My chroniese avontuur, alles begin met ’n keuse

Janettie Wucherpfennig wys na Everest. (Foto: Sarina Pizzala)

Deur Yolanda Wessels & Camille Wucherpfennig

Janettie Wucherpfennig se diagnose met Ehlers-Danlos sindroom (EDS), definieer haar nie. Inteendeel, sy het in Oktober 2019 vir 12 dae 130 km gestap tot by Everest-basiskamp, aan die voet van die hoogste berg ter wêreld.

Janettie is ʼn Britse Suid-Afrikaner. Sy is getroud met haar sielsgenoot, Jacques, en hulle het ʼn 13-jarige seun, Jamie. Alhoewel hEDS haar geensins definieer nie, speel dit ʼn integrale rol in hoe sy haar lewe leef.

Om Everest met haar eie oë te sien, was nie net ʼn kinderdae-droom nie, maar ook ʼn enorme fisiese en geestelike uitdaging weens haar diagnose. Met Everest op haar “bucket list” wou sy bewusmaking kweek vir EDS en laerskole toespreek oor selfaanvaarding en selfliefde: “dare to be rare”. Haar begeerte was om ʼn boodskap van hoop te versprei.

  • Hipermobiele Ehlers-Danlos sindroom is ʼn genetiese bindweefselsiekte wat veroorsaak word deur ʼn gebrek aan kollageen-proteïen en is deel van ʼn groep seldsame oorerflike toestande wat bindweefsel aantas. Bindweefsel verskaf ondersteuning aan die vel, senings, ligamente, bloedvate, organe en bene. Simptome is: gewrigspyn, chroniese moegheid, duiseligheid, hartkloppings, abnormale kneusing, verteringsprobleme ensovoorts.
  • Posturale ortostatiese hipotensie is ʼn abnormale toename in hartklop wanneer die persoon opstaan.
  • Osteopenia is ʼn verlies aan beendigtheid en verswak die skelet.
  • Osteoartritis is ʼn toestand wat styfheid en pyn in gewrigte veroorsaak as gevolg van die verbrokkeling van beskermende kraakbeen in gewrigte en het pyn, swelling en belemmering van beweeglikheid van gewrigte tot gevolg.
  • Vertebrale arterie disseksie (VAD) is ʼn skeur in die voering van die vertebrale arterie in die nek wat bloedvloei voorsien aan die brein. ʼn Bloedklont kan vorm en lei tot ʼn beroerte.

Daar word medies na Janettie verwys as ʼn “Zebra. EDS is ʼn groep van dertien individuele genetiese kondisies, en elkeen is so uniek soos ʼn sebra se strepe.

Janettie staan op Everest-basiskamp. (Foto: Sarina Pizzala)

Janettie was ʼn sportiewe vrou. In Januarie 2009, tydens Jamie se geboorte, het sy in beide heupe ʼn skeur in die sagte kraakbeen wat die potjie van die heupgewrig omhul opgedoen as gevolg van haar hipermobiliteit. ʼn MRI-skandering het boonop getoon dat sy osteoartritis het waar littekenweefsel gevorm het rondom twee gedegenereerde kussinkies in haar rug, asook ʼn haarlyn stresfraktuur weens ou sportbeserings.

“Uit vrees dat die pyn sou vererger, het ek ophou oefen en in ontkenning geleef. Ná my seun se geboorte het dit gevoel asof my liggaam begin uitmekaar val.” Sy het meer tyd by fisioterapeute en dokters spandeer en was dikwels in die hospitaal vir epidurale pynbehandeling, wat onsuksesvol was. “Dit was asof ek vasgevang was in iemand anders se liggaam. Al my ligamente was styf en seer.”

In 2017 volg een MRI en toets op die ander. “Ek was 39 jaar oud en het erge angsaanvalle gekry. Ek wou nie my huis verlaat nie, want ek was bang dat iets dit gaan ‘trigger’. Ek het baie geleer oor geestesgesondheid en verstaan dat daar soms net nie antwoorde is waarom angsaanvalle gebeur nie.”

In 2018 is sy gediagnoseer met ʼn tweede vertebrale arterie disseksie. Neuroloë kon nie verklaar waarom sy spontane disseksies in haar nek opdoen sonder beserings nie, en veral nie waarom sy dit kry sonder ʼn beroerte nie. “My neuroloog het gespekuleer dat ek dalk Ehlers-Danlos sindroom het en ek is na baie toetse gediagnoseer met Hipermobiele Ehlers-Danlos sindroom, posturale ortostatiese hipotensie en Osteopenia.”

In September 2018, ʼn week na haar diagnose, het Janettie ʼn advertensie op Facebook gesien oor Everest. “Ek het alle hoop laat vaar dat dit ooit moontlik sou wees, maar tyd het stilgestaan toe ek dit lees. Die advertensie het genoem dat portiere die sakke dra, wat die spanning op my gewrigte sou verlig en skielik het ek besef dat dit werklik moontlik was. Ek het so lankal net opgegee, my veggees het deur die jare vervaag, maar ek het geweet dat my droom steeds leef. Dit was tyd om beheer te neem oor my lewe.”

“Ice Falls” is agter Janettie. (Foto: Janettie Wucherpfennig)

Janettie het ʼn blog begin en mense genooi om haar reis te volg met doelwitte, uitdagings, hoogte- en laagtepunte. “Hopelik inspireer dit iemand om nooit hulle drome te laat vaar nie, ongeag die omstandighede.” Sy moes gewig verloor en fiks word. Na 15 jaar se pyn en geen oefening, was dit ʼn groot stap en haas onmoontlik in ander se oë om te doen wat sy wou doen.

Haar afrigter het haar gehelp met voorbereiding. “Ek het presies een jaar gehad voordat ek die uitdaging sou aanpak”. Janettie het gefokus op haar droom, geloof in Jesus en deurgedruk met die oefenprogram ten spyte van pyn. Stadig maar seker het sy sterker geword en al hoe meer geoefen. Teen die elfde maand van voorbereiding kon sy 45 km per week stap en 6 dae ʼn week oefen. Haar spiere was sterk en het haar gewrigte ondersteun.

In Oktober 2019, op 41-jarige ouderdom, het Janettie haar familie vir 21 dae verlaat en na Nepal vertrek waar die Himalajas gelê en wag het. Saam met ses ander vroue, het sy vir twaalf dae deur die Khumbu-vallei gestap tot by die voet van Everest se basiskamp − 5 364 m bo seespieël. “Ek het my knie- en armstutte gedra om my gewrigte in plek te hou en impak te verminder. ʼn Jaar se oefening het die spiere rondom my gewrigte versterk en ek het goed gevoel.”

Die dag het aangebreek. Om te akklimatiseer het hulle vir twee nagte in Namche gebly vanwaar hulle moes stap na Everest se uitkykpunt. “Ek was al vroeg op van opgewondenheid. Ons het tussen bome deurgestap en op ʼn oop grasperk afgekom, daar was sy in die verte, Everest, omring deur die blouste lig. Ek het gehuil van vreugde en verwondering. Ek sal dit verewig onthou. My droom het waar geword.” Op Dag 6 het Janettie ʼn seer keel ontwikkel en begin hoes, wat normaal is vir die hoogte bo seespieël. “Ek het geweldige pyn ervaar wanneer ek hoes. Dit was alles behalwe ideaal, want jy het sterk longe nodig op hierdie hoogte. Ek was gefrustreerd – my gewrigte was nie seer nie, my spiere was sterk, maar my longe het my in die steek gelaat.” Dit was nie hoogtesiekte nie, maar die gevreesde Khumbu-hoes: inspanning, temperature onder vriespunt en lae humiditeit op hoë hoogtes lei tot vinniger asemhaling en die koue, droë lug droog letterlik die voering van die longe en brongi uit.

“Ek is ʼn doelgerigte, kompeterende persoon en sal volhard, maar ek ken ook my beperkinge.” Die laaste 300 m na basiskamp het haar meer beproef as enigiets vantevore. “Die los klippe, rotse en gletserstof was behoorlik ʼn uitdaging. Ek was uitgeput en my longe het gebrand. Ek het teen ʼn rots gaan sit, met Everest wat reg voor my uitsteek agter Nuptse (7 861 m). Ek het in ʼn geestelike berg vasgeloop, ek kon myself nie hier uitpraat nie en ek kon nie opstaan nie. Ek het aanvaar ek het misluk en was gebroke. Toe lees ek my seuntjie se boodskap op my stappale: ‘I love you Mummy Dwag. Jamie’. Skielik was al my gedagtes en emosies onder beheer en het ek geweet, ek doen dit nie net vir myself nie, maar vir my familie, vriende, Facebook-volgelinge en elke ‘Zebra’ wat sukkel met EDS.

(Foto: Janettie Wucherpfennig)

Ek het opgestaan en die laaste 300 m gestap tot op Everest-basiskamp. Ek kon die gletser onder my voete sien, die “Ice Falls” reg langs my, en ek staan in ʼn amfiteater van magiese berge wat my omring. Asemrowend. Ek loop oor van vreugde.”

Gedurende die nag het haar suurstofvlakke drasties geval en het sy die keuse gehad om per helikopter ontruim te word. Sy het reeds erg brongitis gehad en net twee ure per nag geslaap. “Ek het besluit dat ek voortgaan. My gids was seker dat ek die drie dae stap terug na Lukla kon doen, want met die afkomslag verbeter jou suurstofvlakke. Ek het ook geweet dat dit die ergste deel vir my gewrigte sou wees, maar ek het dit gedoen!”

Terug in Engeland en die opgewondenheid, ʼn hele jaar se opbou, blogs skryf, onderhoude en toesprake was iets van die verlede. “My liggaam het begin ingee, want die oefenprogram ter voorbereiding was nie volhoubaar nie. As ek terugkyk, weet ek dit was net genade dat ek EBC kon bereik sonder enige buitengewone besering of ontwrigting. Ek glo God het ʼn plan vir elkeen van ons en Hy het heelpad my hand vasgehou.”

(Foto: Janettie Wucherpfennig)

Tydens grendeltyd is ʼn nuwe droom gebore: Zebra Adventures. “Ek is lief vir reis en my passie is om dames van alle ouderdomme te help om hulle waarde te besef – hulle is meer as net mammas, beroepvrouens, getroud, geskei of enkellopend. Ons is baie lief vir Suid-Afrika, al woon ons in Engeland. Ek en Jacques het 17 jaar gelede met twee rugsakke op Heathrow geland om te kom werk en toer vir twee jaar, maar ʼn permanente aanstelling later, is Croxley Green nou ons huis.”

“My hartsbegeerte is dat elke vrou sal besef wie sy is en die outoriteit waarmee sy kan leef. Dis wanneer ons besef wie ons is dat ons berge kan versit – of klim.” Zebra Adventures is ʼn boetiek- toeroperateur wat spesialiseer in vrouetoere na Suid-Afrika – ontwerp deur vroue vir vroue.

“My wonderlike vrouegids, Liezel de Klerk, is passievol en bied ʼn onvergeetlike ervaring op ons toere. Tydens die 12-dae kulinêre-, kultuur- en avontuur-toere spandeer ons vyf dae in die  Kaap, twee dae in die pragtige Kaapse wynlande en drie dae op safari in die Tuinroete. Ons waarborg jou die ondervinding van ʼn leeftyd.”

Janettie en vele ander veg saam vir ʼn oplossing vir EDS. “Gelukkig pak ek altyd die bul by die horings, al is sommige dae moeiliker as ander. Droom groot en verwag altyd dat iets ongelooflik om die draai lê!”

(Foto: Janettie Wucherpfennig)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.