Multigestremde hardloop ‘vir ander soos hy’

Francois saam met sy sussie, Angelique (Foto: Facebook)

Francois saam met sy sussie, Angelique (Foto: Facebook)

Hy is blind én outisties, maar in haar ganse lewe het sy nog nie iemand ontmoet met sy positiewe ingesteldheid en onwrikbare wil om ʼn verskil in ander se lewe te maak nie.

Só vertel Michelle van Jaarsveld van haar seun, Francois, wat op 14 April vanjaar aan die Two Oceans-pretdraf gaan deelneem om geld vir mense met multigestremdhede in te samel.

Francois het verlede jaar matriek behaal aan die Pionierskool vir Blindes in Worcester in die Wes-Kaap en werk vanjaar vir Kaleidoskoop, voorheen bekend as die Instituut vir Blindes.

Van Jaarsveld vertel haar suster, Lucille Bruwer, en die bemarkingsbestuurder vir Kaleidoskoop se deelname aan die pretdraf, Ledivia Hamman, het vanjaar daarin geslaag om 20 kaartjies vir dié organisasie onder Two Oceans te registreer.

Dié kaartjies het soos soetkoek verkoop.

“Dit is vanjaar die eerste keer dat ons Kaleidoskoop as organisasie ingeskryf het, en kon daarom net 20 kaartjies kry om te verkoop, maar ons is ywerig om volgende jaar selfs nog meer betrokke te raak,” vertel sy.

Francois werk in die sogenaamde nywerheidsafdeling van die organisasie waar hy as pakker werk omdat sy gestremdheid ʼn groot hekkie is.

Michelle vertel egter hy is baie positief en wil voortdurend ander mense help. “Hy is werklik ʼn inspirasie vir ons – om die waarheid te sê, ons leer baie van hom en sy positiewe ingesteldheid.

“Hy het reeds gesê dat hy vroeg wil begin oefen sodat hy volgende jaar nie aan die pretdraf hoef deel te neem nie, maar aan die groter afstande waarin die ‘regte’ atlete draf. Hy wil hardloopp vir ander soos hy.”

Michelle sê die belangrikste hiervan is bewusmaking vir mense met multigestremdhede. “Daar is werklik baie behoeftige mense daarbuite van wie mense nie weet nie. Ons wil hulle help op welke wyse ook al; of dit nou geld of bystand is, elke bietjie help.”

Kaartjies vir Kaleidoskoop is reeds uitverkoop, maar indien jy nog geld wil skenk, kan jy die woord “blind” SMS na 40069. ʼn SMS kos R20 en al die geld word aan die organisasie geskenk.

Die Two Oceans-wedloop vind op 14 April by die Universiteit van Kaapstad se rugbyveld in Rondebosch plaas. Daar is onder meer wedlope vir kranige drawwers, vriendskaplike wedstryde en vir kinders tussen 4 en 6 asook 1 en 3 jaar.

Vir meer inligting, besoek Two Oceans se webwerf.

Besoek ook Kaleidoskoop se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Laurika ·

Goeie Dag. Spelling op die hoof opskrif is inkorrek. Maar ek stem, dit was ‘n lang week.

Janie Monsieur ·

Dagsê Laurika,

Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig, dit was inderdaad ‘n lang week!Dankie dat jy ons daarop gewys het, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Alida ·

Kan meer plekke nie vir gestremdes werk gee nie. Hoekom word hul weggewys. Dankie vir die plekke wat hul wel kans gee en menswaardig laat voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.