My Afrikaans, jou Afrikaans – ons almal se Afrikaans


Foto: Afrikaans.com

Foto: Afrikaans.com

Afrikaans is ʼn geliefde taal wat deur baie mense van verskeie kulture en dialekte gepraat word, maar dis ook ʼn taal wat nie altyd ʼn positiewe beeld het nie. Dis juis om dié rede dat “Veldtog Afrikaans” van stapel gestuur is – om te wys dat Afrikaans hom nie steur aan ras of kultuur nie, maar dat hy net gepraat, gelees en gevier wil word.

Onder die vaandel van “Veldtog Afrikaans” is ʼn nuwe webwerf genaamd Afrikaans.com geskep – ʼn plek waar jy alles oor Afrikaans kan gaan lees, hetsy ʼn organisasie, projek of fees. Enigiets wat bydra tot die Afrikaanse landskap kan op dié webwerf gevind word.

Milanie Vosloo, projekbestuurder van Afrikaans.com, sê die doel van hierdie projek is om die mooi en die positiewe van Afrikaans uit te lig.

“Wat ons vasgestel het met ons navorsing is dat daar ongelooflike Afrikaanse organisasies en projekte in Suid-Afrika is, maar dat die publiek nie altyd weet waarheen om te gaan wanneer hulle meer inligting soek nie. Afrikaans.com skep ʼn sentrale platform waarheen mense kan gaan wanneer hulle enigiets oor Afrikaans wil weet.

As jy iets wil weet oor feeste, boeke, musiek of onderwys of selfs taal- en hulporganisasies, dan besoek jy Afrikaans.com, en dan lei dié webwerf jou na die betrokke organisasie se webwerf waar jy meer inligting kan kry.”

Milanie sê hulle wil nie die publiek voorskryf oor hoe Afrikaans lyk nie, omdat dit vir elkeen verskillend lyk. Juis daarom is die boodskap van die veldtog: Hoe lyk jou Afrikaans? en word die publiek uitgenooi om deel te neem aan die “Hoe lyk jou Afrikaans”-kompetisie en te wys wat hul roer en raak in Afrikaans.

“Mense kan gedigte, video’s, foto’s of selfs net hul ondervinding met ons deel oor hoe Afrikaans vir hulle lyk – daar is reeds meer as 500 wonderlike inskrywings!”
Besoek Afrikaans.com vir enige inligting wat jy benodig oor Afrikaans. Skryf hier in vir die “Hoe lyk jou Afrikaans”-kompetisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gielie Hill ·

Ek het ‘n webtuiste(Bes.op fb blad) & fb blad Music Free Sheet Music – Afrikaans geopen om meer Afrikaanse bladmusiek beskikbaar te stel (het reeds paar laerskoolkore betrek) Die idee is om digktalent en musiektalent te kombineer. Ek verwerk hul werk in bladmusiek. Ook ‘n liriekrymwoordeboek opgestel(hulpmiddel.) Het reeds Kyknet se steun en vra ook graag julle steun.

MK ·

Baie dankie vir jou webblad. Ek is so opgewonde daaroor. Broodnodig vir ons wat na afrikaanse bladmusiek soek!!!

TrotsAfrikaans ·

Baie dankie! Waardeer en saluut. Mag dit net bly groei.

Fanie ·

Nog ‘n sentrale platform vir Afrikaans? Maroela is dit reeds! Moet julle nie eerder Afrikaans se beeld bevorder nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.