Mylswemmers laat spat vir liefdadigheid

Calvin-en-Tiaan-Midmar-2016

Calvin van Niekerk (links) en Tiaan Eksteen (regs). Foto: Verskaf.

Na raming is R200 000 die afgelope naweek tydens die Midmarmyl in Howick, Kwa-Zulu Natal, deur ʼn groep van 22 swemmers ingesamel vir die Princess Charlene of Monaco-stigting.

“Ons is baie trots daarop om een van die Midmarmyl se liefdadigheidsbegunstigdes te wees,” sê Dominique Donner Rodd, ʼn verteenwoordiger van die stigting in Suid-Afrika.

Die stigting, wat hom meestal fokus op die belangrikheid van waterveiligheid, is in 2012 op die been gebring deur prinses Charlene van Monaco en haar man, prins Albert. Prinses Charlene is ʼn voormalige swemmer en het in 2000, as Charlene Wittstock, Suid-Afrika in die Olimpiese Spele in Sydney, Australië, verteenwoordig.

Sowat 15 000 swemmers het tydens vanjaar se byeenkoms die waters trotseer. Hoewel baie van die swemmers elke jaar van die geleentheid gebruik maak om hul persoonlike doelwitte te bereik, is daar ook baie wat tydens die byeenkoms die tyd en voorbereiding benut om hul kant vir liefdadigheid te bring.

Calvin van Niekerk, ʼn swemmer en kranige sportman, vertel hoe hy deel geword het van die span wat dié stigting verteenwoordig het. “Ek moes aansoek doen om te swem vir ʼn liefdadigheidsorganisasie deur die 8 Mile Klub. Die idee van die 8 Mile Klub is dat ʼn 8 Mile-swemmer aan al agt bene van die byeenkoms moet deelneem. Jy swem dus die myl agt keer oor twee dae om geld in te samel,” verduidelik hy.

Volgens Calvin was die keuringsproses streng. “Ek moes ʼn CV stuur waarin ek aangedui het dat ek al aan verskeie sportbyeenkomste soos die Iron Man-byeenkoms en ook al ʼn 4 keer vantevore aan die Midmar deelgeneem het,” sê hy. “Jy moet uiteraard baie fiks wees om deel te wees van die 8 Mile Klub, omdat jy so dikwels die myl moet kan swem.”

“Elke swemmer moet ʼn minimum van R10 000 insamel vir die organisasie aan wie hy toegeken word,” vertel hy. “Die Princess Charlene of Monaco-stigting is aan my toegeken, en ek kan nie blyer wees daaroor nie. Hulle doen wonderlike werk.”

“Ons leer mense van oor die hele wêreld oor water – die voordele en nadele van water en hoe om naby water op te tree. Ons bied ook swemlesse vir minderbevoorregtes omdat swemlesse meestal as ʼn luukse en nie as ʼn noodsaaklikheid geag word nie,” sê Dominique.

Nog ʼn lid van die 8 Mile Klub, Tiaan Eksteen, is ook gekies om deel te neem vir die Princess Charlene of Monaco-stigting. “Dit was vir my belangrik om nie net vir myself te swem nie, maar ook om iets terug te gee daardeur,” vertel hy. “Sportontwikkeling is so belangrik, veral vir kinders. As ek kan help om dit te bevorder, is ek gelukkig. Deur sport leer ken kinders nie net hulself nie, hulle leer hoe om doelwitte te stel en hard te werk om hul mylpale te bereik.”

“Die stigting kan nog nie nou al bevestig presies hoeveel geld ingesamel is tydens die naweek se byeenkoms nie omdat die swemmers nog tot einde Februarie tyd het om hul eindgetal deur te gee,” sê Dominique.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.