My liefdevolle taalpad met Afrikaans

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Deur Karien van Hüyssteen

Ma Jettie, ʼn nooi Nel van die Vrystaatse dorpie Marquard, was ʼn kompulsiewe leser en ʼn boekliefhebber. Ek het grootgeword met baie meer boeke as klere en kon lees voor ek skool toe is.

Afrikaans en Zoeloe is in ons huis gepraat en so word ek met twee “taaltonge” groot. By my ouma Ellen het ek stories van die Boereoorlog en die Rebellie in ou Afrikaans en vloeiende Zoeloe gehoor. Pa Nico het vir baie jare knap voorsittersredes en heildronke in Hoëveldse Afrikaans op vele podiums laat opklink. By oupa Carel Nel leer ek dat ʼn mens manne wat “olike poeiers” is, ten alle koste moet vermy.

Vele verhale uit ʼn wye reeks temas, gereformeerde kerktaal “met harp- en sitertone”, patriotiese FAK-wysies en kotiljonswoorde het ʼn lêplekkie in my plaaskindbinneste kom kry. Vandag is ek die vaardige vertalers van Albertyn & Spies se Kinders van die Wêreld ewig dankbaar dat ek om die aardbol en terug kon reis en ander tale, verhale en bestemmings in ons eie voorhuis én in Afrikaans kon beleef. So kon ek menige bibberbeen-en-rooitoon-wintervakansie in die Memel-distrik oorleef.

Aan die voet van Harrismith se Platberg en in die lesingsale van Kovsies ontdek ek familielede van die taal van my hart in die klasse van fassinerende opvoeders – Duits, Nederlands, Suid-Sotho en, ten spyte van my noue familieverbintenis met genl. De Wet, bemeester ek selfs Engels. Ek ontdek verder dat hierdie taalgenote nie die plek van leef, droom en bid in my taal minder maak nie, maar vermenigvuldig – ʼn wiskundige berekening wat vir my Grieks is, maar in taal logies is. Hoekom klink taal skielik so vroulik?

Op die walle van die Vaalrivier verras die onderwys my vir twee jaar in bekende plattelandse Afrikaans – “Die bul is gerehabiliteer nou is hy ʼn os” (beweer die toenmalige hoofseun) en ek wonder so in my stilligheid hoeveel skade ek dalk in my jeugdige voortvarendheid met Jan Rabie se Drie kaalkoppe eet tesame en ander “moderne” verhale uit die Tydskrif vir Letterkunde aan onskuldige jongelinge aangerig het.

Toe verruil ek mielielande vir vis en beland aan die Weskus – totaal uit my vaarwater met ander tonge en aksente wat my vir lang tye verwar en laat wonder waar die reguit Afrikaans van my kinderjare is. Ek hoor van nette wat “eietyd gesim” word en die heelmakery vind onmiddellik plaas; van die wind wat “joppels” op die seewater maak en van bokkoms en elfies wat glad nie na feetjies lyk of ruik nie. En boonop het kinders “geite” en “sy” kan selfs ʼn “hy” wees sonder enige ingrypende operasies. ʼn Mens kan ook by die winkel “provisie” met ʼn “notisie” gaan koop terwyl jy in jou “trekshoet” geklee is. En… “nee” is nie net ʼn ontkenning van iets nie – dit kan vloek én seën as dit moet! Ai, my mieliepap-Afrikaans krummel in my mond, maar kry gaandeweg geure en kleure, gesigte en wysies wat polkadraai en die askoek trap binne die verengelsde militêre omgewing met sy rigiede hiërargie waarin ek my toe later bevind. In die gange praat ons steeds Afrikaans, maar elke brief en lesing is pure Brits. Dit laat my naarstiglik by die naaste leeskring aansluit om asseblieftog net my moedertaal, Afrikaans, te sien en te hoor.

In ʼn tyd van skade en verlies sit woorde, baie woorde – raaswoorde, huilwoorde, losmaakwoorde, omgeewoorde, luisterwoorde en heelwordwoorde – my weer stuk vir stuk aanmekaar. En op ʼn dag weet ek ʼn verstand wat ʼn nuwe ervaring in watter taal ook al beleef het, kan nooit weer na sy oorspronklike vorm terugkeer nie.

ʼn Winterliefde verwarm weer die hart en sinne met hande- en hartevol woorde. Twee dekades later hoor ek dikwels hoe my Gryserige Ene hierdie Langenhoven-woorde vir die braaivuur aanhaal: “Die vrolike vlam wat klap en kraak // Is hy wat sy taak vermaaklikheid maak // En sy swaarkry met lekkerkry klaarkry” en die Kaapse winter word keer op keer met die hele “Winternag” van N.P. van Wyk Louw verwelkom.

Dalk is die Hoërskool Melkbosstrand die voorlaaste aandoenpunt op my taalpad: ʼn vorige-eeuse taaljuffrou vir ʼn nuwe skermgenerasie is tegelykertyd bitter bekend en uitdagend. Dit neem die spreekwoordelike drie weke (vir gewoond raak aan nuwe dinge) vir hierdie gesiggies om net my taalgebruik te begryp!

“Dink Juffrou aspris moeilike woorde op pad skool toe uit om ons te kom verwar?” wil ʼn matriekspiertier op een van sy skaars besoeke aan my klas weet. Eintlik was dit sý buitenissige opstelle wat mý totaal verwar het.

ʼn Liefmeisiekind is op ʼn dag baie verlig dat sy vir my kan verduidelik wat “halsstarrig” beteken: “Juffrou, Mamma het net gisteraand vir my gesê: ‘My kind, haal starig asem en dan probeer jy weer!”

En so roei en stoei ons met nogal ʼn paar onderskeidings jaarliks deur matriek, totdat ek op ʼn dag van ʼn finalejaaronderwysstudent ʼn WhatsApp kry: “Juffrou is mos my liefste taalmamma!” En my beker is kant en wal.

Tik my beiteltjie nog aan die taal-stalagmiete en -stalaktiete wat oral op sosialemediaplatforms hulself staanmaak en hangmaak? Tik sal ek tik totdat ten minste tien mense “op pad” reg spel en een van die twintig heerlike Afrikaanse sinonieme vir “awesome” gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mauritz

Lekkerlees!

maria

Aaaaaaaa ek sal graag wil sien dat elke skool so ‘n Afrikaanse juffrou in die skool laat tuis word. Dit is mos nou ‘n juffrou wat ‘awesome’ (tong in die kies) afrikaans kan praat. So reg na na hierdie ouma se hart.