My 30 sekondes tussen lewe en dood

Marianda Schlebusch het haar aangrypende verhaal met Maroela Media in haar eie woorde gedeel. Foto: Verskaf.

Deur Marianda Schlebusch

Dis Saterdag 12 Oktober 2019. Ek en my man, Louan, is op pad na Heidelberg, Gauteng vir ’n werkfunksie. Ons kar is gepak met borde, glase en eetgoed. Ons gesels oor kleiner dorpies soos Heidelberg en hoe gerieflik en rustig ons daar sal bly

Net ná die GPS ons herinner dat moet afdraai, sien ons skielik stof en bome in ons baan.

“Hier is ’n ongeluk wat van die anderkant af gebeur het,” is Louan se eerste reaksie.

Ons stop dadelik aan die linkerkant van die pad, toe die goue Fortuner deur die bome van die N3-snelweg se kant gerol kom en op sy wiele beland. Ek maak myself los, gryp my foon en klim uit om te gaan help. Met die uitklimslag staan ’n man by ons en skree: “Help me! Help me, please!” Sy gesig is vol bloed.

I am already phoning the police, how many people in your car? Injuries?” Vrae wat jy vra by ’n ongelukstoneel. Die bebloede man beweeg agter my verby na my linkerkant. Toe ek regs na die wrak kyk, kyk ek vas in ’n geweerloop en ’n man.

My verstand sê vir my dat die man links dalk skuldig is en die man met die geweer homself beskerm. En dat ek nie gaan kies nie, want ek staan reg in die middel van die twee.

Ek hoor die doep-doep en die klank van metaal. En die fluit van ’n koeël voor ek die wind daarvan voel – net-net verby my nek. ’n Arm druk my links. My lyf draai met 2 cm.

’n Brandpyn tref my maag soos ’n kool vuur. Ek besef dat ek raakgeskiet is. Vir ’n sekonde is dit stil, my brein is helder. Al waarvan ek bewus is, is my kinders. Op daardie oomblik maak my kar, huis, ring, handsak of skoene nie meer saak nie. Ek bid om môre te mag sien. Om by my geliefdes te wees. En gee drie tree tot binne-in die kar.

Toe ons wegtrek, hoor ek Louan sê: “Sorry, kêrel”. Die bebloede man hardloop agterna. Nóg skote tref die dakrak van ons kar. Ping-ping!

Ek is kalm, bel die polisie, verduidelik wat gebeur het en waar ons is. Maar ek bewe soos ’n riet. Ek sê vir Louan ek dink ek is raakgeskiet. Hy kyk my klere só en sê: “Nee, man.”

Toe lig ek my hemp op… My maag is blou, vol bloed. Louan skree.

“Nee, nee, nee!” Hy staan op die pedale om vinniger te ry. Hy bly skree, “Ek is só jammer dit het gebeur!”

Ek bel Kobie*, verduidelik ek is geskiet. Drie skote. Ek moet hospitaal toe. Hulle moet asseblief die breekgoed vir die funksie by die hospitaal kom haal.

Louan kry die hospitaal op sy GPS en ons ry by ongevalle in. Ek bel Mia*, vertel haar ek is in die maag geskiet. Ek verseker haar ek is oukei.

Ek is nog steeds kalm, rustig, collected. Die verpleegsuster help my dadelik. Louan moet ’n lêer oopmaak, fone beman en my ouers bel.

My pa verjaar ook vandag. My ma antwoord en sy vertel agterna dat sy kon hoor daar is groot fout – Louan se stemtoon het hom verraai.

Chaos, skok, ongeloof. Fone lui, boodskappe stroom in.

Ek lê in die hospitaalbed, trane van verligting stroom oor my wange. Want tóé eers kom ek tot verhaal.

’n Man storm by ongevalle in en skree: “There is a lady. She has been shot! She took the bullet for me. Do you know about her?

Die bebloede man van die Fortuner. Hy leef.

Sekondes nadat ons by die ongelukstoneel weggery het, het ’n polisievoertuig hom opgelaai en hospitaal toe gebring.

Hy huil onbedaarlik toe hy my sien. Ek verseker hom dat dit net ’n vleiswond is. Terwyl ons oorkant mekaar in ongevalle lê, vertel hy hoe ’n wit kar teen ’n hoë spoed hom vanaf sy onderneming op pad Johannesburg toe gejaag het. Hulle het sy bande raakgeskiet en dis toe sy kar gerol het. Sy boetie en vrou is op pad.

Louan stap na hom toe en sê jammer omdat hy hom daar agtergelos het. My man met ’n hart van goud.  Die man van die Fortuner se vrou is histeries. Sy huil onbedaarlik. Hy vertel haar wat gebeur het en sy kom snikkend om dank en respek aan my te betuig. Die res van die familie volg haar voorbeeld.

X-strale wys dat daar geen koeël of skrapnel in my is nie. My wond word versorg en ek kry pilletjies onder my tong vir skok. Louan ook.

Die polisie kom na my toe. Ek sit in een van die diep stoele, die trane loop. Ons verduidelik wat gebeur het. Hulle dring daarop aan dat ons weer die toneel besoek en verklarings aflê.

Maar al wat ek wil doen, is huil. Omdat ek lewe.

Met my ontslag kom die Fortuner-man na my toe, vat my hande en kyk in my oë: “You saved my life today and I owe you my life”.

En al waaraan ek kon dink om te sê was: “Go and pay if forward”.

Mia reël blitsvinnig ’n privaat speurder om saam met my na die toneel te gaan, want ek is bang. Die Fortuner-ou het net ’n skraap opgedoen en is ook op die toneel. Ek vertel weer wat gebeur het.

Mia en haar man kry ons daar, al die pad van Pretoria af. Êrens het iemand doughnuts en cream soda gekry. Dit lyk soos ’n klein piekniek langs die misdaadtoneel.

Die polisie en die speurder is dit eens. As ek nie 2 cm weggedraai het nie, was dit ’n buikwond en my ingewande stukkend. Die wapens – vermoedelik ’n AK47 en ’n 9 mm-pistool – het die vermoë om alles stukkend te ruk.

Die wonderwerk begin stadig insink. Ek huil op Mia se skouer en sy huil ook. Almal vertel my dat ek iemand se lewe gered het. En die man van die Fortuner se familie kom betuig hul dank – ou mans in Moslem-jurke, kufi op die kop. Jong mans met vinnige karre. “Because you saved him”.

Louan help met die verklarings en amptelike sake.

Ons gaan terug Heidelberg toe, want ek het besluit om die funksie wel te gaan bywoon – vir ’n rukkie. Omdat dit op daardie oomblik al struktuur en rigting tussen die chaos was. My bestuurder bel en verseker my dat niemand van my verwag om die funksie by te woon en die prysoorhandiging te doen nie. Ek is nie ’n slagoffer nie,  sê ek hardkoppig. Hy noem my dapper.

Ek het nog nie só aan myself gedink nie.

Ons praat sonder ophou, oor elke klein besonderheid, sodat ons nie vergeet nie. Louan help my geduldig om te stort en klaar te maak vir die funksie. Ons besluit ook om die kinders te vertel sodra ons hulle sien.

By die funksie oorhandig ek die erkennings soos ek beplan het, met Louan aan my sy. Ek loop stadiger as normaalweg, want ek is dwarsoor my naeltjie gepleister.

Almal vra dat ek moet vertel wat gebeur het en ek vat die mikrofoon. ’n Vrou stel haarself voor as Ria*. Ek herken haar van die hospitaal. Kobie het haar gebel. Sy is ’n opgeleide trauma- en intensiewesorg-verpleegsuster.

Suster Ria* vertel my dat sy die hospitaal gebel het om seker te maak daar is ’n dokter aan diens wat my besering sal kan versorg. Sy weet dat Heidelberg geen chirurge het nie en het toe sommer met ’n hospitaal in Pretoria ’n chirurg gereël om reg te staan, sou ek per helikopter daar moes aankom. My mond hang oop.

Almal voel dat ek die gebeure met die wêreld moet deel. Een tannie kom na my toe en sê: “My kind, jy is Esther. Jy het vandag ’n gesin se lewe verander en jou storie is soos dié van Esther. Gaan verander ’n nasie”.

Tydens die funksie pak ons die koelboks uit. Die een koeël is dwarsdeur die koelboks se wand en het in die blok camembert-kaas gestop. My ingewande ruk. Ons haal die koeël uit en neem foto’s om die volgende oggend na die polisie te neem. Louan spot oor die koeël wat sy whiskeybottel net-net gemis het.

Ná ’n glasie wyn slaap ons dié nag heel rustig. Vroeg Sondagoggend kyk ek hoe die son opkom met goue en pienk ondertone tussen die wolke en ek is so dankbaar dat daar vir my nog ’n môre is.

Ons kry die kinders en verduidelik wat gebeur het. Ons het besluit om eerlik te wees en niks terug te hou nie. Ons oudste reageer dramaties en die jongste huil net. Ek verduidelik aan hulle dat ek maklik skrik en hulle my asseblief nie nou moet skrikmaak nie. My kinders sit weerskante van my op ons gunstelingbank en van dankbaarheid loop die trane weer ’n keer.

Aanvanklik slaap ek baie – dag én nag. Dis ongewoon. Ek het geen nagmerries nie, geen terugflitse, geen woede of verwyt nie. Ek en Louan gesels oor die gebeure – as ons weer kan kies, sou ons presies dieselfde kies. Want dis wie ons is, ons help ander.

Ons gesin praat oor die trauma en dit help om alles te verwerk. My ouers bel kort-kort en my skoonouers is net so bekommerd. My sussie wil haar verjaarsdagplanne kanselleer om my te kom help. Ek wys dit vriendelik van die hand. Teen Maandag begin ek besef dat my besering en die trauma nie net my gesin raak nie, maar ook my ouers en sussie. Ek is nie net eggenoot en ma nie, maar ook kind én suster.

Die bloemiste stop in een week meer by ons huis as in twee jaar saam. Blomme, proteas, boodskappe, briefies, sjokolade, neute en geskenke word aangedra. Vriende en vreemdes omvou ons met liefde en omgee.

My (en ons) lewe is in een opsig dieselfde as voor die skietery, maar tog ook heeltemal anders. Op die toneel het my vriendin vir my gesê: “Jou lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. Life changing experience”.

Voor die trauma het ek naarstigtelik gesoek na my doel op aarde. Ek het soveel keer gewens ek kon my drome, ideale en eienskappe op Google intik en dan spoeg Google vir my ’n doel en droom uit.

In die dae ná die gebeure het daar ’n rustigheid in my kom lê. ’n Rustigheid met die wete dat God my lewe beheer. Dat ek nog op aarde móét wees. Dat niks te groot of te moeilik vir God is nie. Hy het my teen agt koeëls en twee skerpskutters beskerm. Mense wat opgelei is om in bewegende voertuie mense dood te skiet, mis my – ’n lewensgrootte teiken reg voor hulle.

Ons gaan sien ’n traumaterapeut. Ek vertel haar in detail van die gebeure asof dit ’n Wilde Weste-fliek is met my as hoofkarakter. Sy is stom. Sy verduidelik dat my brein op die toneel nie ’n veg-, vlug- of vriesreaksie gehad het nie – eie aan my unieke breinprofiel, het ek nugter gedink en besluite geneem. En dis toe ook my redding ná die tyd. Die terapeut sê vir Louan ná ’n halfuur dat sy uitkyk op die lewe net so positief is en dat hy alles goed verwerk het. Ons is dankbaar om saam en heelhuids daar uit te stap.

Statisties moes ek dood gewees het. Die kaliberwapens, trajeksie, afstand en skutte – ál die koeëls moes my getref het. Dis ’n wonderwerk.

Ek was nog nooit so dankbaar vir ’n vetrol om my middel nie. Want dié rolletjie het die impak gevat en my organe beskerm. En die konteks hiervan is skokkend, want in my lewe het ek alles gedoen om maer te wees – van niks eet, oefen en groen sappe drink. Maar nou het ek vrede met my lyf. Ek is goed vir my lyf omdat dit kosbaar is. En nie oor ek eendag graag ’n bikini wil dra nie.

Ná die insident is my hele lewe anders. Ek weet ek moes dood gewees het en dat bitter min mense ’n tweede kans soos ek kry.

Ek luister na dié om my, omdat ek graag wil hoor. Ek besef dat die lewe nóú is en nie eendag nie. Dat die lewe saam met my geliefdes kosbaar is. En dat ek graag wil doen wat my vervul en gelukkig maak.

My klerewinkel is ’n uitvloeisel hiervan. Elsje de Wolfe het gesê: “I will make everything around me beautiful, and that will be my life”.

Elkeen wat my hoor, moet kosbaar voel. Elke vrou wat ek help, moet pragtig voel en onthou hoe kosbaar sy is. Vir haarself, haar mense en vir God. Dat sy geskape is om haar doel te vervul en dat sy perfek gemaak is daarvoor.

Alles wat jy nodig het is reeds in jou.

Hierdie waarhede deel ek graag met ander – nie omdat ek dink ek het oornag ’n sielkundige of goedvoelspesialis geword nie. Ek doen dit uit suiwer dankbaarheid teenoor my Skepper wat my nog ’n kans gegee het om te leef, te laat leef en mense te inspireer om weer te leef.

Die lewe begin nie eendag as hierdie en daardie gebeur of ’n boksie afgetik is nie. Dis nou, vandag, hierdie oomblik. En alles kan in 10 sekondes verander. Die 30 sekondes van die skietery het die rigting van my en my gesin se lewe totaal verander. Dit wat daaruit gevloei het, het dit een van die rykste ervarings van my lewe gemaak. En daaroor juig ek elke dag.

Wat ek hieruit geleer het? God is goed. Altyd.

Ek leef, Hy het agt koeëls van my weggehou – hoeveel meer sorg hy nie vir my nie? Ons finansies, werk en bekommernisse is klein teenoor ons wonderwerk.

Voorheen sou ek oor klein goedjies verskriklik bekommerd gewees het, maar nou het ek vrede in my hart dat alles goed uitwerk.

Wat mense van my dink, is hul opinie. En ander se opinie kan nie my lewe se rigting bepaal nie. Ek was geneig om my voorkoms, optrede en beeld te rig na die beeld wat ek moet uitstraal. Konserwatiewe hare om supervrou of trofeevrou te wees. Perfekte ma en skoondogter. Ek het ’n paar dae ná die skietery my hare kort gesny, met ’n knipper op party plekke en my hart het ligter geword. Want die persepsie van wie ek “moet” wees, is weg. Ek is ek soos God my geskape het en ek lééf met passie: my beste self.

Alles gebeur met ’n doel. Twee weke voor die skietery het ek gebid en gesê dat ek graag ’n storie wil hê om te vertel, ’n doel en impak op iemand se lewe wil maak. Min het ek geweet hoe radikaal my storie sou wees.

Ek deel my gevoelens en emosies openlik. Ek bel Louan baie keer elke dag net om vir hom te sê dat ek dankbaar is en lief is vir hom. Ek sit my foon neer en luister na my kinders. Gesels met hulle. Sit langs hulle. Wanneer ’n vrou mooi lyk in die winkel, sê ek dit vir haar. Ons almal het nodig om te hoor dat ons geliefd is, waardeer word, raakgesien word.

Ek praat met gemak voor mense en vertel my storie. Organisasies en skole nooi my om my lewensverhaal te kom deel.

Ek leef. Vry, lig en dankbaar teenoor alles.

  • Marianda Schlebusch is die projekorganiseerder van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Maria ·

Wow .Amen. Ek glo jou storie God is goed. Dankei vir jou verhaal ek mal daaroor . Jou storie wonderwerke bestaan nog, ja Here gee almal nog 2 de kans nog meer al is ons hardkoppig en laaste een min mense wil nie luister oor DAMEN selfone/rekenaars/tablet nie maak nie tyd met jou gesin en Here nie. Lewe is Kort.

PJN ·

Wat ‘n fantastiese getuienis om te vertel. Ons God wat ons dien is groot, goed en getrou.

OumaLien ·

Respek, respek, respek. So dankbaar jy is OK. Sterkte vorentoe

Christine ·

Jo!! dis met trane in my oe dat ek hierdie wondelike verhaal gelees het, ja so dankbaar vir jou en jou familie dat die Here jou gespaar het en mag jou verhaal ander ook tot ander insigte rakende hulle self bring. Alle voorspoed en seen vorentoe.

Melanie ·

Wow wat ‘n groot getuienis net jammer jy moes dit beleef het.Mens kom nie maklik oor trauma nie.My seun en sy meisie jare terug was aan gehou deur 4.Sal nie uitbrei maar vir meer as ‘n jr kon hulle nie slaap,nagmerries wou nie berading gaan.Dit verander jou lewe ons kon dit sien!Bid ons land verander.

Andre ·

Ek wil niks se nie………………jy het alles reeds gese. Baie sterkte word julle toegewens.

Helene ·

Trane nou geloop. Groot respek. Bly julle is OK. Voorspoed en sterkte vir die pad vorentoe.

Suzette ·

Wow! Met nat oë besef ek net weereens hoe werklik God is en ook al die mooi wat hierdie aaklige ondervinding uit kom.

VanAfrika ·

Daarom voel ek jammer vir die wat God bevraagteken. Die wat glo Hy bestaan nie sonder die besef waaroor ons gaan, wie ons is, wat ons is en waarheen ons padtjie ons uiteindelik gaan lei. Hy het Sy manier om Homself aan ons te manifisteer op verskillende maniere, en met elke krisis en trauma kon jy eers agter dat Hy wel aan jou sy en in jou lewe was al voel dit baie keer nie so nie.
Ek is net baie bly julle lewe en dat jou uitkyk oor jou lewe jou so positief hou. Hou maar die kiddies dop want hulle het ook n trauma wat hulle nou moet verwerk. Die besef dat hulle mamma nou dood kon gewees het en die vrees dat dit weer kan gebeur.
En dank Vader dat die man in die goue Fortuner ook gered is deur God se Genade. Dit kon net so anders vir hom en sy familie gewees het. Hy het ook nou n verhaal om te vertel en mag julle getuienis van krag tot krag gaan en dat baie weer geloof in hul Skepper sal ondervind.

koos ·

Mevrou, ek het nie woorde nie net trane wat vlak in my oë sit.
Jy was baie gelukkig, nie omdat dit jou oorgekom het nie, nee, omdat jy so ‘n naby ontmoeting met God gehad het en nog op hierdie aarde is om daaroor te praat en van Sy werke te kan vertel.
God werk deur jou, net soos Hy deur baie ander werk en gewerk het. Ander “gewone” mense net soos jy, en steeds dink ons God is net bereikbaar deur ‘n predekant of evangelis wat voor duisende mense wil bid, asof God hom aan getalle steur.
God is daar vir elke mens wat voor Hom buig.

ek stem saam ·

Prys die Here,
Hy is Wonderlik en min mense se dankie vir Sy Genade,
Amen
Halleluja Prys die Here

Tresia ·

Ek kan nie anders as om op al die skrywes kommentaar te lewer nie,en ek moet eenvoudig die logika van die gelowiges konfronteer.Ek wil dadelik se ek is ook n gelowige in die God van die bybel. Kan ons net so bietjie die gebeure bekyk ,die vrou was byna dood geskiet of dan nou skrams raak geskiet bloot omdat die skut nie goed genoeg geskiet het nie m.a.w die vrou het haar lewe te danke aan die feit dat die skut swak geskiet het en niks anders nie
Dit se my logika as God verantwoordelik was vir die redding wil hy dan toelaat soms dat mense op die wreedste manier op plase vermoor word en na aanleiding van die gelofte sou hy met die debat toegelaat het dat 182 kindertjies by Bloukrans en Wene vermoor word. Kom ons los die dwepery .
Langenhoven het gese n mens moet bid vir logika en die res behoort jy self te kan uitwerk.

Chantelle ·

Wow. Thank you for sharing your fruit with me today. What a wonderful confession. You are blessed, just like all of us.

Hanlie ·

Amen en Amen. Prys die Here!!!! Dankie vir jou storie – dit is baie inspirerend vir almal.

charmaine ·

Wow. Die storie het vir my voorwaar baie positief gemaak. Ons het inderdaad soveel om voor dankbaar te wees. Die storie het my nou weer aan die dink. Baie dankie vir die deel van die storie. Alle eer aan God. Amen.

Warrior ·

Marianda, jy is ‘n yster vrou!
Jy het ‘n Awesome getuienis. Ken hierdie gevoel, ek was ook geskied in 2014, koeel my hoofslagaar met 2mm gemis. Ek getuig nog al die pad, en is ook nie 1 dag spyt wat gebeur het nie. Alle lof en eer aan ons ABBA VADER!

Dankbare Ou ·

Jis, sit die trane self vlak. Wat ‘n mooi getuienis asook verhaal Marianda. Ek is baie bly dat jy, jou gesin en die Fortuner-man van daardie toneel kon wegstap. Jy het my struikelblok direk aangespreek: “Die lewe gebeur nie eendag as hierdie en daardie gebeur of ‘n boksie afgetik is nie”. Mag jy en jou gesin ‘n ongelooflik Geseënde Kerstyd beleef en weereens dankie dat jy sommige van ons herinner daar is meer as die boksies en dat ons moet leef!!

Lynette ·

Ken die man persoonlik van die Fortuner en ons het Saterdag daaroor gepraat hoe wonderbaarlik julle lewens gered is.

Nuuskierig ·

So wie is die man wie se kar gerol het, waarom het die mense op sy kar geskiet? Wat wou hulle he? Is die skelms gevang?

Amanda ·

Marianda, Prys Sy wonderlike naam. Ons wat so maklik kla moet hierdie storie as inspirasie neem en dit ons lewens uitkyk maak. Die Here is wonderlik. Ek wil graag jou storie deel want ek glo dit is n lewensles sowel as ‘n vreugde verhaal. Alles van die beste vir 2020 en mag jou winkel groei van krag tot krag.

Agter die skerms ·

Marianda, baie baie keer sit ek by die huis en ek wonder wat is my doel op aarde. Wat is God se doel met my – ‘n mens is te geneig om mens self te bevraagteken. Ek is al deur baie – my lewe gered op ‘n spesiale dag in January 2014. En dit is nou 5 jaar later en ek sit hier en tik. God is goed al die tyd en al die tyd is God goed. Mense bevraagteken ons groot en almagtige Vader. Hoe kan hulle Hy is duidelik waaksaam – jy sien Hom heeltyd rondom jou in als wat jy doen – wat jy ervaar. Ek sal verby iemand loop wat sterk staan, kan sien hulle sukkel om te loop en dan vra ek vir God om Sy hand om die persoon te hou want hy werk ten minste. So baie wat ek voor bid. Net dat God Sy groot hand om elke ou mens hou. Lief vir U my God onvoorwaardelik en ek glo glo U het Marianda se lewe gered om met almal te praat en net vir hulle te se U bestaan. Amen

FM ·

Dankie Mariandra. Nou lekker trane gedroog. Heerlik om te weet dat ons in die krag van die Heil Gees onwetend oorwin.

Hennie ·

Jou skrywe het my diep geraak. Jy het ‘n besonderse skryftalent.

Wonder ·

My trane loop
God is so goed
Jy is ‘n bewys van Sy wonderwerke
Jy laat my dink oor my lewe, dankie

Madelaine Jansen van Vuuren ·

My trane loop, ek lees dat sy graag by skole optree en getuig. Sou so graag dat sy by my seun se skool optree. Hierdie is getuienis wat gehoor moet word.

Elmarie Swart ·

Sjoe, dit was nou vir my baie hartseer om te lees. My trane loop nog steeds.
Inderdaad, God is en bly getrou, dankie dat jy Hom al die eer gee.
Die werk wat Hy begin het in jou sal Hy beslis klaarmaak.

Charlotte Pretrius ·

Wat ‘n pragtige storie vol hoop. Iets wat die potensiaal gehad het om baie sleg uit te draai, het in ‘n storie vol genade en hoop verander. ‘n Storie vol inspirasie.

Narina Brits ·

Ek sukkel om die storie klaar te lees deur my trane. So baie bly om te hoor dat julle veilig is en so wonderlik om te weet dat ons Hemelse Vader ons lief het en ons beskerm en altyd ons belange op Sy hart dra, al maak ons Hom baie hartseer en voldoen nie altyd aan alles wat ons moet nie. Ons Skepper is altyd daar vir ons, in slegte en in goeie tye. Laat ons daar wees vir Hom, laat ons volgens Sy Woord leef en by Sy voete bly. Dankie vir hierdie oorvertel van jou voorval, kan dit nie regtig ‘n storie noem nie, want dit is te lewensaangrypend. Ek huil in dankbaarheid dat julle ok is, dat ons Hemelse Vader so groot en goed is. Jou storie gee my weer hoop en laat my weer onthou om elke oomblik van elke dag in dankbaarheid te leef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.