Muurkuns wat die storie van ’n stad vertel

selwyn-en-hank-by-die-finale-werk

Selwyn en Hank by die finale kunswerk. Foto: Verskaf.

Die jong Pretorianer Selwyn Steyn se eerste kontak met Atterbury was toe hy St. Alban’s College se installasie behartig het vir die eerste Cool Capital Biënnale se skolekunskompetisie. wat deur die Atterbury Trust geborg is. Hy is tans ’n topargitektuurstudent in sy twee jaar by Tukkies, en het so pas ’n treffende muurkunswerk by Atterbury se nuwe hoofkantoor, Die Klubhuis, aangebring. Hy het met Melinda Shaw gesels.

Wou jy altyd argitektuur gaan swot; jy is dan so kunstig? Wat het jou argitektuur bo kuns laat kies?

Ek was altyd nogal tussen dié twee stoele. Argitektuur het op die ou end gewen omdat ek altyd gefassineer was deur ruimtelikheid, fenomenologie en materialiteit, veral waar dit van toepassing is op die kunste. Ek het ook ’n passie vir die beboude omgewing en ek kry eintlik dieselfde bevrediging deur myself kreatief uit te druk deur ruimte en struktuur te gebruik, as wat ek kry met verf of ink.

Hoe het dit toe gebeur dat jy die opdrag gekry het vir ’n kunswerk in Atterbury se Klubhuis?

Louis van der Watt, wat aan die hoof is by Atterbury, het ’n groot muurskildery gesien wat ek in 2016 by 012 Central in Pretoria gedoen het, en daardie opdrag het gevloei uit die sukses van ons skool se Cool Capital se openbare kunswerk.

Was daar ’n spesifieke opdrag, of het jy heelwat vryheid gehad oor wat die werk sou behels?

Die kliënt het dit aan my oorgelaat om iets te skep wat ek gevoel het sou pas.

Goed, jy kry die opdrag… wat gebeur volgende? Kan jy jou inspirasie en jou ontwerpproses met ons deel, en ook meer vertel oor die uitvoer van die ontwerp? Het jy alles manalleen gedoen of het jy hulp gehad met die finale uitvoer van die werk?

’n Werk soos hierdie begin op konsepvlak. Ek besluit presies waar die werk gaan leef en wie daarna gaan kyk, sodat ek iets kan skep wat beide esteties aantreklik is en binne die konteks werk, en ook ten opsigte van konsep geldig en relevant is.

Ek het gespeel met die idee van ontwikkeling en die aardsbehoefte van die mens om sy omgewing te vorm. In argitektuur word Nolli-diagramme (wat vernoem is na die Italiaanse argitek Giambattista Nolli) gebruik om op visuele manier te wys watter dele van ’n stad ontwikkel is en watter nie. Hierdie diagramme dui die dikwels oneweredige en organiese groeipatrone van ’n stad aan, en dit laat mens onmiddellik dink aan ander natuurverskynsels soos bakteriële groei, fraktale en so aan.

Nolli-diagramme is visueel aantreklik en dit is ’n abstrakte en tog ook empiriese en vereenvoudigde uitbeelding van ’n stad. Meer belangrik is dat dit so sterk verwant is aan die idee van ontwikkeling, wat spreek tot die kern van Atterbury as ’n organisasie. Ek is deur baie argiewe en bronne, en het besef dat niemand nog ooit voorheen ’n volledige Nolli-diagram van Pretoria gedoen het nie.

Dus, met hierdie idee in gedagte, was die volgende stap om ’n landkaart te maak waarop ek al Atterbury se ontwikkelings aangedui het, en hiervoor moes ek besluite neem oor skaal en oriëntasie. En toe het ek ’n sjabloon van die hele Pretoria gemaak, waarna die detail met die hand geverf is. ’n Gewaardeerde kollega in die kunste, Henk Vryenhoek, het my hiermee gehelp.

selwyn-by-die-muur-vooraf

Selwyn by die muur voordat hy die kunswerk aangebring het. Foto: Verskaf.

Het die grootte van die werk, en die posisie daarvan in die gebou jou ontwerp hoegenaamd beïnvloed?

Die werk is 7,3 by 2,4 meter en hierdie groot skaal het sekere uitdagings gebring. Kuns werk soms die beste óf op makrovlak óf op mikrovlak, maar met so ’n groot muur, met ’n loopvlak reg langsaan, moes ek seker maak dat dit op beide makro- en mikrovlak werk. Visuele konteks is ook baie belangrik vir die sukses van die eindproduk, so ek moes ’n werk skep wat inpas by die korporatiewe omgewing en ook die karakter en die dekor van die kantoor komplementeer.

So gee die skulpturele David Krynauw-houtmeubels naby die muur as’t ware ook visuele inligting oor die aard van die werk.

Gegewe hoe groot die werk is, kon jy dit in een stuk op die toneel aanmekaarsit, of hoe het die installering gewerk?

Ek het wel die sjabloon gebruik om die komposisie en skaal akkuraat uit te voer, maar die meeste van die werk is op die toneel met die hand geverf.

Was daar bepaalde uitdagings wat jou laat sweet het?

Dit was beslis uitdagend om weens gebouregulasies slegs ná besigheidsure, in die aand te kon werk. Lig werk saans baie anders op oppervlakke as gedurende die dag, so ek was nooit heeltemal seker hoe die halfklaar werk die volgende oggend in die helderder daglig sou lyk nie! Ek moes maar my intuïsie vertrou!

Wat was vir jou die lekkerste deel van die proses; en is jy tevrede met die resultaat?

Baie daarvan was lekker; ek het beslis nou ’n deegliker begrip van ons stad. Ek geniet dit altyd om ’n baie groot, tydrowende werk klaar te maak. Ek hoop ek het iets geskep wat werk as dit bloot beskou word as ’n rangskikking van abstrakte geometriese vorms; maar ook gesprek uitlok en mense uitnooi om dit van nader te bekyk.

Hoop jy dat meer kunsopdragte sal volg op hierdie een?

Ek het besef dat Atterbury sterk bande smee met kunstenaars – kyk maar hoe baie Angus Taylor-beeldhouwerke daar by hul ontwikkelings uitgestal word. Dit sal fantasties wees om in die toekoms meer geleenthede te hê en saam met die maatskappy te groei en te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.