike graad vir enige mens en baie studente skop op na 6 mnd. Jy doen dit met jou gesig gestremdheid en nog die Meestersgraad daarby. Ek glo jou ouers en almal wat lief is vir musiek is baie trots op jou. Hoop jy en jou nuwe gidshond word gou beste vriende!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.